FOTO kaboompics.com

FOTO kaboompics.com

Kosstories

Kosflaters word nuwe treffers

Niemand se kombuis is ooit perfek nie. Trouens, ek sal eerste hand opsteek om te sê in my kombuis is daar gereeld flaters. Maar dis niks om oor te huil nie – hier is vier flaters wat jou trane van hartseer gaan omtower in trane van blydskap. Die enigste probleem is dat jy dalk so baie van die nuwe “flater” gaan hou dat jy jouself moet keer om nie elke keer ’n flater te wil maak nie!

Plat sjokoladekoek tot malvapoeding

Daar is niks so teleurstellend soos daai oomblik as jy die oonddeur oopswaai en sien jou sjokoladekoek het platgeval nie. Daar is verskeie redes hoekom dit kan gebeur:

• jy het die oond te vroeg oopgemaak
• te veel rysmiddel in die koekbeslag
• jou oond se temperatuur is nie korrek nie

Maar daar is hoop: Kook 1 blik ingedampte melk saam met 200 g (250 ml) witsuiker en 5 ml karamelgeursel. Bak jou platgevalde koek tot gaar en gooi die warm sous oor koek. Dis dan ’n sjokolade-malvapoeding!

 

Drooggeroosterde vleis

Ja, dit het al met my ook gebeur dat die heel lamsboud of beesribstuk in die oond rooster vir Sondag se middagete. Jy verwag sappige vleis wat wegsmelt onder die mes, maar sodra jy dit sny, besef jy dit was te lank in die oond en is nou droog en onaangenaam om te eet. My plan: maak bobotie van drooggeroosterde lamsboud.

Hoe? Bobotie is tradisioneel gemaak van oorskietstukke lamsboud. Sny die droë lamsboud in klein blokkies. Braai jou uie en speserye soos gewoonlik. Voeg die lamsblokkies by, saam met 1 blik kersietamaties – dis my geheim om vog by te sit. Bak die mengsel soos gewoonlik met sy eierlaag bo-op. Dan het jy sappig bobotie met ’n tamatiegeur. Jy kan dieselfde doen met hoender of selfs beesvleis.

 

Verbrande uie

Ai tog, ek hou mos van klets en wyndrink. Dis nie ’n goeie kombinasie as jy in die kombuis moet konsentreer nie. Gereeld begin ek uie en knoffel braai vir ’n gereg en dan verbrand dit tot byna houtskool. Maar selfs in die swartverbrande uie is daar geur wat wag vir jou. Ja, ek het ook eers gedink dis nie waar nie! ’n Baie slim sjef het onlangs op sy TV-program hy gewys hoe hy in sy restaurant sous maak met aangebrande uie. Die gaste was gaande daaroor. Toe ek my uie die ander dag weer laat aanbrand, besluit ek: nóú is my kans.

Voeg so 250 ml beesaftreksel by jou verbrande uie en bring tot kookpunt. Prut vir 10 minute. Gooi mengsel deur ’n sif en die sous wat jy kry, is geurvol en perfek vir die rys op jou Sondagtafel.

 

Tuisgebakte brood krummel weg

Ek bak gereeld naweke vars brood vir my vriende. Dis vir my die hoogtepunt van gee. Maar ai, daai oomblik as ek die brood sny en hy krummel weg … die frustrasie! Hoekom gebeur dit? Ongelukkig gebeur sulke dinge maar, ook met my. Hier is moontlike oorsake:

• die brood is nie genoeg geknie nie
• die rysmiddel in die brood was oud of nie aktief nie
• die brood het te veel gerys en nou is die tekstuur te grof.

Wat nou? Dis perfek vir Sondag se anderste broodpoeding. Krummel hom fyn en bak broodpoeding soos die Britte dit maak. Dis die koningin van poedings. Jy kook eers die broodkrummels met melk, room en suiker. Voeg dan eiergele by en bak hom. Bo-op kom ’n laag van konfyt en wolksagte meringue, wat jy weer bak tot goudbruin. Kry my resep hier.

Onthou, resepte is net aanwysings. Resultate is nie altyd gewaarborg nie, maar wees verseker van een ding: daar is altyd hoop!

Lekker kook

Herman