sk1007peter1
Kosstories

3 generasies gesels boerekos

Wat is jou gunsteling-bredie en hoekom?
Peter
Ek is mal oor kweperbredie. Wanneer die eerste koue kom en die Bolandse akkerbome hul blare laat val…dis dan dat jy kos soek om jou te koester. Kwepers is ook altyd die laaste ding wat aan die bome hang. Bredie is ‘n voorspel tot die winter. Dis belangrik om bredie lank en stadig te kook, of soos die oumense sê: Dit moet loop. Leipoldt het gesê as jy ‘n bredie maak van groente of vrugte moet die twee ineengestrengel raak – jy moenie kan sê hiér is die vleis en hiér is die ander een nie. Wanneer jy kweperbredie maak, moet jy eers die kwepers met skil en al bak voor jy dit kook.

*Besoek www.sarie.com vir Peter se kweperbredie-resep.

Barbara Toe ek ‘n Leipoldt-storie gedoen het, het ek ‘n tamatiebredie ontwikkel met vinkel en koljander. Dit het my gunsteling naas waterblommetjiebredie geword.                                    
Herman
Sonder enige twyfel is ek mal oor groenboontjiebredie. Sodra die winter aan ons deur kom klop, verlang ek dadelik na my ma se groenboontjiebredie met sy amper té sterk pepersmaak.
(Sien Herman se volstruisvleis-en-boontjiebredie.)

Maak jy jou geregte opdie tradisionele manier-of met ‘n twist?
Peter Altyd met ‘n twist! Tyd staan nie stil nie, bestanddele verander, smaak verander, mode verander, óns het verander. Die spektrum van smaak het breër geraak, maar dis baie belangrik om die smaak van die oorspronklike kos te behou. Jy moet die punt bereik waar smaak in perfekte balans kom.
Barbara Ek bly by die tradisionele manier van boerekos maak. Dit moet behoue bly. Natuurlik kan daar ‘n twist bykom, maar vir my bly die ou manier die lekkerste.
Herman Ek is verlief op alles wat Afrikaans is en deel van ons kultuur vorm. Omdat ek jonk is, wil ek seker maak dit bly bestaan deur dit nuwe lewe te gee. My motto is altyd: Sonder die oue sal daar geen nuwe kan wees nie.

Die een bestanddeel waarsonder jy nie kan kook nie?
Peter Botter, room en suurlemoen. In daardie volgorde. Ek kan sonder wyn regkom, maar nie sonder botter nie. Ek weier om met margarien te kook. Daar is net een keer in die kookkuns wanneer jy margarien mag gebruik, en dis wanneer jy vis perfek wil panbraai. Botter brand te gou.
Barbara Ons klink almal nou dieselfde, maar botter is ook my eerste keuse, en dan kom die wyn. Ek is veral mal daaroor om met rooiwyn te kook.
Herman Regte botter en room maal 10! Ek kan nie genoeg van die twee kry nie. Soos Julia Child gesê het: Botter maak altyd alles beter!

Watter gereg wat jou ma vir jou as kindgemaak het, is jougunsteling? Peter My ma het ‘n Charlotte Royal (‘n gestolde nagereg) gemaak dat die hele dorp se oë uitgehang het. Sy het dit met aspiek gedoen en nie met jellie nie, soos sy by die Franse sjefs in Muizenberg geleer het. My ma was ‘n ongelooflike kok.
Barbara My ma het nie eintlik poeding gemaak nie, maar haar broodpoeding met meringue bo-op was die beste – seker omdat ons so min poeding gekry het!
Herman As ek aan my ma dink, proe ek dadelik haar pampoenkoekies met karamelsous. Niks in hierdie wêreld is so lekker nie.

Van watter SA gereg of produk hou jy niks nie?
Peter Soppoeier en swakgehalte-cheddarkaas.
Barbara As kind was ek mal oor afval – veral die harsings. Vandag eet ek nog die harsings, maar die afval het te ryk geword vir my. Die ander ding is basaar-jelliepoedings.
Herman Skaapkop. Waar ek vandaan kom, in Upington, praat die mense mos van smileys. Dis een te veel vir my!

