StEriks_7
Kosstories

Die wêreld se duurste tjips!

Vergeet daarvan om Lay’s of Simba se aartappelskyfies as versnapering by jou volgende braai voor te sit! ’n Sweedse brouery het pas die wêreld se duurste aartappelskyfies bekend gestel en die prys daarvan gaan jou laat stik aan jou tjip …

Vir ’n boks van nét vyf aartappelskyfies betaal jy sowat R750 – dis R150 ’n skyfie!

most-expensive-potato-chips-600x442

Die brouery, St. Eriks, verkies ook dat jy dié peperduur aartappelskyfies saam met ’n spesiale bier van hul voorsit.

Volgens hulle is hierdie spesiale skyfies nie veronderstel om in een hap verorber te word nie, maar jy moet die reuk en smaak stadig ervaar.

StEriks_9

Hoekom so duur? Die bestanddele – natuurlik!

Die skyfies word elkeen individueel gegeur met eksotiese bestandele wat byna so skaars is soos hoendertande: Matsutake-sampioene, verkry uit ’n woud in die noordelike deel van Swede, truffel-seegras uit die Faroëreilande in die Noorweegse See, dille wat met die hand geoes word in die Bjäre-skiereiland, uie van die dorpie Leksand en laastens wort van Indiese wit bier.

En die aartappels? Dit kom uit Swede se  Ammarnäs-berge en groei teen ’n baie steil bult wat nie toeganklik is vir boerdery-implemente nie. Alles word steeds met die hand geplant en geoes.

most-expensive-potato-chips2-600x366

Die tjips is saam met die Sweedse nasionale kullinêre span ontwikkel met net één doel voor oë – om die eksklusiefste tjip ter wêreld te wees!

Ons monde hang oop. Wie sal soveel betaal vir 5 skyfies? Wel, die eerste 100 bokse het soos soetkoek uitverkoop …

Jy kan vir jou ’n boks hier bestel!

StEriks_7

Laat weet ons of jy ook sulke duur skyfies wil eet saam met jou volgende glas bier.