Kosstories

Crème Brûleé se geheim

In werklikheid het jy nou al so groot geskrik vir die naam Crème Brûleé, dat jy skoon van ontsteltenis vergeet het hoe om ’n eier te skei en in trane uitbars asof jy verfilm word vir die jaar se Master Chef Suid-Afrika!

Ontspan.  Die Franse nagareg is bloot ’n bakkie gebakte vla – eier, melk en suiker. 

Keer op keer flous ek nou al my gaste om te glo dat ek ’n meesterkok is as ek die Franse term oor my tong laat rol en die bakkie vla vir hulle opdien.  Nimmer weet hulle hoe maklik die nagereg eintlik is.

Vir ’n Crème Brûleé wat jou nie in die steek sal laat nie, moet jy net 3 stappe onthou.

Liezl se 3 onthou dinge

1. Verhit die melk

Begin deur jou melk te skaldeer. Skaldeer beteken net jy verhit die melk todat daar stoom begin vorm, voordat dit begin kook.  Hierby voeg jy nou jou geurmiddels soos vaniljepeul.

Wenk: Wanneer die potjie melk warm genoeg is, draai die hitte af en los dit op die stoof met ’n deksel op.  Dit gee die melk kans om die smaak van die geurmiddels aan te neem.

 2. Temper die melk

Voeg die melk in ’n dun stroom stadig by eiermengsel om te verseker dat eiers nie gaar word nie.

3. Waterbad

Wanneer jy jou vla in die oond gaan sit, moet die bakkie in ’n waterbad gesit word om te verseker dat jy nie roereiers maak nie.  Sit eerstens ’n vaddoek onder in jou oondbak, vir ekstra isolasie.  Plaas dan jou bakkies bo-op en gooi warm water in die oondbak – die warmste kraanwater is gepas, jy hoef nie water te kook nie.

Liezl se resep

Amarula en Rooibostee Crème Brûleé

  • 150ml Room
  • 70ml Amarula
  • 1-2 Rooibostee sakkies
  • 60g Suiker
  • 2 Eiergele

Genoeg vir 4 porsies

Verhit room, suiker, rooibos tee en amarula

Plaas room, amarula, rooibostee en 30g suiker in ’n klein pot en skaldeer.

Draai hitte af en laat staan vir 5 minute sodat geur te ontwikkel

Draai die hitte af, sit deksel op en laat staan vir 10 minute.

Gooi die roommengsel in 'n dun straal by eier-suikermengesel

Meng eiergele en 30g suiker en voeg dan roommengsel in ’n dun stroom by terwyl jy roer.

Plaas bakkies in 'n waterbad

Vul ramekin-bakkies (of enige oond-bestaande-bakkie) ¾ vol en bak in ’n waterbad vir 40 minute teen 150C of todat die vla soos gestolde jellie lyk (in die middel nog effens tril).

Gebruik blaasvlam om 'n dun karamellaag bo-op te vorm

Koel af in die yskas vir ten minste 3 ure.  Strooi ‘n dun strooisuikerlaag bo-op en karamaliseer met ’n blaasvlam. 

Die ryk nagereg kan op sy eie bedien word

Geniet hierdie ryk nagereg so, sonder tierlantyntjies. Die suikerlaag is sommer die garneering!

Klits-en-Klets Kok

Liezl