Kosstories

Nuttige gebruike vir asyn

Skoonmaakmiddels se skerp reuk laat soms jou neus brand en jou hande so grof soos grond voel. Ongelukkig het ons dit nodig. Maar het jy geweet sommige van dié middels bestaan uit 90% water en hul hoofbestandeel is dikwels asyn? 

Hier’s ’n paar nuttige gebruike vir asyn:  

Strykyster

Jou strykyster stoom nie meer so lekker nie en dit lyk of die gaatjies verstop is. Asyn is jou antwoord! Gooi die watertenk sowat ’n derde vol met wit asyn en skakel die strykyster aan. Plaas dit oor ’n draadrakkie, hou die stoomknop in en tel tot 5, los die knop en hou weer die stoomknop in. Herhaal 5 keer. Spoel die tenk daarna goed uit.

Leerskoene

Meng 250 ml water met 250 ml asyn in ’n bakkie. Neem ’n sagte lappie, doop dit in die mengsel en vryf jou leerskoene blink.

Glastafels/stortdeure

Só maak jy jou eie skoonmaakmiddel: Gebruik gelyke hoeveelhede water en asyn, ’n paar druppels suurlemoensap vir geur en twee druppels koskleursel. Gooi in 'n plastiekhouer met ’n spuitkop en skud baie goed. Maak skoon soos normaalweg.

FOTO Designed by Freepik

Onkruid

Ja, jy lees reg! Asyn vernietig onkruid. Neem skoon asyn en gooi dit oor die area waar onkruid groei. Wag ’n dag of twee en verwyder dan die dooie onkruid.

Sleutelbord

Neem ’n sagte lappie en drup ’n klein bietjie asyn daarop. Skakel die toestel af en vryf die sleutelbord skoon. Gebruik ’n oorstokkie met asyn vir die kleiner areas.

Tandeborsel

Raak ontslae van al die bakteriëe deur jou tandeborsel vir 30 minute in asyn te plaas.

Skimmel (mold)

Raak onslae van skimmelgroei in klam areas soos die dak of mure van die badkamer. Meng 10 ml asyn, 5 ml koeksoda en 125 ml louwarm water. Roer tot koeksoda opgelos is. Was die aangetaste area en vryf droog met ’n skoon lap.