Kosstories

Angola-kosinval

Ons lê op die grens by Ruacana, Namibië. Môre val ons Angola binne. Net ‘n ou wat al daar was, of die aand voor ‘n militêre operasie beleef het, sal weet. As jy jonk is, soos die meeste van ons was, glo jy jy’s koeëlvas en die ou langs jou sal die skoot vat. Die ouer manne en veterane van vorige skermutselings weet beter. Hulle maak reg vir die moontlike sneuwel. Skryf ‘n laaste brief, praat met die kapelaan en vertrou hul kosbaarhede toe aan ‘n kameraad vir latere oorhandiging aan dié wat agtergebly het.

Oorlog is deesdae ‘n helse organisasie. Nie soos gedurende die Vryheidsoorlog nie. Daar was dit jy, jou perd, jou roer, ‘n sak biltong en beskuit en jou eie oorlewingsvermoë. Jy skiet die bloue hel uit die Kakies; jaag weg om later weer dieselfde te doen.

Vandag is dit anders, veral as die oorlog konvensioneel raak. Jy’t verskeie spesialiste nodig – dis nou as jy die geveg wil wen.

Jy’t snuffeltiffies (kundiges) nodig wat inligting bymekaar maak. So is daar recces wat die area gaan verken. Dan ‘n logistieke man wat bepaal hoeveel koeëls, petrol, troepe, rantsoene en toerusting jy gaan nodig hê. ‘n Seiner vir kommunikasie en vlamgatte (Mirage-vlieëniers) om die vyand sag te maak. Kanondonkies en hul G6-kanonne. Die pantser en hul tenks. Vleisbomme (valskermsoldate) wat afgegooi word, bokkoppe (infanteriste) wat die doods-akker inloop, ops-medics wat stukkende lywe moet lap, tiffies (werktuigkundiges) wat toerusting aan die loop hou. Chopper-boys wat gewondes oplaai.

Ná die geveg probeer sieltiffies verflenterde siele aanmekaarhou en die finansmanne maak die finale som: “Generaal, die oorlog het ons soveel gekos…”

Ons is ‘n klein groepie wat benieud ons toerusting nagaan vir môre se oor die grens gaan. Spesialiste uit eie reg. Ek was ‘n log-offisier, Paulgoed ‘n seiner, Fellies ‘n snuffeltiffie, Bonte ‘n kanondonkie, Strafdaan in die pantser, Dok ‘n opsmedic, Buurman ‘n bokkop, Kalie ‘n finansman en Carlos ‘n sersant in die Portugese koloniale weermag. Ons is benoud, maar nie oorlat ons môre mense gaan doodmaak of doodgemaak gaan word nie, maar oorlat ons jare ná die oorlog teruggaan om te gaan haal wat ons daar verloor het …

‘n Oorlog van meer as dertig jaar is verby. Angola is aan flarde. Toe ons in die laat tagtigs onttrek het, het die Angolese aangegaan om mekaar op te foeter. Wat het oorgebly?

Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid om hierdie reis te maak werk. Myne uit die aard van my militêre agtergrond is die logistieke funksie. Brigadier Joep Joubert, bevelvoerder Sektor 10, Wamboland, het eendag vir my gesê: “Johan, as my troepe nie ordentlike kos, pos en ‘n koue bier kry nie, kan hulle nie aanhou oorlog maak nie.”

So het Napoleon ook gesê: “‘n Weermag loop op sy maag.”

My hooffunksie is dus om vir “ordentlike kos” en koue bier te sorg. Ons is net twee weke van die huis af, so die “pos” gaan nie betyds by ons uitkom nie.

Nou, enigeen wat al so ‘n uittog beplan het, weet daar is sekere beperkende faktore, waarvan pakplek en verkoelingsgeriewe moontlik die grootste is.

In die weermag het ons kosvoorraad in twee kategorieë verdeel – nat-rantsoene, goete wat nie hou nie, en droërantsoene, goete wat hou. So het ‘n ratpack (‘n infanteris se daaglikse rantsoen) bestaan uit onder meer ‘n blikkie Weense worsies, ‘n dog biscuit (harde, hoëproteïen-koekie), ‘n buisie smeerkaas, aanmaak-Kool Aid, suiglekkers en dies meer. Droërantsoen.

Met my beplanning het ek geweet die manne wat môre saam met my oor die grens gaan, is nie meer die 18-jariges van dertig jaar terug nie. Hul behoeftes het verander. ‘n Koue drinkding is baie belangriker as ‘n ordentlike bord kos. Dit wil sê die koelhou-geriewe in ons drie voertuie is ietwat beperk as dit nou by nat-rantsoen kom. Maar so ook is vars vleis ‘n móét by enige ete. Maar nog steeds … daai aand om die kampvuur met ‘n ordentlike bord kos gee ‘n ou weer moed vir die nuwe dag se moeilikheid.

Vorige ekspedisies en staptogte het my geleer as dit by rantsoen kom, is verskeidenheid en afwisseling uiters belangrik. Maak nie saak hoe haglik die omstandighede nie, dis belangrik dat kos keurig voorgesit word. My groot geheim lê in ‘n krat kondimente. Daai speserye, souse en konkoksies wat enige vaal gereg optert.

Maar daai aand by Ruacana, toe ek uiteindelik in my bed-rol kruip en opkyk na die uitspansel wat hom om my toevou, tevrede dat ek my kant gebring het, het ek nie geweet nie …

Angola is maklik een van die mooiste lande in Suider-Afrika. Die natuurskoon is asemrowend. Die plat mopanie- en mahombo-woude in die suide. Die watermassa van die Kunene. Die ongelooflike Leba-pas teen die Chella-plato af. Die wille kuslyn wat Diego Caio, die eerste Portugese seevaarder so ver suid, in verwondering gadegeslaan het.

