herman inspirasiekos via
Kosstories

7 dinge in die kombuis wat jy in jou 20’s moet baasraak!

In jou twintigs is die lewe ’n lied en byna sorgvry. Vir baie beteken dit die begin van vryheid, om jou vlerke te sprei en jou eie nes te begin skrop. My twintigs was gekenmerk deur kombuiskuiers saam met vriende wat almal raad gee oor hoe en wat om te kook.

Verlede week het ek my 29ste verjaardag gevier. Met die Groot 30 om die draai, het ek besluit om my kennis van die afgelope 10 jaar te deel. Nou kan jy ook die Jamie of Nigella van jou eie kombuis raak.

Dié basiese tegnieke en resepte sal jou ver bring

1. Leer om uie te kap

Glo my, alle goeie kos begin met gekapte uie. As jy weet hóé, sal dit jou baie trane spaar en jou lewe maklik maak. Die belangrikste wenk wat ek ooit geleer het van uie kap, is om nie die wortelgedeelte van die ui af te sny nie – dit hou die hele ui bymekaar en maak blykbaar die trane minder (ja, elkeen het mos maar sy mite oor dié een!).

Skil die ui, sny die boonste kop af en halveer die ui in die lengte sodat elke helfte nog ’n gedeelte van die wortel het. Kap dan die ui van die voorpunt na die wortel toe. Die ui sal bymekaar bly en die enigste trane wat jy sal hê, is trane van blydskap.

2. Braai steak perfek

Die meeste mans of vroue sal soos botter in jou hande smelt as jy vir hulle ’n lekker gebraaide steak voorsit. Dis eintlik heel maklik en baie eenvoudig: Begin deur goeie vleis te koop. Ek verkies die sirloin-snit omdat die vetlaag om die buitekant lekker geur gee.

Hou geure op steak eenvoudig: smeer steak met klein bietjie olyfolie, sap en skil van suurlemoen, geur goed met bietjie sout en varsgemaalde swartpeper. Dan jou pan: verhit jou pan tot vuurwarm sonder enige olie, onthou jy het reeds olie op die vleis gesmeer. Braai dit. Moenie heeltyd omdraai nie. Sowat 1 minuut per kant vir medium, 90 sekondes vir medium gaar en 2 minute vir baie gaar. Haal die steak uit die pan en laat rus eenkant vir 2 minute voordat jy dit voorsit.

3. Leer om goeie oondgebakte hoender te maak

As jy wil onthaal en keer op keer sukses wil behaal, moet jy weet hoe om ’n goeie oondgebakte hoender te maak. Daar is nie ’n gas wat al aan my tafel gesit het en nie beïndruk was met my oondgebakte hoender nie. Dis baie eenvoudig as jy die resep stap vir stap volg. My wenk: Koop lekker vet organiese hoenders en jy sal elke keer eindig met sappige hoender. Klik hier vir my resep wat jou nooit in die steek sal laat nie.

4. Kook die perfekte rys

Glo dit of nie, maar daar is baie mense wat sukkel om veerligte rys te kook. Goeie rys is die bykos tot byna enige maal. Dis maklik om rys te kook as jy weet hoe: Plaas een koppie rys in ’n meelsif en spoel af onder lopende koue water tot die water helder uitloop. As jy hou van klewerige rys, moenie dit afspoel nie. Plaas in ’n skoon pot met twee koppies koue water, 5 ml sout en een skyf suurlemoen (met skil aan) bring tot kookpunt en kook tot al die water deur die rys geabsorbeer is. Verwyder van hitte en plaas deksel op pot. Laat staan vir 5 minute en sit voor.

As jy regtig steeds bang is, kan jy maak soos my pa toe hy ’n alleenloper was. Jy plaas een koppie rys in ’n koffiefles en vul dit dan met kookwater tot bo. Maak die fles toe en laat staan vir 8 ure terwyl jy by die werk is.

5. Beïndruk met bolognese

Ek word gereeld gevra wat is die één resep wat jy moet baasraak. En my antwoord is altyd dieselfde: bolognaise. Jy kan baie van die Italiaanse tamatie-vleissous op een slag maak en in porsies vries. Dit is lekker op sy eie, op rys, op roosterbrood met gebakte eier, in omelet of self bo-op ’n wolk van kapokaartappels. Die moontlikhede is oneindig. Die belangrikste om is om tyd te neem met die sous. Hy moet stadig prut – hoe langer dit prut, hoe geuriger sal die sous wees.

Kyk uit in die nuwe SARIE KOS vir ’n stap-vir-stap gids om dit soos die Italianers te maak.

FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

6. Bykosse vir ’n braai

Kom ons wees eerlik: as ons bang raak vir kook of onthaal, nooi ons gou gaste vir ’n braai, of jy word gereeld na een genooi. Hierdie verskynsel is so deel van ons kultuur soos bobotie en koeksisters. As jy by ’n braai wil beïndruk, moet jy kan bykosse maak. Aartappelslaai, koolslaai en ’n brood – hierdie drie bykosse sal altyd koning kraai op jou braaitafel en jou gaste sal reken jy is baie fancy! Hier is 3 resepte wat jy maar kan volg.

1. Aartappelslaai

2. Koolslaai

3. Biltong en bierbrood

7. ’n-Kan-nie-flop-nagereg

Dis ’n feit soos ’n koei, iewers gaan jy moet kook of bak om iemand se hart sag te maak. As jy wil beïndruk of vinniger vergewe wil word, kan jy maar malvapoeding bak. Winter of somer, ek het al baie kwaai mense aan my kant gekry deur hulle te bederf met ’n malvapoeding. Ek het wel ook vroeg in my lewe geleer dat jy die poeding in die mikrogolf kan maak. Die geheim van die poeding is die sous. Neem tyd en kook dit reg. Gooi die sous oor die poeding sodra dit uit die oond kom. Hier is my resep wat jou nooit sal teleurstel nie.

Onthou die kombuis is jou vriend, kook met oorgawe en beplan alles deeglik. Moenie bang wees vir resepte nie – daar is vir alles onder die son ’n kortpad, soek dit en jy sal dit kry!

Lekker kook!

Herman