sr1111praat_met_barbara_1_
Kosstories

Barbara se spesiale resepte uit haar kinderjare

Dis waar my liefde vir lekker kos en kosmaak begin het. Daardie inspirasie het gekom vam my ma, my ouma en Ouma se suster.

Sien, ek’s gebore op Beaufort-Wes, maar toe ek so vyf was, het ons Kaap toe getrek. En dis waar die lekker vandaan kom, want elke skoolvakansie is ons kinders plaas toe gepos. Ons het wakker geword met die bruinmeelpap wat my ouma se suster gemaak het.

En aandete-bederf was daardie melkskynsels uit Ouma se hand.

Om nie te praat van my ma se steak ‘n kidney pie met skonsdeeg nie (daar was nie iets soos biefstuk-en-niertjie pastei nie!). En die broodpoeding!

Ons is deedsae geneig – en ek sluit myself in – om ons kinders groot te maak op paella, pasta en ‘n Jamie Oliver-dis. Daar is niks mee verkeerd nie, maar toe ek die ander dag op my ouma se ou resepteboeke afkom (die hoeveelhede nog in koppies aangegee!), het al die smaaklike herinneringe teruggekom.

Deel dié resepte met jou gesin, vertel jou kinders daarvan – veral die hardgekookte eiers en frikkadelle. Dit was my hoogtepunt as kind op pad Karoo toe. Die eier het nog in jou keel vasgesit dan moes julle weer in die pad val, “want die pad is ver Karoo toe”.

As ek vandag aan daardie tye terugdink, kry ek sommer die blues – in my maag.

Post toastie-tert

Post toasties-tert

Dis tannie Bertie (Ouma se suster) se Post Toasties-tert dié. Saterdagmiddae is daar altyd gebraai op die plaas. En deel van die braai was hierdie tert as nagereg. Ek kon nie gou genoeg my tjops en wors opeet om by die poeding uit te kom nie. Die Post Toasties-tert (vandag Corn Flakes of graanvlokkies) is altyd in die Agastoof gebak en warm voorgesit. Net soos jy as ’n kind só opgewonde geraak het oor Kersfees dat jy die vorige aand nie kan slaap nie, so was Vrydagaande op die plaas vir my. Want ek het geweet die volgende dag is daar Post Toastiestert! Die tert is altyd in ’n groot bak gebak en almal het oor ’n hoekstukkie baklei, want dis waar die meeste Post Toasties is. Vandag het ek besluit om die tert in klein bakkies te maak sodat daar vir almal genoeg kors kan wees.

Kors

Besluit of jy die tert ook in klein bakkies gaan maak of in een groot bak. Vir een groot bak (so 30 cm x 15 cm) het jy die volgende hoeveelhede nodig vir die kors:

  • 3 koppies (750 ml) fyngedrukte Post Toasties (graanvlokkies)
  • 1½ koppie (375 ml) gesmelte botter (Gebruik botter, dit maak ’n verskil.)  
  • 1 koppie (250 ml) suiker  
  • 1 teelepel (5 ml) fyn kaneel

Gooi die Post Toasties in ’n plastieksak en rol dit fyn met ’n koekroller. Voeg die gesmelte botter, suiker en kaneel by. Meng goed. Druk die mengsel in ’n bak – en wees maar geduldig, want die kante van die bak moet ook met die mengsel uitgevoer word.  As jy klein bakkies gebruik, sal jy ongeveer 15 uitkry (die klein wit ramekin-bakkies).

Vulsel

  • 4 koppies (1 liter) melk
  • 4 eetlepels (60 ml) meel   
  • 2 koppies (500 ml) suiker   
  • 2 eetlepels (30 ml) botter   
  • 4 eiers, geskei

Gebruik ’n bietjie van die melk om die meel in ’n dun pasta aan te maak. Verhit die res van die melk tot kookpunt. Voeg die meelpasta, suiker en botter by. Roer aanhoudend. Die vulsel raak soos ’n dun witsous. Laat die mengsel afkoel voor jy die eiergele byvoeg. Klits die eiergele effens en voeg by wanneer die melkmengsel afgekoel het. Klits die eierwitte styf en vou by melkmengsel in. Gooi mengsel in bak of in klein bakkies en bak in voorafverhitte oond (160 °C) vir omtrent 45 minute. Die vulsel moet gestol wees. Sit warm voor – en glo my, dis die crème de la crème van alle warm nageregte.

