sk1003rooibos04
Resepte

Volstruisfilette met rooibos-en-framboos-sous en gebreekte aartappels

  • 500 g volstruisfilette
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 50 ml olyfolie
  • 250 ml rooibostee
  • 40 ml bruinsuiker
  • 10 ml mielieblom, aangemaak met 50 ml van die rooibostee
  • 250 g bevrore frambose

Verhit oond tot 180 °C. Geur filette met sout en swartpeper. Verhit olyfolie in ‘n pan en braai filette tot bruin aan elke kant. Plaas op bakplaat uitgevoer met tinfoelie (blink kant na onder)
en oondrooster vir 15 minute. (As jy van gaarder vleis hou, kan jy die filette vir nog 10 minute gaarmaak.) Haal uit en laat rus. Gebruik pan waarin vleis gebraai is en voeg tee en suiker by. Roer totdat al die suiker opgelos is. Voeg mielieblom-mengsel by en kook vir 5 minute tot verdik. Voeg bevrore frambose by en kook vir nog 2 minute. Hou eenkant. Sny vleis in dun skywe en skep sous oor. Sit voor met gebreekte aartappels.

Gebreekte aartappels

Dit lyk na baie olyfolie, maar dit trek alles in die aartappels in.

  • 700 g Mediterreense aartappels
  • 200 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 30 g vars roketblare, grofgekap

Kook aartappels tot net sag. Gooi water af. Breek aartappels met ‘n vurk en gooi olyfolie onmiddellik oor. Geur met sout en swartpeper en roer roket deur.