Screen Shot 2016-03-01 at 3.59.04 PM
Kosstories

As die son opkom in Pretoria

Vroegoggend al sit Pretoria se eetplekke vol mense wat hulle verlustig aan die aroma van varsgemaalde koffie en die geur van spek wat braai. Ons gesels met ’n paar bekende inwoners van die stad oor hul voorliefde vir ontbyt

Dis die klimaat wat maak dat Pretoria se mense soggens uit hul huise stroom om om ’n tafel te gaan kuier. Só glo Pieter Mathews, argitek en sameroeper van die guerrilla-kuns-biënnale Cool Capital, wat tweejaarliks in dié “dorpstad” gehou word.

Anja’s Tea Garden

“In die lekker natuur onder die bome is Anja’s Tea Garden by Tina Skukan-galery,” sê sangeres Anna Davel. “Die ontbytpannetjie is lieflik en daar is altyd ’n kunsuitstalling wat dit interessant maak. Die banting-burger en banting-kaaskoek is fantasties.”

Afro-Boer

Afro-Boer is kindervriendelik en gelisensieerd. Die tuin is lieflik en daar is verskillende sit-areas. Die gebak is uitsonderlik.

Blos Café

“Vir diegene met kinders is Blos ’n tradisionele Afrikaanse eetplek met baie buitelug-speelplek,” vertel die skrywer Irma Venter. Blos maak voorsiening vir al die fietsryers in die ooste van Pretoria met spesiale fietsparkering. Ook banters kan saam eet.

Café Beyritz

Hier sukkel jy oor naweke om plek te kry as jy nie daar is wanneer die deure oopmaak nie. Goeie en vriendelike diens maak dit ’n gunsteling onder gereelde kliënte.

Café Bree

“Die kos is altyd heerlik, great diens, billik. Dis klein en intiem met ’n vintage-tema en heelwat kuns en snuisterye te koop,” sê Anna Davel. Sy hou veral van die geposjeerde eiers met salm op rogbrood. En natuurlik die heerlike gebak.

Carlton Café Delicious 

Tradisionele geregte van poetoepap en biltong is
staatmakers op die spyskaart. Ansjovis-roosterbrood is een van die gewildste geregte.

Coffee@Capital

Dié eetplek is deel van ’n klein kwekery. Die mieliepannekoekies wat met geroosterde tamaties bedien word, is ’n treffer. Bekostigbare, versteekte
klein juweel.

Grounded at Echo

David en Karolien van Berkel het die koffiewinkel ’n jaar gelede oopgemaak
en dis deesdae dié plek in die Moot vir ’n vinnige ontbyt, koffie of ’n stukkie koek.

Ginger and Fig

Elke dag word die brood vars gebak: suurdeeg, ciabatta en 98% rog. Sjef Zane Figueiredo maak self die gerookte spek. Probeer gerus die Franse roosterbrood met spek en geroosterde piesang.

Kleinkaap Boutique Hotel

Sanger Jak de Priester en sy gesin is gek oor dié boetiekhotel. “Dis ’n pragtige plek met groot bome, eende en swane. Daar is lekker baie plek vir die kinders om rond te hardloop. Die heerlike spyskaart sluit baie ontbytgeregte in, van die lekkerste salm tot eiers en spek, en pannekoek. Stylvol en van hoë gehalte.”

La Coco C Food Purveyors

Die spyskaart verander saam met die seisoen. Net die beste organiese produkte word gebruik. En die gebak is puik!

Les Trois Canards – The Three Ducks 

Die reuk van vars croissants nooi jou binne.

Meet on Milner

Roosterbrood met ongewone kombinasies soos geroosterde druiwe en bokmelkkaas word soggens voorgesit. Daar is ook ’n gewilde ontbytburger op die spyskaart.

Pure Cafe Restaurant

Die beste cappuccino in Pretoria kry jy hier. ’n Luilekker ontbyt, saam met jazz-musiek op ’n Saterdagoggend, is ’n groot bederf.

Salt Charcuterie, Eatery & Bakery

Die soufflé-omelet met brie is ’n besondere eetervaring. Jy kan ook kies om ’n bord saam te stel uit verskillende tuisgebakte brode, handgemaakte kase en vleise.

Stephnie’s

Aktrise Alexa Strachan vertel sy eet graag Eggs Benedict daar, dis net langs die teater waar sy gereeld werk. “Ek is ’n sucker vir ’n goeie hollandaise, vir seker my gunsteling-ontbyt, verkieslik saam met yskoue sjampanje, al is dit minus 40 grade in die middel van die winter!”

Besoek ook

Life Grand Café

Café Riche

The Deck at Irene Farm en The Barn at Irene Farm 

Irene Farm, Nellmapius-rylaan, Irene, Pretoria

Café  41

Tribeca Original

Besoek dié markte

Hazel Food Market

Pretoria Boeremark

Capital Urban Market