Kosstories

Ainsley Harriott in Kaapstad

Jy’s terug in die Kaap, spesifiek by vanjaar se Good Food & Wine Show . . .
Ja, ek’s terug en dis wonderlik. Wanneer ek terugkom Kaap toe herinner dit my aan mense se glimlagte. ‘n Mens wil so half sê “Haai, hoe gaan dit?” – al ken jy hulle nie.

Mense is mal oor jou. Raak jy ooit moeg van al die aandag? (Ek moes saam met Ainsley by ‘n propvol Good Food & Wine Show deur hordes mense beur om by die media kamer uit te kom . . . dit het sowat 15 minute geneem, want jonk en oud wou ‘n foto saam met hom neem, of ten minste aan hom raak.)
Ek sou nie sê moeg nie. Mense gee aan my terug, want ek’t iets vir hulle gegee. Ek laat hulle goeie energie my opbeur.

Jou kook-filosofie was nog altyd eenvoudig en maklik – die eet-binne-minute-idee. Maar wêreldneigings in kos dui op die terugkeer van slow.
15 jaar terug, toe ek begin het, was dinge baie anders. Vandag is ons meer ingelig oor kos en waar dit vandaan kom. Ons vermy chemikalieë en wil meer in beheer wees van wat ons in ons liggame sit. Dit gaan nie meer oor kwantiteit nie, maar oor kwaliteit – én oorsprong. Waar kom daardie restaurant-vleis op jou bord vandaan? Mense wil dit weet. Ja, daar’s ‘n klein persentasie mense daarbuite wat hul eie groentetuine kan plant, maar nie almal van ons het die spasie nie.

Ons is amptelik in ‘n resessie. Kan ons nog goed en lekker eet?
Natuurlik, ja! Ons moet meer spaarsamig wees as ons inkopies doen. Die werkersklas moes nog altyd die sente omdraai en ek weet in Engeland is die middelklas besig om by die goedkoper supermarkte te koop – sonder om daaroor skaam te wees. Want in hierdie tye is dit belangriker om vir jou familie kos op die tafel te sit as om die ou kar vir ‘n nuwe model in te ruil. So miskien kom die resessie op die regte tyd, veral as ‘n mens kyk na wat in die wêreld aangaan. Mense reflekteer en besef die belangrikheid van saamwees en saam eet. Ek’t tieners in die huis en dis belangrik om hulle hierop attent te maak, want hulle is die toekoms.

Wat jy dalk nie van Ainsley geweet het nie

  • Hy dra nie sjef-baadjies nie, en het glo ‘n gróót versameling kraaghemde.
  • Sy vrou, Clare Fellows, is ‘n kostuum-ontwerper en hulle het twee tieners, Jimmy en Madeleine.
  • Hy is gevra om aan die Britse Strictly Come Dancing deel te neem en oorweeg dit, mits tyd dit toelaat.
  • Hy was deel van ‘n musiekgroep in die 90’s, genaamd The Calypso Twins.
 

Jy kan drie mense vir ete nooi, wie sal hulle wees?
Jare terug sou Mandela jou eerste keuse wees, veral as jy swart is. Nou’s Barack Obama op almal se lippe. Die skrywer Maya Angelou fassineer my ongelooflik, ek’t een keer vir haar gekook vir haar verjaardag. Sy sal definitief daar wees. En dan het die bestuurder van my sokkerspan (Arsenal), Arsene Wenger, metaforiese pamperlang nodig, so ek sal hom oornooi. Maya sal hom sommer gou-gou laat beter voel.

Jy kom uit ‘n musikale familie en was al self op die verhoog. Gaan ons jou weer daar sien?
Noudat ek ouer is wil ek ‘n klomp goed gelyk doen. Ek onthou hoe my ma vir Nina Simone op ‘n kasset in die kombuis gespeel het, dan het ons gekook en musiek geluister. Daar is soveel passie in kosmaak, dieselfde met musiek. En die feel good-kombinasie van die twee, kan jy maar sê, is hoe ek grootgeword het. Dis hoekom ek is soos ek is.

Jy’t ‘n nuwe boek wat binnekort verskyn…
Ja, Just Five Ingredients (Over 120 fast, fuss-free recipes). Dit was ‘n uitdaging, ek’t baie navorsing gedoen – twee of drie bestanddele beperk ‘n mens te veel. Daaorm het ek besluit op vyf.

Jy weet, my vrou het altyd gesê my resepte het te veel bestanddele – en dit was nie net sy nie. Haar vriende en ‘n paar ander mense het ook so gedink. Dan gaan kuier ek by hulle huise, dan’s daar 10 resepteboeke in die kombuis wat nog nooit gebruik is nie. Hoekom nie? Dis te ingewikkeld. Mense soek eenvoud en hulle moet gemaklik voel.

Jou gunsteling Kaapstad-restaurant?
Daar is ‘n paar, en as ek dit verklap gaan ek vir seker nie weer ‘n gratis ete kry nie . . . (hy lag).

Wat kan ons van Ainsley verwag in die toekoms?
Wel, my nuwe boek is amper op die rak. Daar’s ‘n nuwe reeks van Ready Steady Cook op pad. TV is besig om te verander en ek’s nie een vir daai celeb shows nie. Maar ek sal nie omgee om aan Strictly Come Dancing deel te neem nie. Hulle het my al gevra, ek moet net iewers die tyd kry. Maar wie weet, dalk word ek ‘n singende saksofoonspeler.