Kosstories

Die dag van die tjop

‘n Vriendskaplike geskilletjie tussen wynstreke is eens en vir altyd besleg…in die Groot Stryd om die Beste Skaapvleis. En die wenner is…

Ken jý die verskil tussen ‘n swartkop-dorper en ‘n vleismerino? Kan jy die geurverskille raakproe tussen ‘n skaaptjop uit die suide en ene uit die noorde? Die fyn nuanses onderskei tussen vleis van ‘n skaap wat in sy vormingsjare aan bossieveld weggelê het en een wat stoppelland-weiding of klapklawer as sy daaglikse brood gehad het?

Dié verskille is so ‘n ernstige saak dat dit die manne van die Oranjerivier-wynstreek in die noorde en die Durbanvillewynvallei in die suide geïnspireer het om mekaar die stryd aan te sê met die eerste terroir-takserende Noord-Suid-Wynlandlamstjop-uitdaging.

Die rede vir dié titaniese tjopstryd? Boere in die Boesmanland in die Noord-Kaap beweer hul skape, wat aan die wilde Kalahari-bossies wei, het die geurigste vleis. Maar in die suide meen die manne dis die stoppellande tussen die wingerde van Durbanville wat die prima-van-prima skaapvleis oplewer.

‘n Paneel vermaarde wyn- en koskenners is genooi om die pen vir mes en vurk te verruil en die tjop der tjoppe raak te proe – en dit blind te doen met hul fynbesnaarde wynneuse en geoefende palet.

Op die proepaneel was die verfrissenduitgesproke wynskrywer Neil Pendock, asook SARIE KOS en SARIE se kosredakteurs Barbara Joubert en Herman Lensing, Jeanri-Tine van Zyl van die tydskrif Wine en Edo Heyns van Wynland. Die WegRy-joernalis Jaco Kirsten en Lise Beyers, koskenner en buitelewe-skrywer vir Die Burger – albei braai-entoesiaste – het die hoed van
“blindebraaier” én beoordelaar gedra.

Die kuierstoep van die historiese Diemersdal-herehuis in die Durbanville-vallei is waar die skaapstryd hom op ‘n sonnige dag afspeel. Thys Louw, die sesde geslag op Diemersdal in die suide, het sauvignon blanc en skaap in sy bloed. “Ons boer eintlik al since forever hier met skaap op die grond waar wingerd nie aard nie. Die vleismerino’s leef lekker op stoppelland en klapklawer – hulle wei vryelik met die vars briesie van die see se kant af.”

Hy sê die een herrie van skaap- én wynboer wees, is dat skape in parstyd lam – ‘n ongemaklike konflik van belange. Uit die Noord-Kaap kom Thys se opponent, Koos Visser, bemarkingsbestuurder van die Oranjerivier-wynkelder, by die strydveld aan met sy kommetjie ribtjops vir beoordeling en ‘n skottel skaapstertjies vir die lekkerte.

Bygestaan deur sy vrou, Corrie, lyk Koos nie geïntimideer deur die uitsig op Diemersdal se wingerde en groen heuwels nie. Sy vertroue lê in sy swartkopdorper wat aan die rand van die Nama-Karoo gewei het aan “goeie gesonde gras en bossieveld deur die Here voorsien”.

Om die speelveld, oftewel die weiveld, gelyk te maak is die skaap en sy tjops aan streng spelreëls onderwerp. Geen marinades nie, net ‘n bietjie braaispesery en sout en swartpeper. Koos se tjoppies het ook ‘n skeut bruinasyn gekry. Verder is die tjops blindgebraai en -geproe, met kleurvlaggies as herkoms-identifiseerder vir die organiseerder, Emile Joubert.

“As daar wyn gepraat word, is terroir op almal se lippe,” verduidelik Emile. Tjop-terroir is egter ‘n skaap van ‘n ander kleur, iets wat Emile vorentoe saam met die mense van die Oranjerivier en Durbanville wil verander. “Wat kan interessanter wees as om daardie faktore wat wyn beïnvloed – soos klimaat en grond – ook in ag te neem met die ander smulgoed uit ons wynstreke?” sê Emile.

Albei terroirs se skape voer ‘n organiese bestaan in die vrye natuur. Diemersdal se stoppelland en klapklawer gee dié wêreld se vleis ‘n delikater geur, maar dit was die bossie-dieet van die noordelike skape wat die paneel oorrompel het. Blinkmond van die proe wys hulle die wenner aan: die Noorde loop ‘n dorperkop voor die Suide se vleismerino.

Met egte Noord-Kaapse pittigheid spot Koos Tjopkampioen toe hy uitgevra word oor hoe sy skaap in sy geharde geweste oorleef. “Maklik. Julle in die suide oorleef die winter met reënjasse en goed. Ons skaap dra bril met vergrootglase. Alles wat hulle sien, lyk groter en dan eet hulle hulle dik daaraan.”

