diaan-lees-nou-blocks
Kosstories

Diaan Lawrenson se gunsteling-winterkos

Maak hierdie winter Diaan en haar man, Jody Abrahams, se gunsteling-bredies.

Diaan se gunsteling is Ouma Soekie (Jody se ouma) se gerookte tamatiebredie en ook Jody se lamskenkels. Albei is altyd wenners in hul kombuis.

sk0907diaan_ula01

Ouma Soekie se gerookte tamatiebredie en Jody se lamskenkels

Ma Soekie se gerookte tamatiebredie

4 – 6  porsies

  • 50 ml olie
  • 1 kg skaapvleis, op die been
  • 2 groot uie
  • 1 blik (410 g) gekapte tamaties
  • 4 naeltjies
  • 2 groot stukke kassia (of 5 ml fyn kaneel)
  • 2 salieblare
  • 2 ml tiemie
  • 1 groot groen brandrissie
  • 15 ml suiker
  • 2,5 ml sout
  • 3 ml fyn swartpeper
  • 4 mediumgroot tamaties, gerook*
  • 15 ml bruin sjerrie
  • 1 knoffelhuisie, in skyfies gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit olie in ’n groot kastrol en braai vleis tot bruin. Verwyder vleis van kastrol en braai uie tot bruin. Voeg geblikte tamaties, naeltjies, kassia, salie, tiemie en heel brandrissie by. Verlaag hitte en maak toe met ’n deksel. Laat prut vir 1 uur. Voeg suiker, sout, swartpeper en gerookte tamaties met hul sap by. Bedek en prut vir nog ’n uur (voeg water by indien nodig). Voeg sjerrie en knoffel by, geur met sout en swartpeper en prut vir nog 30 minute. Jy kan die deksel verwyder as daar nog baie vloeistof is. Die sous moet dik wees, met ’n soet kaneelgeur. Sit voor saam met ’n ring soet kardemom-gegeurde geelrys.

 *Rook die tamaties in ’n klein roker met eike- of appelhout-splinters.

Om te drink
Le Bonheur Prima, ’n cabernet sauvignon/merlot-versnit

Tamarinde-skenkels

4 – 6 porsies

  • 4 lamskenkels
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 150 ml meel
  • 50 ml sonneblomolie
  • 250 ml warm water
  • 125 g tamarinde-pasta
  • 2 groot uie, in skywe gesny
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 groot lourierblare
  • 30 ml bruin sjerrie
  • 15 ml heuning
  • 2 ml wonderpeper (allspice)

Geur die lamskenkels goed met sout en swartpeper. Rol skenkels in die meel en skud oortollige meel af. Verhit olie in ’n groot kastrol en braai skenkels tot goudbruin. Verwyder van hitte en gooi oortollige olie af. Meng water met tamarinde-pasta. Voeg die uie, knoffel, lourierblare, bruin sjerrie, heuning en wonderpeper daarby en gooi oor die skenkels. Geur met sout en swartpeper en maak toe met ’n deksel. Laat prut vir minstens 3 uur tot sag. Jy kan dit ook vir 1½ uur teen 180 ºC in die oond sit.

Om te drink
Rickety Bridge Shiraz