Foto's deur Micky Hoyle

Resepte

Varlvleiskerrie met byt

GENOEG VIR 4

• 900 g varkfilet
• 5 ml fyn komyn
• 4 kardemompeule
• ½ kaneelstok
• 5 peperkorrels
• 1 groen brandrissie
• 2,5 ml fyngekapte vars gemmer
• 4 knoffelhuisies, fyngekap
• 45 ml suurlemoensap
• 2 uie, in blokke gesny
• 60 ml sonneblomolie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 groen brandrissies, in die lengte oopgesny (nie dwarsdeur)
• vars koljander

Sous
• 5 knoffelhuisies
• 5 ml fyn borrie
• 3 tamaties, in blokke gesny
• 40 ml droë brandrissie-vlokkies
• 45 ml witwyn-asyn

Sny varkfilette in dik skywe. Plaas in groot mengbak. Plaas komyn, kardemompeule, kaneelstok, peper en brandrissie in koffiemeul. Maal tot fyn. Gooi mengsel in bakkie en voeg gemmer, knoffel en suurlemoensap by. Meng goed deur en vryf mengsel oor varkvleis. Maak
bak toe met kleefplastiek en plaas in yskas vir 1 uur. Maak intussen die
sous: Plaas knoffel, borrie, tamaties, brandrissie-vlokkies en asyn in voedselverwerker. Verpulp tot glad. Haal vleis uit yskas en gooi sous oor vleis. Meng goed deur. Maak bak weer toe met kleefplastiek en plaas terug in yskas. Laat marineer 6 uur. Verhit oond tot 180 °C. Kap uie baie fyn in voedselverwerker. Verhit sonneblomolie in ’n oondvaste kastrol. Voeg uie by en braai tot sag. Haal vleis uit yskas en voeg by. Geur met sout en peper. Braai sowat 10 minute bo-op stoof. Voeg oopgesnyde brandrissies by en maak kastrol toe met deksel. Plaas in oond en oondbraai sowat 1 uur tot vleis sag is. Haal uit en garneer met vars koljander en nog varsgemaalde swartpeper. Sit voor saam met brood, lemmetjie-atjar, kerrie-brandrissies en komkommer-en-jogurt.