Daar’s altyd die volgende keer, sê Thys Louw filosofies met ‘n glasie Diemersdal Shiraz in die hand. Sy strategie vir die volgende veldslag maal reeds in sy agterkop. “Met skaapribbetjie uit Durbanville kom die titel huis toe.”

Maar wat uiteindelik seëvier, is nie net vars terroir-insigte nie, maar die gees van saamdoen, saambraai en saamkuier. Die wêreld is ‘n wonderlike plek en die terroir van ons toekoms so blinkvet van belofte soos ‘n skaaptjoppie pas van die kole.

Kontak
Oranjerivier Wynkelders
www.orangeriverwines.com
054 378 880
Diemersdal Wynlandgoed
www.diemersdal.co.za
021 976 3361
Durbanville Wynvallei-wynroete
www.durbanvillewine.co.za

Hoor wat sê die braaiers

Lise Beyers, kosskrywer, joernalis en wentjop-braaier

Jou gunsteling-hout?                                                                                                                                                                                                                                             Rooikrans is perfek vir ‘n lang braaiproses. Wingerdstompies gee goeie, vinnige kole (goed vir snoek). Op die jagveld kraai kameeldoring koning, want dit brand ure.

Hoe geur jy tjops?                                                                                                                                                                                                                                              Sout en swartpeper, dalk ‘n knippie roosmaryn en ‘n knertsie suurlemoensap as hy eers op die kole is.

Hoe lyk, ruik en smaak die perfek gebraaide tjop?
Die geur moet jou laat dink aan die Karoovlakte met sy driedoring en kambro. Ek verkies ‘n rugstringtjop, minstens ‘n outydse duim (2,5cm) dik gesny. Die kole moet warm wees; die rooster nie te erg naby die kole nie. Braai die tjop so 3 minute per kant en hy’s pragtig goudbruin buite en pienk binne. So ‘n tjoppie moet jy met die hand eet!

Wat het ‘n gesoute braaier altyd byderhand?
‘n Boksie vuurhoutjies.

Ongewone dinge op jou kole?                                                                                                                                                                                                                                      Kransduif-borsies. Tarentaal nog met vere aan, in klei gepak en binne-in die kole gebak. My gemsbokkop, skoongekrap en gevryf met sout en swartpeper en in ‘n gat in die grond gaargemaak op ‘n bedding kole.

Wat gaan deur ‘n mens se kop as jy so staan en braai?
Dit is juis omdat ek so baie braai dat dit nie nodig is om sielkundige toe te gaan nie.

Die beste musiek of byklanke by die vuur?
Johnny Cash se “Ring of Fire”.

Hoe berei jy voor vir die volgende Noord-Suid-Wynland- Lamstjop-uitdaging?
Carbo-loading op Oranjerivierwynkelder se uitstekende wyne – veral die shiraz.

Jaco Kirsten, skrywer voor die vuur en joernalis

Watter hout verkies jy?                                                                                                                                                                                                                              Kameeldoring – moeilik verkrygbaar. Ek het al so baie stelle afgetrap met nat of, nog erger, gróén hout, dat ek ook dikwels brikette gebruik.

Hoe verskil tjopbraai van ander vleise?                                                                                                                                                                                                                ‘n Helwarm vuur vir tjops en steak; koeler kole en baie omdraai vir ribbetjie, skaapboud en heel hoender.

Gunsteling-tjopgeursel?                                                                                                                                                                                                                             Gemaalde roosmaryn, ‘n bietjie growwe swartpeper en soms selfs gemaalde komyn. Sout kom agterna.

Hoe lyk, ruik en proe die perfekte braaitjoppie?                                                                                                                                                                                                 Dit móét ‘n ou vetjie aan die buitekant hê. Dit moet gaar wees, maar effe pienk binne. Die vet moet geel en bros wees. Die geheim is dus ‘n warm vuur en baie omdraai.

Braaiwenk vir beginners?                                                                                                                                                                                                                                Braai is ‘n voltydse werk. Die braaier moenie ander dinge ook doen nie. Die vleis is heilig en verdien jou aandag, anders gaan jy dit opneuk.

Braai-etiket?                                                                                                                                                                                                                                                        As iemand ‘n stompie in ‘n vuur gooi, kan hy steel ook. En moenie kommentaar lewer op ander se braaimetodes nie.

Beste geskenk vir ‘n braaier?                                                                                                                                                                                                                            Lang sweishandskoene van leer is die beste uitvindsel sedert ‘n braaitang.

Braai se terapeutiese waarde?                                                                                                                                                                                                                            Dis beslis kalmerend. Maar as jy my wil laat stres, moet jy my vra om tjops saam met ‘n hoender op dieselfde vuur te braai. Jy sit tog nie boud en brood in dieselfde oond nie.

Beste byklanke terwyl jy braai?                                                                                                                                                                                                                       Saam met vroulief, Carla Bruni of Françoise Hardy. Saam met lekker pêlle … rock-plate natuurlik, agteruitgespeel.