kolwyn
Kosstories

Die pad na ‘n man se ego is deur die kombuis

DEESDERDAE IS DAAR ’N KLOMP MANNE AGTER DIE kookpotte. Nou praat ek nie van Jamie Oliver, Floyd of Justin Bonello nie – sommer gewone ouens. Tradisioneel was die kombuis ‘die vrou se plek’ bloot omdat dit van hulle verwag is en omdat die mense om hulle moes eet. Dit het duidelik verander – manne ruil deesdae resepte om die kampvuur uit – en dis nie braairesepte nie.

Elke ou se pad kombuis toe verskil; myne was met duwweltjies besaai. Menige man se eerste kennismaking met die yskas en kombuis is ’n laatnag strooptog op soek na oorskiet. Verder besef die man dat hy moontlik kan kos maak as hy ’n stuk vleis taamlik eetbaar op ’n vuur verskroei en kombuis
toe skree: “Waar’s die bykosse?” Dan as die gaste ‘oe’ en ‘aa’ oor die heerlike slaaie en ander kos, dan wonder hy…

Ek dink die meeste mans wil kos maak om ander te beïndruk: Dis bloot ’n egosentriese oefening. So was die uwe skrikwekkend bang vir die kombuis. Om ’n oop vuur, buite in die veld, kon ek woel. Maar my kulinêre towerkunsies was beperk tot sissende vleis op roosters en potkonkoksies. Die kombuis het blou kliphard gekookte eiers en rys met die tekstuur van mieliepap opgelewer. Selfs twee dae se kookkursus saam met my Boksombendevriende by sjef Topsi Venter het ontaard in ’n wynproesessie en ek’s terug oop vure toe. Resepteboeke was die tweede aanslag. Maar o wee, terme soos flaked, crushed, slivered, mashed, grated, battered en simmer, sizzle, grill, broil en sauté asook dessicated, diced, chopped, sliced, ground, minced en shredded het my na reisboeke laat gryp. Om nie eers van courgette, zucchini, scallions, garbanzos, roulade of vinaigrette te praat nie.

Maar kook wóú ek. Ek het naweke aangemeld as kombuishulp by ’n restaurant in die Paarl. Nou, ’n
restaurantkombuis is nie enige ou se maat nie. Die plek is soos ’n skip se enjinkamer en warmer as die hel. En die mense skreeu op mekaar. Ek’s terug oop vure toe, daar waar ’n man nog kan asemhaal.

En toe die waterskeiding. Die 1933-Depressie. Kom laat ek verduidelik. My pa was ’n Depressiekind. Dit wil sê hy’t dáái tyd grootgeword. Nou, ’n Depressiekind het ’n depressiewe awwêrsie in die mors van kos. Hy’t ook die gawe om daai lewensfilosofie in sy kinders se kele af te druk. “Jy eet alles op wat in jou bord is! Kyk hoe lyk die arme kinders van Biafra!” en met wrewel het ons kinders wortelen- pynappelslaai, rabarber en visoogsago afgewûrre. Ongelukkig soos die trajek van geslagte loop, is die Depressiekind se kind se kinders deurbringers. Hierdie feit manifesteer hom die dag dat my vrou op ’n weeklange kunsuitstalling weggaan. ’n Ou kan net soveel braai, so “uiteet” en skrotkosaankope word die orde van die dag. Dis toe, toe ek die yskas ooppluk en die polistireenbakkies van verskeie restaurante op my neerstort, dat ek besef my kinders waag nie hul monde aan gister se kos nie – en ek raak die duiwel in.

Onthou toe ek het iewers gelees van fritters en as kind het ek my ma se pampoenkoekies verslind. In die kas kry ek ’n pak bruismeel en ’n paar eiers en ek gryp ’n pan of twee…

Daai aand toe sit ons aan. Dis eergister se oorskietrestaurantkruisskyf in dun repe gesny en in uie gebraai, met brandrissie en olywe. Dis gister se wegneempampoen in koekies, met vanieljie, kaneel en goue stroop. Dis restaurantspinasie opgetert met fetakaas, swartpeper en roompoffertjies. Die oorskiet gebakte-aartappels-met-suurroom kry preie by en is met gerasperde cheddar oond toe.

“Magtag, Pa, dis heerlik – waar’t Pa dié gekoop?” Hulle het alles opgeëet. En egosentries het ek na binne geglimlag. En ek pluk weer die yskas oop… Wat maak ek vanaand? wonder ek terwyl ek ’n koue wit inskink. Wat van: agneau rôti de pré-salé, hoender paprikash, bhugias, bobotie of fritto misto? Terwyl ek ’n kolwyntjiepan, ’n spatel en ’n vergiettes nader skraap, besef ek: Uiteindelik! Die kombuis is myne.