Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS AUGUSTUS/SEPTEMBER 2014

Resepte

Steak tartare met tjips

Steak tartare is rou steak wat baie fyn gekap word. Op ons eerste dag in Parys het my tweeling-dogters, Anya en Mia, dit bestel. Ek het dit al geëet, maar hierdie keer was daar mayonnaise by – wat dit nog lekkerder gemaak het. Hier is my weergawe daarvan.

Genoeg vir 6
• 450 g sirloin-steak (beeslende)
• 10 ml Dijon-mosterd
• 2 ansjovisfilette, fyngekap
• 10 ml tamatiesous
• 10 ml worcestersous
• sowat 4 druppels Tabasco-sous
• 10 ml brandewyn
• ½ rooi-ui, fyngekap
• 15 ml kappertjiesade, fyngekap
• 4 baba-agurkies, fyngekap
• 20 ml romerige mayonnaise
• varsgemaalde swartpeper
• 30 ml fyngekapte pietersielie
• 750 ml sonneblomolie
• 60 ml eendvet
• 1 kg bevrore tjips

Sny al die vet aan die steak af. Plaas vleis op kombuispapier en maak toe met nog kombuispapier. Die papier sal al die vog uittrek. Laat staan tot dit kamertemperatuur bereik. Sny steak nou in repe en kap baie fyn met ’n skerp mes. Gooi vleis in mengbak en voeg mosterd, ansjovisfilette, tamatiesous, worcestersous, Tabasco, brandewyn, ui, kappertjiesade, argurkies en mayonnaise by. Meng goed en geur met peper. Voeg fyngekapte pietersielie by. Verkoel in yskas terwyl jy tjips maak. Verhit olie en eendvet saam in ’n diep kastrol. Gooi bevrore tjips (nie alles gelyk) in warm olie. Braai tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier en hou warm terwyl jy die res van die tjips braai. Geur met sout. Sit gereg voor met snye geroosterde Franse brood.