FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Kosstories

Eet soos ’n koning vir helfte van die prys

Dis geen geheim dat kospryse besig is om die hoogte in te skiet nie. Wat eens eksoties en bekostigbaar was, is nou eenvoudig net te duur. Tog wil ons steeds elke dag lekker eet. Maar hoe gemaak as ek steeds daai Spaanse chorizo wil eet of my viskoekies met Noorweegse salm wil maak? Ons deel elke dag ’n blink plan wat jou al die smaak gee, maar nie jou sak skud nie.

Spaanse chorizo

Dié varkworsie is een van my gunsteling-bestanddele, naas botter en room, natuurlik! Dis propvol geure van rook, paprika en varkvleis. As jy dit in warm olie braai, kom al die geur binne sekondes uit en dit kan alledaagse kos buitengewoon lekker maak.

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS OKT/NOV 2012

Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS OKT/NOV 2012

Maar dis wat dit kos:

Woolworths: Chorizo Sausage, R74,99 vir 225 g

Pick n Pay: Nussbaum’s Chorizo, R194,99 per kg

Spaar so geld sonder om geur te verloor: Chorizo word van twee basiese bestanddele gemaak om dit sy geur te gee: gerookte paprika en varkmaalvleis.

As ’n resep vir chorizo (225 g) vra, koop gewone varkworsies (sowat 6) en ’n bottel gerookte paprika. Braai die wors dan in ‘n ruim skoot olyfolie en voeg sowat 30 ml gerookte paprika by terwyl die worsies braai. Voeg die hele mengsel met pansous en al by jou resep waar jy chorizo sou gebruik. Hier is ons goedkoper weergawe van die klassieke Spaanse paella, perfek vir middel van die week!

Paprika

Woolworths: Smoked Paprika, R29,99 vir 50 g

Pick n Pay: No Name Paprika, R13,99 vir 100 ml

Robertsons Paprika: R20,39 vir 100 ml

Varkworsies

Woolworths: Pork Bangers, R37,99 vir 500 g (8 worsies)

Pick n Pay: Eskort Gold Medal Pork Sausage, R37,99 vir 375 g (6 worsies)

Soort-van-paella

genoeg vir 4

  • 30 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 6 varkworsies
  • 30 ml gerookte paprika
  • 2 hoenderborsies, in blokkies gesny
  • 100 g steurgarnale, skoongemaak (kyk by jou supermark vir die soort wat klaar skoon is)
  • 1 koppie (250 ml) basmati-rys
  • 500 ml hoenderaftreksel
  • 200 g bevrore ertjies
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit olyfolie in mediumgroot pot. Voeg uie, knoffel, wors en paprika by. Braai vir 5 – 8 minute of tot begin verbruin. Voeg hoenderborsies by en braai nog 5 minute. Voeg garnale en rys by en braai vir 2 minute.

Gooi aftreksel oor en verlaag hitte. Laat stadig prut vir 15 – 20 minute of tot die rys gaar is. Roer ertjies by en bring weer tot kookpunt. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

Lees nou

Inspirasiekos met SARIE se vyeresepte (episode 20)

Ons is nou lus vir Gwyneth Paltrow se avo-toast!