sk08_3pasta03
Pasta

Varkvleis-frikkadelle met tamatie-sous

(4 porsies)

  • 500 g varkworsies
  • 100 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 blikke tamaties (400 g elk)
  • handvol vars basiliekruid, in stukke gebreek
  • 200 ml goeie rooiwyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 300 g gemelli-pasta
  • 100 g pecorino-kaas of parmesaan-kaas, gerasper
  • ekstra vars basiliekruid, om bo-oor te sprinkel (opsioneel)

Verhit jou oond tot 180 °C. Druk die vleis uit die worsies. Vorm klein balletjies daarvan, effens groter as ’n R5-stuk. Gooi so 50 ml van die olyfolie in ’n oondbak en sit die frikkadelle daarin. Rooster in die oond vir so 15 minute tot gaar. Hou eenkant warm. Verhit intussen die res van die olyfolie in ’n kastrol. Braai die ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg die tamaties, basiliekruid en rooiwyn by. Geur met sout en swartpeper en prut oop vir so 45 minute tot dik. Kook die gemelli-pasta volgens die aanwysings op die pak en dreineer. Plaas die frikkadelle in die sous en hou warm op lae hitte terwyl die pasta kook. Sit die sous-en-frikkadelle op die pasta voor, met gerasperde kaas. Sprinkel vars basiliekruid oor as jy wil.

 

Wenk
Vir ’n ryker sous, voeg sowat 100 ml room by die sous ná so 30 minute se prut.

 

Om te drink
Nog ’n SA kelder wat speel met Italiaanse kultivars is Idiom. Probeer hul Nebbiolo.