Twee-keer-kook-hoender

Twee-keer-kook-hoender

Middel van die week

Twee-keer-kook-hoender – maklik in die mikrogolf en vinnig op die kole

Nie lus om agter die kospotte te staan ná ’n lang dag nie? Steek ’n vuur aan, drink ’n lekker glas wyn saam met die familie en maak hierdie smul lekker hoender vinnig tussendeur.

genoeg vir 6

• 500 ml laesout-sojasous
• 500 ml beesaftreksel
• 2 heel steranys-peule
• 30 ml heuning
• 60 ml bruinsuiker
• 2 lourierblare
• sap en skil van 2 suurlemoene
• 2 brandrissies, gehalveer
• 1 cm vars gemmer, fyngerasper
• 6 hoenderporsies (dye en boudjies)
• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas al die bestanddele behalwe die hoender, sout en peper in groot mikrogolfbestande bak – dit moet groot genoeg wees sodat jy die hoender later kan insit. Stel mikrogolfoond op Hoog en verhit die sojamengsel vir 5 minute. Voeg hoenderporsies by en kook vir nog 12 minute.

Haal uit mikrogolfoond en los in marinade terwyl jy warm kole gereed kry. Plaas hoenderporsies velkant na onder oor warm kole en geur goed met sout en peper. Braai sowat 5 minute per kant of tot goudbruin en heeltemal gaar. Sit voor met slaai van jou keuse.