FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Kosstories

Celeb-resep: Martelize Brink van RSG se 1-2-3-garnaalgereg met tamatiesous

SARIE.com hoor elke Vrydag by bekendes wat hul gunsteling-resep vir die naweek is. Die tweede bekende by wie ons aanklop, is RSG se gewilde omroeper Martelize Brink.

“Ek het nie ’n oopplan-woonstel in Seepunt nie, wat beteken as ek gaste nooi en kosmaak, is ek meestal weg van die geselskap. Met dié gereg kan jy die tamatiebasis lekker lank voor die tyd berei en die garnale sowat tien minute voor jy die kos opskep, ingooi en laat prut.”

Martelize, sjiek met haar blonde coiffure en bloedrooi lippe, sit dit voor met aïoli (knoffel-mayonnaise van Provence) en lang Franse baguette … en voilà! Dit werk elke keer.

1-2-3-garnaalgereg met tamatiesous

Wat het jy nodig?

  • Garnale – besluit self hoeveel per kop. As dit klein of mediumgroot garnale is, sal ek niks minder as 4 – 5 per persoon gebruik nie. Kies dié met die kop aan, waarvan die agterkant oopgesny en skoongemaak is. Die kop is propvol geur. Indien jy by ’n viswinkel koop, sal hulle die garnale vir jou skoonmaak. Só nie, gebruik ’n báie skerp mes (pasop!) en sny die rugkant of stert van die garnaal oop en verwyder die dermpie. Gaste geniet dit om die dop met hul hande af te “skil”. (Onthou om ’n paar bakkies met water en suurlemoen op die tafel te sit sodat jou mense hul hande daarin kan was.)
  • knoffel
  • rissie
  • 1 blikkie goeie tamaties – ek gebruik Italiaanse tamaties
  • lourierblare
  • witwyn
  • sout en peper na smaak
  • vars koljander

Hoe om dit te maak

  • Braai die knoffel en rissie in ’n lekker groot pan of pot.
  • Voeg die blikkie tamaties, lourierblare en ’n lekker skeut wyn (sowat twee koppies) by. Geur na smaak met sout en peper. Laat kook vir sowat 30 minute op lae tot medium hitte tot ‘n lekker dik sous. (Dit moet glad nie waterig wees nie, maar ’n dik sous. Die garnale trek ook hul eie water en jy wil nie sit en wag vir die water om weg te kook nie, want dan raak die garnale te gaar.)
  • Die lekkerte van dié sous is dat jy dit lank voor die tyd kan maak – 10 tot 15 minute voor julle wil eet, kan jy dit net warm maak en die garnale bygooi. Die “truuk” is om die garnale nie te gaar te maak nie. Sodra die dop pienk is, is dit gaar (dit duur gewoonlik sowat 5 tot 10 minute, afhangend van hoeveel garnale jy insit en hoeveel sous die garnale bedek). Maak seker dit kry eweredig hitte. Jy kan ook die deksel opsit sodat dit eweredig gaar stoom. Roer so bietjie om seker te maak.
  • Kap die koljander stingel en al op, en gooi net voor etenstyd oor en roer deur.
  • WENK: Jy kan selfs mossels en chorizo-wors in die plek van die garnale byvoeg.

Aïoli

Wat het jy nodig?

  • 1 eier
  • knoffel na smaak
  • 1 suurlemoen (na gelang van hoe suur jy dit wil hê)
  • skat sowat een derde olyfolie en twee derdes sonneblomolie . . . dit is maar net iets wat ek aanvoel. Dis moeilik om te verduidelik hoeveel om by te voeg.

Hoe om te maak

  • Plaas die eier, stukkie knoffel en suurlemoen se sap in ’n bakkie waarin jy jou klitser kan gebruik. Begin klits en voeg stadig maar seker olie by. Jy sal sien hoe dit dikker word. Voeg ’n knippie sout by soos jy aangaan. As dit té veel na harde werk klink, koop sommer net ’n lekker romerige mayonnaise by die supermark.
FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Saam op die spyskaart

Maak jou eie baguettes

FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Groenslaai

FOTO: Donna Lewis SARIE KOS AUG/SEP 2012

FOTO: Donna Lewis
SARIE KOS AUG/SEP 2012

Lees ook