Broodpoeding

Broodpoeding

My ma was nie baie lief om nagereg te maak nie, maar sy’t altyd kans gesien vir broodpoeding met meringue bo-op. As die korsies sotaai word, is dit op sy lekkerste. Jy maak letterlik appelkooskonfyt-toebroodjies – met botter, nie margarien nie.

Gewoonlik word rosyne in die broodpoeding gesit, maar my ma was glad nie lief vir rosyne nie. Dié poeding het in elk geval nie rosyne nodig nie.

    * 1 gesnyde witbrood
    * Genoeg botter & appelkooskonfyt om die brood mee te smeer  
    * 6 eiers, geskei  
    * 12 eetlepels (180 ml) strooisuiker (my ma het my geleer: vir 1 eierwit – 2 eetlepels suiker)    
    * 4 koppies (1 liter) melk

Gebruik ’n diep oondbak wat ’n hele brood se toebroodjies sal vat. Smeer die toebroodjies met die botter en appelkooskonfyt. Hou heel. Pak die bak met die toebroodjies styf teen mekaar en selfs nog ’n tweede laag. Klits die eiergele en melk saam en gooi oor die brood. Bak in warm oond teen 180°C vir ongeveer ’n halfuur. Klits intussen die eierwitte styf en voeg die suiker lepel vir lepel by. Jy maak nou ’n lekker stywe meringue. Skep die meringue bo-op die broodmengsel en bak verder tot die meringue ’n mooi bruin kleur het. (Dit neem so ongeveer 10 – 12 minute.) Ek’s seker jy sal nie weer ’n ánder broodpoeding maak as jy eers dié een geproe het nie.

Om te drink
Spoel die ryk soetheid met swart koffie af, en hou ‘n glasie sagte brandewyn byderhand, soos KWV 10, Uitkyk of Avontuur.

Biefstuk-en-bier-pastei

Biefstuk-en-bier-pastei

Hier het ek so bietjie van my ma se resep afgewyk. Ek was mal oor haar biefstuk-en-niertjie-pastei, maar mens kan nie wen nie – my kinders hou nie van niertjies nie! Die niertjies het ek vervang deur spek, en ek kook die hele spul in bier

Wat beslis dieselfde bly, is die deeg. Destyds kon jy nie sommer by ’n winkel instap en skilferkorsdeeg koop soos vandag nie. My ma sou beslis nie staan en skilferkorsdeeg maak nie, en ek neem haar glad nie kwalik nie. Sy het al haar pasteie gemaak met botterbroodjiedeeg – dieselfde resep wat sy gebruik het om skons te maak.

Sowat 6 – 8 porsies (hang af hoe honger jou mense is!)  

  • 1,5 kg biefstuk (ek gebruik beeslende, sirloin) in blokkies gesny  
  • 250 g repies spek, in blokkies gesny  
  • 4 wortels, in blokkies gesny  
  • 1 stingel seldery, fyngekap
  • 1 ui, fyngekap  
  • 2 huisies knoffel, fyngekap  
  • 1 blikkie bier of tapbier
  • Sout en vars gemaalde
  • swartpeper na smaak   
  • 2 lourierblare  
  • 2 takkies vars tiemie of 10 ml gedroogde tiemie    
  • 1 eetlepel Bisto

As jy tyd het, stel ek voor jy haal die steak uit die verpakking en laat dit oornag – oop – in die yskas. Want wanneer jy die vleis die volgende dag in blokkies sny, sal die vleis droog wees en nie sy sap verloor nie. Verhit olie in ’n swaarboomkastrol en braai vleis mooi bruin. Verwyder vleis uit kastrol en braai spek, wortels, seldery, ui en knoffel saam. Voeg vleis weer by en ook res van die bestanddele, behalwe die Bisto. Laat kook oor lae hitte op stoofplaat met toe deksel vir sowat 2 uur. Hou dop dat dit nie droog kook nie (as dit gebeur, voeg bietjie water by). Om sous dikker te maak, meng Bisto met bietjie water en roer by die vleis. Laat vir sowat 5 minute verder kook. Skep in bak. Jy kan een groot pastei maak (30 cm x 15 cm) of 3 kleiner bakke soos op die foto.

