FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Kosstories

5 MINUTE MET … Jan Boland Coetzee

Vriesenhof-wynlandgoed naby Stellenbosch se eienaar en wynmaker is niemand anders nie as die oud-Springbokflank Jan Boland Coetzee, wat tussen 1974 en 1976 ses keer trots in die Springboktrui op die rugbyveld uitgedraf het. Hy glo die beste deel van wynmaak is om dit te deel.

“Ek hou van goeie vriende, goeie wyn en filosofeer – ook bekend as strooi praat.”

- Jan Boland Coetzee

Wat was eerste, jou liefde vir wyn of vir rugby?
Ek kan nie eintlik sê nie. Ek kom uit ’n Weskus-boerefamilie. My oupa en my pa se oudste broer was die wynmakers en witblitsstokers van ons familie. Toe ek klein was, was visvang en rugby speel al wat ons op Lambertsbaai kon doen. Die ‘’rugbyveld’’ was die soutpan. Vandag is dit ’n opgedamde vlei.

Is jy nog betrokke by rugby of is jy deesdae net toeskouer?

Op 4 Februarie 2013 was ek 50 jaar betrokke by die Matie-rugbyklub op Stellenbosch. Ek was onder-18-, onder-19- en eerstespanspeler van 1965 tot 1979. Daarna was ek afrigter saam met Dok Danie Craven. Toe was ek bestuurslid en vise- president en een van die stigters van die Craven-beursfonds. Sedert 2013 is ek net ’n ondersteuner.

Van watter lande se kos en wyn het jy die meeste gehou toe jy saam met die Bokke oorsee getoer het?

Suid-Afrika se skaaprib of -nek is bobaas. Hoewel ons gehaltewyn baie goed vergelyk met die Franse wyne, sal ‘n goeie Bordeaux of boergonje- wyn altyd ‘n spesiale plek in my hart hê. As ek ‘n gunsteling moet kies van my eie wyne, is dit die Vriesenhof  Pinot Noir. Die Franse sê altyd ‘n Bordeaux werk goed op sy eie, maar ‘n Pinot Noir moet met ‘n maaltyd geniet word …

Maak jy self kos?

Ja, ’n lekker skenkelpotjie.

Wat braai jy graag?

Vuurmaak is deel van my menswees. Ek braai graag vis wat vars uit die see kom, want ek het saam met vissermanne grootgeword. Ek weet nie lekker of dit vuur en hout is, en of dit vuur en wyn is nie, maar dit is pasmaats. En is die kombuis skoon as ek braai? Altyd, ek is ‘n wegpakker, nie ‘n neersitter nie. www.vriesenhof.co.za.

Dié artikel kom uit die Augustus / September-uitgawe van SARIE KOS. Dié uitgawe is nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal HIER afgelaai word.

sarie kos3

Nou te koop

sarie kos