FOTO: Donna Lewis

Kosstories

Die storie van melktert

Kan jy nou meer, melktert is toe nie so eie aan SA soos jy gedink het nie! Talle ander lande het ’n weergawe van dié lekkerte … Hetta van Deventer-Terblanche, koshistorikus en Kokkedoor-beoordelaar, vertel meer oor die geskiedenis van ons geliefde melktert en lê familie uit.

Melkter skitter in die Melkweg van ons tradisionele koshemel. Of dit nou met kaneelsuiker of met amandel gegeur is, en of dit met ’n eenvoudige broskors of ryker skilferkors warm uit die oond voorgesit word, melktert bly trooskos. Dit is ’n heimwee-smaak van kindertyd en gesellige saamkuier-oomblikke.

Soos baie van ons ander kos-erfstukke is melktert ’n goeie voorbeeld van soetigheid wat reeds van die Middeleeue af bekend is. Dit is mos júis een van die kenmerke van ons kookkuns – dat verouderde smake, resepte en tegnieke hier behoue gebly het, teenoor ander dele van die wêreld waar die modegiere van die dag nagejaag is.

Die Romeine was reeds 2 000 jaar gelede versot op eiervla, soet en sout. Die streng vasdagreëls wat die Katolieke Kerk mettertyd ingestel het, het  veroorsaak dat monnikke en nonne – askete, maar tog ook kosliefhebbers – met mekaar gewedywer het in hul soektog na smaakvolle plaasvervangers vir vleis, vis, melk en eiers.

So is amandelpap, gemaak van amandelmelk en gegeur met gemmer en kaneel, agter die geheimsinnige kloostermure ontwikkel tot perfeksie. Met die verslapping van die vasdagreëls het gebakte eiervla in ’n tertkors weer gewild geraak. Mettertyd het die oorspronklike amandelpap ’n eiervla-pap geword en het broskors of skilferdeeg as kors in gebruik gebly. Middeleeuse resepte dui graag aan dat suiker agterna oor geregte gesprinkel moet word, net soos ons vandag nog kaneelsuiker oor melktert sprinkel.

Vandag bestaan melktert uit ’n eiervlapap wat op ’n deegbasis in die oond gebak word, en daar is diegene wat glo dat ’n egte tradisionele melktert ’n kors van skilferdeeg móét hê. Maar daar is ook ’n ander span wat hul mond aan niks anders as melktert met ’n broskorsdeeg sal sit nie. Amandel, nartjieskil, kaneel of perskeblare is die tradisionele geurmiddels, maar vandag koop ons ongelukkig sintetiese geurmiddels in die winkel. Variasies op die melktert-tema is byna so volop soos kokke self. Selfs ’n kortpad-resep vir korslose melktert word soms deur haastige kokke voorgesit. Nog ’n outydse  gunsteling uit ons kulinêre skatkis is Jodetert, wat bestaan uit sewe dun lagies bros koek
en hemelse eiervla-vulsel. Waar en hoe dit presies ontstaan het, is ’n storie van onopgeloste raaisels en gissings.

Ons tref in verskeie lande heerlike variasies van die eiervla-familie aan. Die Spanjaarde is lief vir gebakte vla en die Portugese smul graag aan klein vla-tertjies waarvan die oorspronklike resep tot vandag toe geheim gehou word. Die Franse is die trendsetters as dit by fyngebak kom en hulle het ’n paar tradisionele soet nommertjies op die melktert-tema ontwikkel. Swymelendwekkende Gâteau Basque is ’n ryk vlapaptert in ’n amandeldeeg, met die verskil dat dit bo sowel as onder bedek word met die amandeldeeg. Mille feuille en chouxpoffertjies, torte en gâteaux wink almal saam in Franse pâtisserie-vensters om verbygangers te oorrompel.

Maak nie saak watter vlapap-soetding jou gunsteling-trooskos is nie, as jy weer jouself wil bederf, maak soos kokke die wêreld oor reeds eeue lank doen en kies een van dié maklike, vinnige en bekostigbare verleidings.