Daar was ‘n tyd toe almal net Italiaans of Frans wou kook. Hoekom dink jy is daar ‘n terugkeer na boerekos?
Peter ‘n Afrika-kultuur is besig om die Westerse kultuur in Suid-Afrika te vervang. Skielik het dit vir die mense meer waarde en hulle besef wat ons eintlik prysgee ter wille van die nuwe SA. As ‘n krimpende kultuurgroep is dit duidelik dat Afrikaners bang is ons verloor ons koskultuur. Ons waardeer weer wat ons het. Dis ‘n bewussyn en waardering van wat eie aan ons mense is. En ‘n besef dat ons kos nie minderwaardig is nie.
Barbara So mal soos ek oor Franse kos is, net so mal is ek oor ons eie kos. Ek dink dis die smake wat jy onthou as kind, dis so nostalgies. Ek weet regtig nie hoekom daar nie meer SA restaurante is wat tipies SA kos bedien nie.
Herman Ek glo Afrikaanse kos laat ons veilig voel. Ons lewe in ‘n tyd waar dinge so vinnig verander en oral om ons is daar onsekerheid. Kos was nog altyd die een plek waar ons troos kon vind. Afrikaanse kos het persoonlikheid.

Watter SA kookboek inspireer jou die meeste?
Peter Daar is eintlik meer as een. Sannie Smit se Die Suid-Afrikaanse Vleis-kookboek. Rina Pont se Suid-Afrikaanse Wildsgeregte beskou ek steeds as die boek wat my die meeste geleer het. Die eerlikste boek wat ek gelees het, was verseker Waar vye nog soet is van Emilia le Roux en François Smuts. Hester se brood deur Hester van der Walt was vir my ook geweldig inspirerend.
Barbara Sonder twyfel Sannie Smit se Die Suid-Afrikaanse Vleiskookboek. As jy iets van vleis wil weet, sal jy dit daarin kry.
Herman Die lekkerlees-stories in Errieda du Toit en Francois Ferreira se Huiskok Glanskok het my geïnspireer om met nuwe oë na kos te kyk. Ek moet ook saamstem met Peter oor Waar vye nog soet is. Die juweel op my boekrak is natuurlik my ouma se handgeskrewe resepteboek!

Eet ons Suid-Afrikaners ongesond? Altyd suiker by groente?
Peter Nee! Geen kos wat die liggaam voed, is ongesond nie.
Barbara Seker party goed, maar dis hoevéél mense eet wat ook tel. Partykeer moet ‘n mens maar matigheid voor oë hou.
Herman Nee. Ek is te jonk om my nou al daaroor te bekommer. Ons Afrikaners ken van lekker eet en lekker lewe, lekker lank lewe!

Wat is die perfekte braaibroodjie?
Peter Kaas, uie en tamatie op witbrood. Gebraai oor die kole.
Barbara Jy smeer eers witbrood met botter, dan sit jy ‘n sny sterk cheddarkaas op elke stuk brood. Daarna kom gesnyde wit-uie en tamatie, sout en varsgemaalde swartpeper. Die broodjie moet stadig gebraai word sodat die kaas smelt. Ek hou daarvan as dit so effens gebrand is aan die kante.
Herman Daar in my wêreld word die broodjie só gemaak: Brood, kaas, uie, tamatie, kaas en blatjang. Altyd twee keer kaas, en altyd met blatjang!

Wie is of was jougrootste kos-inspirasie?
Peter My ma, ongetwyfeld. Sy was een van die beste kokke van wie ek weet, en dit sluit wêreldberoemde sjefs in. My ma het seker gemaak ons eet elke dag lekker. Sy het gesorg ons eet altyd aan tafel. Selfs ‘n piekniek kon sy nie sonder ‘n opslaantafel en tafeldoek doen nie. Sy het my vertroosting gegee met haar kos. Buiten my ma het my ouma my ook geïnspireer. Haar oormaat en weldaad sal my altyd bybly.
Barbara Ek moet ook sê my ma, sy kon fantasties kook. Dan het ek altyd ook vir Peter bewonder toe hy kosredakteur van SARIE was. Ek wou nog altyd in sy voetspore volg en my droom het waar geword.
Herman Verseker my ma. Sy was altyd bereid om my te vertel van kos. Hoe om te maak, presies wat om te doen. Sy het my ook toegelaat om te kook. Al was die resultaat ‘n kombuis wat soos ‘n slagveld gelyk het.

Peter deel sy gunsteling-SA resepte

  • Jong-ertjie-sop met appelkoos-bolaag
  • Skelvis-en-lensiesop
  • Smoorsnoek
  • Gestoofde wildsvleis met sampioene
  • Fluweelkluitjies met appels