Resepte

Steak met groentesous

(2 porsies)

  • 2 steaks van jou keuse
  • sap van 1 suurlemoen
  • 30 ml olyfolie
  • 250 g repiespek (streaky bacon)
  • 15 klein piekeluitjies
  • 3 wortels, in blokkies gesny
  • 1 selderystok, in blokkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 3 tamaties, in blokkies gesny
  • 250 ml rooiwyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 5 ml droë gemengde kruie

Plaas die steaks in ’n bak en gooi die suurlemoensap oor. Laat die steaks staan terwyl jy die groentesous maak: Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die spek vir sowat 10 minute tot bruin. Voeg die uitjies by en braai verder vir 10 minute totdat die uie effens begin verbruin. Gooi die wortels, seldery en knoffel by en braai vir nog sowat 10 minute. Voeg nou die tamaties en rooiwyn by. Geur met sout, swartpeper en kruie. Laat oop prut totdat die wyn byna afgekook het. Verhit ’n riffelpan en braai jou steaks tot so gaar as wat jy dit wil hê. Sit voor met die groentesous bo-oor.