Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS Augustus/November 2014

Resepte

My weergawe van choucroute

Varkvleis en worse word saam met suurkool gekook om hierdie gereg te maak. Ek maak ’n eenvoudiger weergawe.

Genoeg vir 6
• 1 ui, fyngekap
• 1 x 810 g-blik suurkool
• 2 wortels, skoongeskraap en in blokkies gesny
• 2 lourierblare
• 8 jenewerbessies
• 6 gerookte varkliesrepe
• 200 ml witwyn
• 100 ml water
• 3 aartappels, geskil en gehalveer
• 30 ml olyfolie
• 6 Toulouse-worse of goeiegehaltevarkworsies/bockwurst

Plaas helfte van ui in ’n groot kastrol. Skep helfte van suurkool bo-op en maak seker dis mooi versprei oor die bodem van die kastrol. Skep wortels, lourierblare en jenewerbessies bo-op. Pak varkliesrepe bo-op en dan res van suurkool en gekapte ui. Voeg wyn en water by. Maak kastrol toe met deksel en plaas op lae hitte op stoofplaat. Laat prut 1½ uur. Pak aartappels bo-op en maak kastrol weer toe. Laat prut nog sowat 30 minute of tot aartappels sag is. Verhit olie in ’n pan en braai worse tot gaar. Skep alles op ’n opdienbord en sit voor saam met Dijon-mosterd.