Kosstories

Braai sonder brood? AIKÔNA!

Wat is ’n braai sonder ’n braaibroodjie? As jy my vra: byna net so droewig soos ’n huis sonder ’n moeder. (Veral nou as jy ’n Kaapse kind is.)

Trouens, die braaibroodjie waarmee jy grootword, word dikwels die maatstaf waarvolgens jy vir die res van jou lewe die sukses van ’n braai beoordeel. In my boekie begin dit met twee snye brood – gewone wit winkelbrood, om presies te wees. Beslis nié die gourmet-nommers waarvoor kwylkommando’s jappies hulle na deli-toonbanke haas nie. Dan volg genoeg botter (na die duiwel met die dieetkundige se laevet-margarien); nerfdun uie-skaafsels; ’n sny of drie geilrooi tuintamatie, behoorlik ge-Ina-se-seesout en gepepermeul; en laastens ’n ordentlike skyf goeie ou cheddar.

In die primitiewe dae voor die toeklaprooster het my ma die braaibroodjies ook soos pakkies toegebind met garing sodat die vulsel nie uitval wanneer my pa dit met ’n eierspaan (of voosgebrande vingers) op die rooster omdraai nie. Heel bo-op, onthou ek nou, het altyd een braaibroodjie gelê met ’n hoekie afgesny: my pa s’n, die een sonder tamatie. Tog help dit boggherol jy het die regte bestanddele, maar jy weet nie hoe om die braai by die broodjie uit te bring nie. ’n Mens braai áltyd eers die vleis en wors, verkieslik op dieselfde toeklaprooster wat jy vir die broodjies gaan gebruik, want só kry die kole kans om behoorlik af te koel en die vetterige rokerigheid van die vleise sal ekstra geur aan die toebies verskaf.

Die gewildste braaibroodjies op SARIE.com

Die tradisionele braaibroodjie

Kry die resep HIER

Groot braaibrode

Kry die resep HIER

Pita-braaibroodjies

Kry die resep HIER

Happiegroot braaibroodjies

Kry die resep HIER

Braaibroodjies moet lank en stadig – minimum tien minute – oor flou kole gebraai en baie gereeld omgedraai word: Jy soek immers ’n mooi knarsbruin buitekant en ’n sagte binnekant waar die uie gaar en die kaas gesmelt is. So ontdek ek daar is deesdae glad ’n Braaibroodjie-blad op Facebook waar Suid-Afrikaners ter plaatse en in plekke soos Nigerië, Nieu-Seeland, Texas, Doebai, Brittanje, Kanada en Switserland die veelsydige braaibroodjie loof as die volmaakte voor-, hoof- én nagereg – ook bykos, padkos en selfs stapelkos – wat die kroon span op ons inheemse kookkuns. (Daar’s ook ’n paar befoeterde Blou Bulle wat beklemtoon braaibroodjies is Káápse cuisine – sogenaamde “Kaapse pap” – waaraan hulle hul mond net sal sit as dit bestaan uit twee snye tuisgebakte brood met pap tussenin.)

Nou ja, in haar pretensielose knarsbruin geruite jas – stel jou Vivienne Westwood ná vyf dubbelbrandewyn-en-Cokes voor – is onse braaibroodjie dalk nie die mooiste en opgetofste van die lotjie op die papierbord nie, maar ware skoonheid kom mos van binne … Ek kan nog saamleef met die diepgaande filosofiese vraagstukke op die Braaibroodjie-blad, soos of die botter aan die binne- of buitekant hoort, of jy moet bodder met ’n smeersel van daardie laat-enigiets-beter-smaakstaatmaker
Mrs Ball’s-blatjang of nie, of tamaties die toebies pap maak of nie, en of die kaas gesny of gerasper moet word, maar as onbeskaamde braaibroodjie-puris teken ek beswaar aan teen die onortodokse, selfs ongeskikte voorstelle van party lede.

Ene Richard de Vente sweer byvoorbeeld by die soet-soutkombinasie van piesang en blatjang, terwyl Elaine Knight meen ’n kombinasie van appelkooskonfyt en piesang is onoortreflik. Erika van Geffen hou van knoffelbotter pleks van gewone botter en Aromat pleks van sout, Louis Kriek waarsku ’n mens durf nooit die mayonnaise vergeet nie, en ander kan weer nie sonder Marmite, Jimmy’s-braaisous, soet rissiesous of ’n kombinasie van sampioene, ham en soetrissies vir “’n lekker pizza-smakie” nie! Laat staan nog die “gourmet”- voorstelle van Paul de Bruin (knoffel, camembert en aspersiepunte), Koos Nel (vyekonfyt en biltong!) of Ansie Ward wat gorgonzola, grasuie en olywe verkies.

Wag nou, broers en susters, natúúrlik gun ek elke lekkerbekkige dier sy plesier. As jy ieder geval teen die einde van die braai na stroois gaan ruik, kan jy net sowel jou demokratiese reg gebruik en die broodjies wat jy gaan braai, maak presies soos wat jy daarvan hou.

Maar kan ’n mens twee snye brood met al dié eksotiese konkoksies nog ’n braaibroodjie noem? In my boekie? Nooit! En weet jy wat, ek vermoed Jack Parow is net so punteneurig soos ek. Waarom anders skop hy daai “Blaas jou vuvuzela”-nommer saam met die Radio Kalahari Orkes af met:

“Hallo baby, voor ek jou oopmond soen, sê my, kan jy braaibroodjies maak?”