FOTO: Pixabay

FOTO: Pixabay

Kosstories

Wenke vir brandwonde

In die kombuis skuil daar etlike gevare, want jy werk onder meer met hitte en skerp gereedskap. Sekere toerusting kan beserings veroorsaak indien dit nie met die nodige sorg gebruik word nie. Dis byvoorbeeld belangrik om veiligheidsmaatreëls rakende gas en elektrisiteit toe te pas.

As student het ek ’n hele paar beserings opgedoen en ook aanskou. Dit was meestal ongelukke, maar dit kan ook weens nalatigheid gebeur. Daarom is dit so belangrik om baie versigtig te wees, veral wanneer jy met warm olie werk.

Die aktrise Jana Strydom het onlangs brandwonde opgedoen toe sy vetkoek gebak het. Toe ’n vetkoek ontplof, het vuurwarm olie oor haar nek en bors gespat. Sy het die foto’s op haar sosiale media gedeel.

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

#selfportrait 2016 & 2030 #ivebeenburned

A photo posted by Jana Strydom (@janastrydom) on

Burnt myself with hot oil tonight making #vetkoek #explodingvetkoek

A photo posted by Jana Strydom (@janastrydom) on

Jana het aan SARIE.com vertel dat sy dadelik haar wonde met koue water en 8 Hour Cream behandel het. En die volgende dag het sy Burnshield vir haar kombuis gaan aanskaf.

Barbara Joubert het eenkeer baie sleg gebrand met salm wat ontplof het.

“Toe ek dit uit die oond haal, ontplof dit. Hoe dit gebeur het, weet niemand nie. Ek het koue water op my gesig gegooi, maar besef dit is veel erger. Ek het onmiddellik hospitaal toe gegaan. Hulle het my die volgende raad gegee: Ek moes dadelik onder ’n koue stort gaan staan met klere en al, tot die brandgevoel verminder. En volgens ’n plastiese chirurg moes ek daarna net Vaseline op my brandwonde gebruik.”

Herman Lensing het onlangs probeer om krulkool (kale) te diepvetbraai vir tjips.

“Groot lesse geleer. Die blare is vol vog en jy moet terugstaan as jy die blare in die olie gooi. Die olie het in my gesig en bo-op my ooglede gespat.”

Herman het toe dadelik sy ma se raad onthou: gesig eerste in yskoue water so lank jy kan. Daarna moet jy nooit die blaas stukkend maak (bars) nie.

“Gelukkig het ek net een klein blasie onder my ooglid gehad en dit gereeld met Zam-Buk-salf gesmeer.”

Wenke om ongelukke te voorkom:

• Draai handvatsels weg van die rand van die stoof.
Moenie die kombuis verlaat as daar warm olie op die stoof is nie.
• Indien olie brand, sit deksel op sodat die vlamme versmoor.
• Gebruik ’n diepbraaimandjie of gaatjieslepel om kos stadig in warm olie te laat sak.
• Gebruik droë vatlappies en nie nat lappe nie.
• Lig potdeksels sodat die stoom weg van jou ontsnap.
Bêre skerp messe buite bereik van kinders.
Merk houers van voedsel en skoonmaakmiddels duidelik.
Merk gifstowwe duidelik en bêre buite bereik van kinders.

Wenke vir brandwonde:
• Vir matige brandwonde – staan onder ’n koue lopende stort of hou die brandplek onder koue lopende water.
• Indien die wonde baie erinstig is, is dit beter om hospitaal toe te gaan vir behandeling.
• Vermy “boereraat” – daar is baie mense wat glo jy moet  botter op brandwonde smeer of selfs borrie oor ’n oop wond strooi, maar vermy dit liefs… Onthou, die oop wonde word blootgestel aan bakterieë wat infeksie kan veroorsaak.

Bron: Health24