Sjokolade-rooiwynkoek
Foto’s: Micky Hoyle
Met al die speserye in die koek ruik dit soos Kersfees. Ek dink die koek sal heerlik wees vir Paasfees, veral met die donkersjokolade in. (Donkersjokolade en rooiwyn is immers goeie pasmaats.)
(6 - 8 porsies)
- 125 g (135 ml) ongesoute botter
- 125 g (150 ml) strooisuiker
- 2 eiers
- 150 ml rooiwyn (cabernet sauvignon)
- 125 g (225 ml) koekmeel
- 5 ml fyn kaneel
- 1 ml fyn naeltjies
- 5 ml kakao
- 5 ml bakpoeier
- 100 g donkersjokolade (70 % kakao-inhoud), gerasper
Verhit oond tot 170 °C. Maak seker die oondrak is in die middel van die oond. Smeer of spuit 'n 25 cm-ringpan. Room botter en suiker tot lig en romerig. Voeg eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg rooiwyn by en klits goed - moenie bekommerd raak nie, want die mengsel gaan skif. Sif meel, kaneel, naeltjies, kakao en bakpoeier saam. Voeg droë bestanddele lepel vir lepel by bottermengsel en meng goed. Vou gerasperde sjokolade in. Skep mengsel in koekpan en plaas in oond. Bak vir 40 minute. Toets met dun pennetjie om seker te maak die koek is gaar. Keer koek versigtig uit en laat afkoel. Was die koekpan sodat jy dit weer kan gebruik vir die stroop.
rooiwynstroop
- 50 ml water
- 30 ml strooisuiker
- 125 ml rooiwyn (cabernet sauvignon)
Gooi water en suiker in kastrol en bring tot kookpunt. Voeg wyn by. Gooi in koekpan en plaas koek terug in pan sodat die stroop goed kan intrek. Wanneer stroop ingetrek is, keer uit en sit voor saam met bosbessie-jellie.
- Assistent Melissa Pecoraro
Verwante artikels
-
Engelkoek
SARIE - Maart 2011
Dié koek word net van eierwitte en meel gemaak. Dis baie lig en delikaat.
-
Jou nommer 1- sjokoladepoeding
SARIE KOS Junie/Julie 2011
Die Bar-Ones maak dié poeding ekstra lekker.
-
Klapper-en-sjokoladekoek
SARIE - Desember 2010 | Kommentaar: 1
Ek het die koek leer bak toe ek nog geswot het. Ek gee dit hier my eie kinkel. Dis baie maklik om te maak.
-
Sjokolade-plaatkoekies
SARIE - Maart 2011
-
Suurlemoen-meringuekoek
Suurlemoentert is altyd ’n gunsteling. Hier maak ek ’n koek en ’n tert een.
-
Witsjokoladekoek met kersies
SARIE - Maart 2011
Jy kan die koek in 'n hartvormige pan bak.












Kommentaar