Kosstories

Die smokkelstorie van chardonnay

As jy vandag teug aan ‘n karaktervolle Kaapse chardonnay waarvan die geure sommer uit jou glas wil klim, dink jy nie juis aan ‘n handjie vol wynmense se gekonkel om dié druifsoort in Suid-Afrika te kry nie. Sy plaaslike oorsprong is geheimsinnige planne wat drie dekades gelede gesmee is. Dit het selfs ‘n skelmstrekie ingesluit van wynpersoonlikhede wie se name deesdae groot respek afdwing. Sentraal in die prentjie, as ‘t ware as koerier, was nogal niemand anders nie as ‘n vorige SARIE-redakteur…

En as daardie glasie in jou hand dalk ‘n De Wetshof Bateleur is – dié landgoed se vlagskip- chardonnay, wat teen so R200 per bottel inweeg – dan proe jy die grootse resultaat van dié fassinerende “wynsmokkelstorie”, wat op sy dag groot opslae gemaak het. Die hoofkarakter was natuurlik dié landgoed se destyds jeugdige en hardekwas eienaar, Danie de Wet. Vandag is hy ‘n internasionaal erkende chardonnay- baanbreker, die aarts-gentleman en bekwame bedryfsleier.

Sy Bateleur het begin by ‘n veelbesproke pakkie “sjokolade” wat 30 jaar gelede uit die Franse hartland in die vliegbagasie van ‘n onwaarskynlike vertroueling beland het. Dit was Fritz Joubert, ‘n gesoute Paarlse joernalis en oud-SARIE-redakteur. Deur sy vrou, Maureen, wat aan die stuur was van die ou KWV tydskrif Wynboer, het Fritz bevriend geraak met die wynbedryf se jong Turke, soos Danie. In die proses het hy ‘n “opdrag” gekry…

Nou moet jy weet, hierdie einste Danie de Wet was voorsitter van die waardigste van waardige wyninstellings – die KWV – en op sy tyd ook voorsitter van onder meer die Veritas wyntoekennings. Dit het hom nie gekeer om in die vroeë 80’s ‘n streek uit te haal om sy hande op die regte plantmateriaal te lê nie. Daar was toe nog nie chardonnay op ons winkelrakke nie, maar Danie wou met die wêreld saampraat…

Die ander “sindikaatlid” was Jan Boland Coetzee, die oud-Springbok-losvoorspeler, wat deesdae op Vriesenhof buite Stellenbosch boer. En wees verseker, Jan was voor in dié baanbrekersbeweging – en op die ou end een van die stout seuns wat verantwoording moes doen voor die Klopper-kommissie op Stellenbosch, omdat hulle die land “in gevaar gestel het” deur die kwarantynreëls vir plante te verbreek.

Nie dat Danie, wat saam met sy wynmaker-trawante met ‘n waarskuwing weggekom het, die wet ligtelik opneem nie. Dit was net ‘n kwessie van desperaatheid en oorlewing in die mededingende wêreldwye arena van wyn, vertel hy.

“En met respek: As dit moes, sou ek dit weer doen.”

Tydens ‘n besoek aan De Wetshof in die Robertsonvallei vertel Danie hoe die ding nou eintlik inmekaar gesteek het om vandag ‘n “wettige” Chardonnay Kloon 9 hier te lande te produseer.

Danie het net verlede jaar die tuig neergelê as voorsitter van die KWV, wat destyds deur hul plantverbeteringsafdeling deel gehad het aan die burokratiese rompslomp met die inbring van
nuwe plantmateriaal, ‘n proses wat ná aanbevelings van die Klopper-kommissie in 1986 meer vaartbelyn gemaak is.

Hy vertel destyds het verskeie dinamiese wynmense links en regs plantmateriaal ingesmokkel.

“‘n Babelse verwarring oor kultivars en identifikasie het geheers. Ons het ook gesoek vir materiaal van pinot gris, pinot blanc, pinot noir, merlot, weisser riesling …”

Jan Boland het in die prentjie gekom omdat hy destyds parswerk gedoen het vir die negociant (die Franse term vir ‘n wynhandelaar wat kleiner wynmakers se produk koop en dan in sy eie naam verkoop) Joseph Drouhin op die ikoniese Clos des Mouches in Beaune, Boergondië. Hy het ook Danie se mentor tydens sy studie by die beroemde Geisenheim-instituut vir Wynnavorsing in Duitsland, prof. Helmut Becker, geken, én ander top- Europese wynkenners wat hulle beywer het vir die belang van goeie plantmateriaal.

Hulle het die Suid-Afrikaners laat besef ons het die wêreld se belangrikste witkultivar van Boergondië, chardonnay, dringend nodig. Plaaslik is destyds net gewerk met “ordinêre” druiwe soos steen (chenin blanc), colombard en Kaapse riesling. ‘n Groter verskeidenheid was nodig – veral witwyn wat ook houtveroudering kan hanteer. Chardonnay en pinot noir is immers die twee boublokke van tradisionele, egte sjampanje.

“Dit was ook op ‘n tyd toe die plaaslike Wyn van Oorsprongstelsel gevestig is, wat enorme momentum aan ons wyngehalte gegee het, en die wêreld se eerste wynroete by Stellenbosch begin is. Maar ons het nie die edel kultivars gehad nie. En daar’s oral planne gemaak…,” sê Danie.

Intussen, vertel Fritz, het hy tydens ‘n werkbesoek aan Frankryk per trein van Parys gereis om vir Jan Boland te gaan kuier.

“Ek het hom laat verstaan dat ek op ‘n missie is en hy’t net geglimlag. Maar voor my vertrek terug Parys toe het hy vir my twee pakkies lote gegee; ek kan nie onthou hoeveel daarin was
nie. In iets soos stukke laken toegedraai en net hanteerbaar. Ek het een pakkie in my tas vervoer en die ander in my tweedbaadjie se buitesak, ingeval die doeane-ouens een konfiskeer.”

Fritz het sy pakkies streng volgens Jan se opdrag klam gehou, en dit selfs vir ‘n naweek in Parys in water gebêre in die stort.

“Daar was nooit probleme nie en die ‘geheime’ besending het veilig in die Paarl aangekom. Ek het seker ‘n eerlike gesig! Ek was maar net die koerier, eintlik die smokkelaar,” sê Fritz. Danie vertel verder hoe die destydse wingerdbou-baanbreker van die Bergkelder, dr. Desiderius Pongraçz, die lote se ogies noukeurig uitgesny en op sowat 100 onderstokke geënt het. “Daarna is dit net hier buite in ‘n paar rye in ons ideale kalkgrond geplant,” beduie Danie. Later is hulle “wettig gemaak” en vandag is hulle die Bateleur-blok van sowat 30 rye.

“As ons deur al die wetlike prosedures moes gaan om chardonnay in Suid-Afrika te vestig, sou ons twee dekades agter die res van die nuwe wynwêreld gewees het,” vertel hy. “Dit neem
40 jaar om met ‘n nuwe kultivar te leer werk, met faktore soos grond, klimaat, terroir, asook die vate en die veroudering.”

Dat De Wetshof meesterlik hierin geslaag het, word bewys deur die betowering van hul volbloed-beste wanneer daardie edel wyn oor jou tong spoel. Alles danksy die intensiteit van die Clos des Mouches-kloon “met sy geurlae, elegante sitruskarakter, lae pH en goeie struktuur,” sê Danie.

En, natuurlik, danksy die vernuf van Danie en sy trawante.