Voor die oorlog sou Angola ‘n toerisme-paradys gewees het. Die massiewe Christusbeeld, soos by Rio de Janeiro, wat arms uitgestrek uitkyk oor die stad Lubango, die ou Sá da Bandeira. Die belofte van ‘n Portugese Swakop in Moçâmedes, tans Namibe. Portugese rooiwyn, ‘n bord caldeirada [Portugese visbredie] en fadoliedere uit die Moederland, gesing deur Waldimar Bastos in die laataandkuierplekke van Luanda.

Angola is ook maklik een van die mees opgedonnerde lande in Suider-Afrika. Die paaie is aan flarde. Opgeblaas en vertrap deur tenk-ruspers. Nova Lisboa, tans Huambé, is flenters geskiet. Woonstelblokke hang gapend stuk-stuk aan hul staalgrate.

Ek sien hoe Carlos ineenkrimp. Dit was jare gelede sy stad. Mense is stukkend en verwoes. Afbeen en -arms. Orals bordjies: Perigo! Minas (Gevaar! Myne). Die mense is honger en brandarm, maar hulle lag. Veertienjarige moeders, kleurryk getooi, kind op die heup, bou aan ‘n nuwe nasie en wuif ons agterna.

En ons wat ‘n aandeel aan hierdie verwoesting gehad het, kyk na mekaar en gee ons kos weg…

Dis dan so. Ons laaste aand in Angola. Vanoggend is ons deur Xangongo. Gedurende operasie Protea, in die vroeë tagtigs, het ons al hier die brug oor die Kunene opgeblaas. Ons het die MPLA en hul Oosblok-raadgewers vermorsel. So het ons ook vir Swapo by Ongiva bloedneus geslaan.

En dis net hier tussen die twee plekke dat ons die pad verlaat. Bogger die myne en soos in die ou dae bundu bash ons deur die bosse, tot ons ‘n geskikte soshonna (oop pan) kry vir die nag.

“Kom ons hou vanaand ‘n formeleaand,” laat val luitenant Strafdaan. Ek kyk hom so en sien die wildgeit in sy oë. Hier iewers het hy moontlik doodgemaak en makkers verloor?

“Maar ons kos is op. Julle het als weggegee,” probeer ek keer.

“Kaptein, jy’s log. Maak plan!” sê sersant Bontes, die kanondonkie.

Kom ek verduidelik ‘n “formele aand” in militêre terme: Dis wanneer jy jou monkey suit aantrek, d.w.s. jou militêre tuxedo. Jy hang al wat medalje is aan. Dan sit jy aan vir ‘n vyfgangmaal. Erg gestreng en ritueel-formeel. Jy heildronk op vorige veldslae, die regiment, gestorwe makkers, die Republiek, die president en dies meer. Dan, ná al die drank, kos, hartseer en verlies van onskuld skrum julle met mekaar – in jul monkey suits.

‘n Vyfgangmaal? Ek begin tussen die chaos van twee weke se reis in die voertuie rondkrap, terwyl die ander ‘n hoop hout nader trek, tafels dek en hulself begin opdress.

In my “nood-rantsoenkrat” spoor ek boksies romerige hoenderkitssop, ‘n pakkie bruismeel, ‘n liter langlewe-melk en vier blikkies tuna op. Die groenteboks se vervaldatum is eintlik verby. ‘n Verlepte koolkop, ‘n ingevalde boerpampoen, ‘n paar uie wat al spruitskiet, en blou aartappels met vratte. Iewers in ‘n yskas tussen koue bier diep ek ‘n ontbeende lamsboud drywend in yswater op. En wragtag nog ‘n verdwaalde pakkie van daai lappe kaas, die individueel verpakte skywe.

Maar dis my “kondimente-krat” wat my alie red: ‘n blikkie kondensmelk, agurkies, mayonnaise en kappertjiesaad, borrie en pypkaneel, appelkooskonfyt, blatjang, ‘n pakkie pruimedante, dadels en korente, draaipeper, kookolie, ontpitte rosyne, ‘n vars knoffelbol en gemmerwortel.

Onder ‘n sitplek raap ek ‘n gemufte ou brood en ‘n sakkie rys raak. My kop werk oortyd. As ek net ‘n paar eiers gehad het? En hier deur die mahangoland kom ‘n vrou aangestap, negosie op die kop.

“Ovos, senora?” en sy toor wragtag ses lekker grotes te voorskyn.

“Obrigada,” en heupswaaiend verdwyn sy in die bosse.

En iewers in ‘n soshonna in Angola het nege soldate formeel aangesit vir ‘n vyfgangmaal. Hulle was netjies aangetrek, met swart vullissakke as manelpak en toiletpapier-strikdasse. En hulle het geëet!

Romerige hoendersop en croutons as voorgereg. ‘n Tuna-konkoksie as entrée. Die hoofmaal het bestaan uit geelrys en korente, Marokkaanse skaaptagine, aartappelslaai, pampoenkoekies met kaneelsuiker en knoffel-en-kaas-rooikool. Broodpoeding en broffie het die maal voltooi.

Ons het vir mekaar gekyk. ‘n Glasie gelig op gestorwe vriende en verlore jeug, en die toekoms vierkant in die oë gekyk. 

Johan Bakkes is ‘n gerekende skrywer, kosfoendi en ‘n dosent in bestuursrekeningkunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Van sy bekende werke is Moer toe die vreemde in (2001) en Nou’s ons in ons donner in (2006). Johan is getroud met die skilder Nanna Vorster-Bakkes, en sy kreatiewe gene kom van sy ouers, die historikus Cas en die skrywer Margaret.