time safe
Kos

Kook slim en spaar tyd – nr. 6 gaan jou lewe verander!

Ons waardevolste bate in die moderne lewe is tyd. Ons beplan, soek kortpaaie en dink slimmer om seker te maak elke minuut van die dag tel en word ten volle benut.

Die kombuis is vir baie mense vreesaanjaend en ek hoor gereeld “dit neem te lank, ek maak nie kos nie”. Hier is 6 slim planne om jou tyd te spaar in die kombuis!

1. Moenie skil nie!

Hierdie is die nommereen-wenk om tyd te spaar sowel as om gesonder te lewe: moenie al die groente wat jy kook, skil nie. Dit neem tyd én jy verloor baie geur en smaak wat in die skil vasgevang is. ’n Groente soos wortels se skil is so dun, jy hoef dit net onder lopende water te was en miskien liggies met ’n borsel te skrop. Dieselfde geld aartappels en beet.

2. Kook een keer en eet baie kere

Wanneer jy jou week se spyskaart beplan, dink aan geregte wat jy meer as een keer kan eet. Maak bv. Maandag ’n groot pot bolognese-sous en gebruik dit dan deur die week vir aandete: op pasta, as vulsel in omelet, op rys, vir toebroodjies en selfs vir ’n anderste hamburger. Jy was eenkeer skottelgoed en jy het 5 heerlike etes die res van die week.

3. Kook in een pot

As jy min tyd het, is daai geliefde eenpot-wenner jou beste maat. Hier is my raad: Kry 4-5 eenpot-resepte wat jy weet trefferd is en hou die bestanddele altyd in jou kas en vrieskas. Wanneer jy vinnig ’n ete moet regkry, kan jy een van jou geliefde resepte naderskraap en kook!  Kry my gunstelinge hier.

4. Maak skoon soos jy kook

Jy mors baie tyd as jy al jou skottelgoed laat staan tot die laaste minuut – ja, ek self is skuldig hieraan. Was die skottelgoed soos jy kook of, nog beter, vra iemand om saam met jou te kook sodat hy jou help opwas soos julle aangaan. Jy sal verbaas wees hoe lekker dit voel as daar aan die einde van die kosmaak niks skottelgoed oor is nie.

5. Gebruik jou mikrogolfoond 

Die mikrogolf is jou vriend en jy kry baie goeie resultate as jy dit reg gebruik. Mikrogolfkos hoef nie vaal en vervelig te wees nie. Kook konfyt, bak poeding of stoom selfs jou rys daarin. Dit spaar baie tyd en krag! Hier is my gunsteling-mikrogolf-resepte.

6. Braai in jou broodrooster

Ons dekorredakteur Anita Rossouw het hierdie wenk met my gedeel ná ek haar gevra het hoe sy tyd spaar: “Ek braai graag my spek en wors in my toeklap-broodrooster. Nie net spaar dit my die moeite om dit om te draai in die pan nie, maar dit spaar my baie krag en skottelgoed was.” Ek gaan hierdie wenk beslis gebruik!