FOTO: Unsplash / Michael Browning

FOTO: Unsplash / Michael Browning

Kosstories

7 foute wat almal in die kombuis maak

Ons almal maak foute en die kombuis is nie ‘n uitsondering nie. Geen kombuis is perfek nie, nie eens myne nie. Ek is eintlik bly dat dinge soms verkeerd gaan, want dit is wat kosmaak so lekker maak. Die uitdaging, die gesukkel – en dan die oomblik dat jy besef daar is sukses en iets gaan tog lekker smaak!

Daar is wel ’n paar dinge om te onthou wat jou kan help om gouer nader aan sukses te kom.

Hier is 7 foute wat ons almal gereeld maak, maar moenie vrees nie: daar is raad vir elkeen!

1. Ons lees nie die resep nie

FOTO: Unsplash / Andy Chilton

FOTO: Unsplash / Andy Chilton

Een van die grootste foute wat ek al self in my eie kombuis gemaak het, is om nie ’n resep deeglik te lees voor ek begin kook nie. Ons dink ons sal lees soos ons kook, maar verdeelde aandag lei tot foute. My raad: maak ’n koppie tee, sit rustig en lees jou resep een of twee keer deur voordat jy begin kook. Jy sal reeds halfpad sukses hê as jy weet presies wat jy moet doen! Tensy jy aan MasterChef of Kokkedoor deelneem, het jy geen verskoning om nie jou resep deur te lees nie. Selfs ek lees ’n resep deur.

My raad: Maak tee, raak rustig en lees die resep!

2. Die pan is oorvol

FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Al ooit gewonder hoekom jou vleis nie mooi bruin braai nie? Die antwoord kan wees dat jy die pan te vol pak. Enige kos wat jy wil bruin braai, kort spasie sodat dit nie stoom terwyl dit braai nie. ’n Nuttige wenk is om jou vleisstukke sowat 1,5 cm uitmekaar te pak sodat dit braai pleks van stoom.

My raad: Pak vleisstukke sowat 1,5 cm uitmekaar wanneer jy dit braai.

3. Weeg eerder as meet

FOTO: Unsplash / Maria Molinero

FOTO: Unsplash / Maria Molinero

Doen jouself en jou kombuis ’n guns en belê in ’n goeie elektroniese skaal. Wanneer jy bak, is dit baie meer akkuraat om droë bestanddele te weeg as om dit in volume af te meet. Jy is gewaarborg dat 500 g dieselfde in my kombuis gaan wees as in joune – mits jou skaal natuurlik werk!

My raad: Koop ’n goeie elektroniese skaal vir jou kombuis.

4. Jou pasta sit aanmekaar vas

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS FEB/MRT 2014

FOTO: Micky Hoyle

Wanneer jy pasta kook, is dit belangrik om ’n groot pot met genoeg water te gebruik. Verdeel jou pot denkbeeldig in 4:1 – dus 4 dele water vir elke deel pasta. Dan het die pasta genoeg beweegruimte en sal dit nie aanmekaar vassit soos dit gaar word nie. En onthou, gooi altyd ná dreinering ’n klein bietjie olie oor jou pasta en meng dit deur.

My raad: Gebruik ’n groot pot en vul dit ruim met water: 1 deel pasta vir 4 dele water.

5. Vervang vars kruie met die droë soort

FOTO: Instagram  @wiltshireau

FOTO: Instagram @wiltshireau

Hieraan is ek self skuldig en ek het my fout op die harde manier geleer. Moet nooit vars kruie vervang met dieselfde hoeveelheid droës nie. Die geur van droë kruie is baie intenser en kan die smaak van jou gereg heeltemal bederf. As jy nie varses kan kry nie, begin eers met droë kruie in ’n 1/3 van die hoeveelheid wat die resep vir vars kruie aandui. Proe en pas dan aan soos nodig. Proe ook eers die droë kruie voor jy dit in jou pot gooi sodat jy weet hoe sterk die smaak is. Jy sal weet hoeveel om in jou pot te gooi.

My raad: Proe eers die droë kruie om te weet hoe sterk die smaak is.

6. Koue oond vir gebak

Foto deur Donna Lewis SARIE AUGUSTUS 2014

FOTO: Donna Lewis

Maak seker jy verhit jou oond voor jy bak. Die temperatuur moet reeds reg wees voor jy begin bak, anders gaan jou gebak nie genoeg rys nie of gaan dit selfs platval. As sjef-student het ek geleer dat jy die oond 10 °C warmer maak as die resep. Sodra jy die oonddeur oopmaak om gebak in te sit ontsnap van die hitte. Draai dan dadelik die oond af tot die regte temperatuur en jou gebak sal perfek uitkom!

My raad: Verhit jou oond tot 10 °C warmer as wat die resep vra voor jy begin bak.

7. Olyfolie in koue pan

FOTO: Pixabay

FOTO: Pixabay

Wanneer jy groente of vleis in olie braai, moet jy eers die pan verhit voordat jy jou olie ingooi. Jy gaan minder olie gebruik omdat dit onmiddellik warm is én jou kos gaan nie die olie absorbeer nie maar eerder daarin braai. Wees net versigtig dat jy nie die pan so warm maak dat die olie begin rook nie – olie wat begin rook, is giftig en kan kos ’n onaangename smaak gee.

My raad: Kry jou pan warm voor jy olie ingooi, maar nie so warm dat dit begin rook nie.

Onthou, kosmaak is ’n proses van verryking. Moenie bang wees om te kook nie. Geniet die proses en kook altyd met oorgawe, die resultaat kan nie anders as goed wees nie. Jóú kombuis, jóú reëls!

20160429_VGB Tag

Lees nou

Eet nóú pizza en vergeet van jou middellyf

Gratis kosgeskenke as jy verjaar!

Raak só ontslae van vreemde kombuisreuke