Botterbroodjiedeeg

  • Hier is die deeg wat my ma altyd gemaak het:
  • 2 koppies (500 ml) meel
  • 4 teelepels (20 ml) bakpoeier
  • knippie sout  
  • 1 eier   
  • ½ koppie (125 ml) melk   
  • 2 eetlepels (25 ml) olie  
  • roosmaryntakkies om bo in te druk (opsioneel)

Sif al die droë bestanddele saam. Klits eier, olie en melk saam. Voeg dit by die meel en maak aan tot stywe deeg. Gooi bietjie meel op werkoppervlak en druk deeg tot so 2 cm plat. Sny uit in verlangde vorm en plaas bo-op pastei. Smeer eiergeel oor deeg en druk ’n klein takkie roosmaryn in as jy wil. (Dit lyk net mooi.) Bak in warm oond (180 °C) vir 20 tot 30 minute tot die deeg mooi bruin is.

Om te drink
‘n Vol rooi wyn om die rykheid van die gereg af te spoel en die cholestrol te verdun. Die Outsider Shiraz, Raka se Spliced-versnit en Stellenbosch Hills se 1707-versnit van cabernet en merlot sal aan die verwagtings voldoen.

Vetkoek

Vetkoek

Dit was ouma Issie se resep. Sulke lekker opgepofte vetkoeke wat ons met stroop of appelkooskonfyt geëet het. Lekker maklik om te maak en jy hoef nie ure te wag vir die suurdeeg om te rys nie

As ek vandag in ’n supermark ’n blik gouestroop sien, kan ek nie help om aan Ouma se vetkoek te dink nie.

  • 2 koppies (500 ml) koekmeel
  • 4 teelepels (20 ml) bakpoeier   
  • ½ teelepel (2 ml) sout   
  • 3 teelepels (15 ml) botter   
  • 1 koppie (250 ml) melk  
  • ± 2 koppies sonneblomolie   
  • Gouestroop om mee voor te sit

Sif die droë bestanddele saam. Vryf die botter daarin en maak die deeg aan met die melk. Verhit die olie. Skep ’n klein stukkie deeg in die warm olie om te toets of die olie reg is. As die deeg mooi stadig bruin braai, sal die olie gereed wees. Onthou om die temperatuur laer te draai, want die vetkoek braai sowat 10 minute in die olie om dwarsdeur gaar te word. ’n Lekker wenk is om twee eetlepels te gebruik om die deeg in die olie te skep, en voor elke skep doop jy die lepels in die warm olie. Wanneer gaar, plaas die vetkoek op kombuispapier om van oortollige olie ontslae te raak.

Kaas-asempies

Kaas-asempies

Ek het grootgeword met die gesegde “Is die vliegtuig al oor?” Tannie Bertie was bekend vir haar kaas-asempies – soos sy dit genoem het. Wanneer die vliegtuig uiteindelik “oor” is, het die drankies uitgekom en daarmee saam die kaas-asempies. Ek maak die anderdag kaas-asempies by die huis en die eerste ding wat my kinders sê, is dat dit iets lekkers is om skool toe te vat. Nie ’n slegte idee nie … Gebruik weer eens botter en nie margarien nie.

  • 1 koppie (250 ml) sterk cheddarkaas, gerasper
  • 1 koppie (250 ml) meel
  • 1 koppie (250 ml) botter (laat die botter sag word buite die yskas)   
  • 1 eiergeel

Dis een van die heel maklikste resepte. Jy meng letterlik alles – maak die hele spulletjie sommer met jou hande aan. Maak toe met kleefplastiek en laat rus vir sowat ’n halfuur in die yskas. Verhit die oond tot 180 °C. Maak klein balletjies en plaas op gesmeerde bakplaat. Druk plat met ’n vurk. Bak die kaas-asempies op die middelrak vir ongeveer 12 tot 15 minute. Hou maar dop tot hulle mooi goudbruin is. Laat eers afkoel op die bakplaat voordat jy proe.

