FOTO: Clinton Lubbe

FOTO: Clinton Lubbe

Kosstories

As ek aan Ma dink … bekendes vertel

Die warmte van ’n ma se liefde is baie keer opgesluit in die kos wat sy kook. Dis haar liefdesoffer vir haar gesin. Dis dié smake wat herinneringe van onthou-jy-nog oproep.

Die gedagte aan bredie, sop of brood laat jou skielik weer jou ma se liefde voel, haar parfuum ruik en die omgee in haar oë sien. Wat onthou jy as jy aan jou ma dink?

Nataniël – ons gunsteling-Kaalkop
“As ek aan my ma dink, dink ek net aan een ding: jam roll. My ma kon jam rolls bak soos niemand nie. Ek onthou tot vandag toe nog toe ons uit Porterville getrek het Kuilsrivier toe, moes ek met ’n jam roll op my skoot sit tot in die Kaap!”

Marion Holm – komediant
“Min mense kan melktert bak soos my ma, Nakkie Holm. Sy het self haar blaardeeg gerol en die pap gekook – sy het nooit kaneel oor die melktert gegooi nie. Tot vandag hou ek van melktert sonder kaneel!”

Karlien van Jaarsveld – sangeres
“As ek aan my ma, Ronel, dink, proe ek donkersjokolade en chillies!”

Karlien van Jaarsveld

FOTO Leana Clunies-Ross

Kurt Darren – sanger
“As ek aan my ma dink, proe ek dadelik haar gort-en-vleissop. Cecilia van der Westhuizen weet hoe om lekker sop te maak. Troos in ’n bakkie!”

Tracey Lange – aanbieder
“As ek aan my ma, Theresa, dink, proe ek dadelik haar heerlike yskastert. Die hele buurt en kerk ken haar yskasterte, wat sy enige tyd aanmekaarslaan met die lekkerste perske-, piesang-, aarbei- of koejaweljogurt. Niks sê samekoms soos daardie terte nie!”

Tracy Lange

FOTO Marijke Willems

Herman Lensing SARIE Kosredakteur
“My ma, Susan Lensing, het vyekonfyt gekook wat die buurt aan die praat gehad het. As ek vyekonfyt sien of ruik, verlang ek terug na my ma se warm kombuis, sagte roosterbrood en lepels vol amper goudbruin konfyt.”

Gideon Lombard – akteur
“As ek aan my ma, Jean Lombard, dink, proe ek kaneel en bruinsuiker van vars pannekoek op ’n reënerige dag. Dit was ware liefde, toegevou in ’n sagte deegkombers.”

Jenny Morris – sjef
“Sê jy my ma se naam, proe ek onmiddellik haar kapokartappels, romerig, luuks en vol smaak. Sy was die koningin van kapokaartappels maak!”

Jill Levenberg – aktrise
“My ma , Carol Levenberg, is die koningin van stews, kerries en smullekker Sondag-lunches. Sy glo in ’n ding reg doen en vat haar tyd met goeie kos. Jy proe altyd die liefde in haar kos!”

Brümilda van Rensburg – aktrise
“As ek aan my ma, Freda van Rensburg, dink, proe ek naeltjie in die afval, brandewyn in die kersies, die skaapvetjies van haar frikadelle in koolblare, die belewenis van haar skaapboud. Die botter en dan haar brood.”

Brumilda van Rensburg

FOTO Marijke Willems

Pedro Kruger – komponis en storieverteller
“As ek aan my ma dink, proe ek haar Sondagkos (soos ons dit genoem het) met gebraaide aartappels, soetpatats en dan natuurlik die sous wat sy maak met die stukkies vleis wat oorbly nadat sy die vleis gesny het. Hemels!”

Pedro Kruger

FOTO Donna Lewis

Meer oor Moedersdag

6 bederfprodukte vir Moedersdag

Moedersdag in Kaapstad: Doen hierdie dinge saam met jou ma!

Laaste minuut Moedersdag geskenk-idees 

VGB Tag