FOTO Henk Hattingh

Kosstories

5 slim wenke vir ’n skoner kombuis

Die kombuis is die hart van die huis, want hier word gekook, gekuier en herinneringe geskep. Die kombuis is ook die plek in die huis wat die meeste skoonmaak verg.

Self is ek gedurig aan die skrop omdat ek so bietjie aan ’n fobie vir kieme ly. Elke ding moet permanent skoon wees. Hier is vyf van my gunsteling-maniere om die kombuis silwerskoon te hou.

1. Maak binne die oond skoon

Ons vergeet soms om die binnekant van ons oond skoon te maak. Ek het hierdie wenk by my ouma geleer: Smeer die binnekant van die oond met ’n dun lagie skottelgoedseep. Sprinkel dit dan vol koeksoda – ook oral teen die kante op. Spuit dit laastens met witasyn wat in ’n spuitbottel geplaas is. Laat dit vir twee uur staan en was dit dan af met warm water en ’n kombuislap.

2. Laat granietblaaie blink

Het jy graniet- of marmeroppervlakke in jou kombuis? Dis moeilik om dit altyd mooi blink te hou. Meng een deel suurlemoensap, een deel witasyn en een deel water in ’n spuitbottel. Spuit dit oor die oppervlak en vee dit af met kombuispapier – dit maak die oppervlak mooi blink.

3. Speel klaar met ’n taai dampwaaier 

Al probeer om daai taai laag bo-op die dampwaaier (extractor fan) skoon te kry? Nie so maklik nie. Volgende keer moet jy ’n paar druppels olyfolie oor die taai oppervlak sprinkel. Vee dit skoon met ’n lap en was dit af met warm seepwater. Glo my, dit werk!

4. Reinig kapborde

Houtkapborde raak gou grillerig. Sprinkel minstens een keer per week ’n ruim laag sout en koeksoda oor jou houtborde. Laat dit staan vir ’n uur en gebruik dan halwe suurlemoene om die borde mee te “skrop”. Spoel dit af onder warm water en laat dit in ’n louoond (so 80 °C) uitdroog.

5. Stofvrye vertikale blindings

Gebruik wat jy in die kombuis het om die stof tussen blindinghortjies skoon te maak: ’n braaitang en twee klam kombuislappies. Draai ’n lap om elk van die knypers, knyp die hortjies een vir een liggies tussen die knypers vas en beweeg dit dan heen en weer tot alles mooi skoon is.

Lees nou

Mooier vir onder R200

Selfoon-skoonmaaktyd! Vee hierdie apps uit

Sorteer só jou huis kamer vir kamer uit