Om te drink
Sit dié happies voor met ligte chardonnay, soos dié van Durbanville Hills. Sauvignon Blanc in die opopgesmukte Roberson-wynkelderstyl of Perdeberg Chenin Blanc spoel ook alles af. Ligte rooies soos Beyerskoof Pinotage of Graham Beck Pinno is ook nommerpas.

Pampoenkoekies

Pampoenkoekies

As kind het ek net mooi niks van pampoen gehou nie. My ouma het altyd gesê ek is vol fiemies, maar een manier waarop sy pampoen in my lyf kon kry, was met pampoenkoekies. Lekker dun met baie kaneelsuiker. Jy kan natuurlik pampoenkoekies as nagereg voorsit met ’n lepel mascarpone-kaas bo-op.

  • 2 koppies gaar pampoen (ek het sommer klaar opgesnyde pampoen gebruik en gaar gestoom).  
  • ¼ koppie (125 ml) meel
  • 1 teelepel (5 ml) bakpoeier  
  • knippie sout   
  • 2 eiers geklits   
  • sonneblomolie om die pampoenkoekies in te braai kaneelsuiker om oor te strooi (my ouma het altyd vir 1 koppie suiker sowat 3 teelepels fyn kaneel bygevoeg).

Kook of stoom pampoen tot sag. Druk dit deur ’n sif, of druk fyn met ’n vurk. Sif meel en bakpoeier saam. Voeg nou al die bestanddele by die pampoen. (Die mengsel is nogal slap, en dis reg so. Dié pampoenkoekies is nogal dun.) Verhit ’n bietjie olie in ’n pan. Dit moet die bodem van die pan bedek – nie te veel nie, anders sal die pampoenkoekies te olierig wees. Skep lepelsvol in die pan en laat dit eers goed braai aan die een kant. As jy dit te gou probeer omdraai, sal dit breek. Braai bruin aan weerskante en plaas op kombuispapier. Strooi kaneelsuiker oor en sit warm voor.

Gebakte lewer met bruingebraaide uie

Gebakte lewer

Rebecca Bosman, wat my grootgemaak het en nou ook my kinders, kom ook van Beaufort-Wes en is ’n bobaas lewer-bakker. Niemand kan lewer bak soos sy nie. Sy deel haar geheim met ons – mens sit die gebraaide uie saam met die lewer voor1 lamslewer (dis genoeg vir 4 mense) meel om die lewer te bedek sout en witpeper na smaak olie om die lewer in te braai 6 groot uie.

Verwyder die vlies van die lewer. Sny in porsies. Geur met sout en peper, en rol in die meel. Braai uie voordat jy die lewer bak, want dit kan omtrent 20 minute neem om die uie mooi bruin te kry. Sny uie in ringe en maak ’n bietjie olie warm in ’n pan. Die pan moenie te warm wees nie. Voeg uie by die olie en braai oor lae hitte tot bruin. Maak nog ’n bietjie olie in ’n ander pan warm net voor die uie reg is. Braai die lewer letterlik 2 minute aan ’n kant – dit moet nog effens pienk in die middel wees. Sit dit voor in stukke saam met die uie of sny in skywe. En onthou die kapokaartappels!

Om te drink
‘n Yskoue bier of vrugtige rooi wyne soos Fairview se Goats do Roam, Chateau Libertas of (ja!) Tassenberg. Laasgenoemde kan jy sommer in die yskas koud maak.

  • Mariza van Zyl RD BeterEet

    NIks soos koue hardgekookte eiers, tee uit ‘n fles en koue wasem-asem op pad na die Karoo! Ek stem!….
    Die ‘onvanpaste’ danigheid die afgelope jare met dieëte wat eiers, botter, skaapvleis, melk en al wat ‘ regte egte kos is’ as die wortel van alle gesondheidskwaad uitbeeld het ons nie net ontneem van heerlike nostalgiese resepte – maar ook baie voedingstowwe! Ons moet net onthou om so baie te beweeg soos mens beweeg op ‘n plaas…. en ontspan!

  • Amanda Els

    Ja, al die lekker dinge, sit my sommer eensklaps terug op Grootvlakte, langs die Breerivier. Is daar dalk ‘n geheim of maklike manier om die velletjie van skaaplewer af te kry?