patatrol
Kosstories

Chelsea-bolletjies met oorskietpatat

Met oorskietkos kan jy altyd ’n lekker plan maak. Dié resep kom uit my kinderjare en is een van daardie lek-jou-lippe-af-geregte. 

In ons gesin is daar altyd patat oor. My ma het die gewoonte om ons Saterdae aan die werk te steek – al die kinders én ons metgeselle – en dan skil ons patats, hopeloos te veel om alles op te eet.

Vir hierdie resep gebruik ek die oorskietpatat. Maar dit is só lekker, jy sal sommer patat wil gaarmaak net hiervoor.

Ek gebruik winkeldeeg, maar maak seker jy sit dit op ’n warm plek dat dit behoorlik kan rys. Ek verkies ’n vierkantige oondbak waarin ses opgerolde Chelsea-bolletjies gemaklik sal pas – die bak is so 26 – 31cm groot.

Hierdie soet rolletjies is ’n lekker bykos. Of sit dit voor as warm nagereg met roomys, soos jy malvapoeding sou eet.

genoeg vir 6

• 1 sakkie winkeldeeg
• 2 mediumgroot patats, opgekook en gepuree
• 30 ml fyn kaneel
• 130 ml ligte bruinsuiker
• 250 ml (1k) room


Verhit die oond tot 180 °C en berei jou oondbak voor deur dit met kleefwerende kossproei te spuit.

Strooi meel oor werkvlak en rol die winkeldeeg uit. Mik vir ’n lang reghoekige vorm.

Smeer patatpuree eweredig oor die hele stuk deeg en strooi dan die helfte van die kaneel en die helfte van die bruinsuiker liggies oor.

Rol die deeg van die langste rand af op sodat dit ’n lang silinder vorm. Sny die punte mooi af en verdeel die res van die rol in ses dele. As jy wil, kan jy ook kleiner porsies maak, maar onthou dan om ’n groter bakplaat te gebruik.

Plaas nou die gerolde bolletjies met die spiraalkant na bo in die oondbak, maar moenie die deeg platdruk nie. Strooi die res van die kaneel en bruinsuiker bo-oor.

Gooi die room oor die Chelsea-bolletjies.

Bak vir 30 tot 40 min of tot ’n toetsnaald skoon uitkom.