nagereg
Kosstories

Errieda du Toit blog: Hekel kan ek nie, maar gemmerpoeding-maak wel

Wat is ’n huis sonder ’n gehekelde doilie en gebakte poeding? My ma, Inez, is seker die ondersteunendste mens wat daar is. Sy moedig my deur my lewe aan om dinge te doen, behalwe as dit by my hekelwerk kom. Dan ontmoedig sy my. Soos onlangs weer toe ons by haar kuier, sit ons in ’n sonkolletjie. Sy hekel en ek kyk.  

Ma se vingers en hande is nooit stil nie. As sy nie orrel speel nie, hekel sy. Haar rooi mus en rooi trui het sy gehekel, so ook die kniekombersie oor haar bene, die strooikussings se oortreksels, die doilies onder elke blompot, die tafeldoek, plekmatjies, deurstopper, alles. Terwyl ons gesels, probeer ek vir die eerste keer in dekades weer my hand aan hekel slaan. Maar wat, net soos in laerskooldae is dit ’n geknoei en geploeter van dom vingers, wol en hekelpen wat mekaar nie wil vind nie.

“Nee, my kind, jy hekel darem te lelik met jou hotklou. Los liewers.” Ek lag en sit die hekelgare neer.

Ma Inez se hande is nooit stil nie, en haar handewerk is oral.

Ma Inez se hande is nooit stil nie, en haar handewerk is oral.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Al kon sy (of die naaldwerkjuffrou) my nooit leer brei of hekel nie, het sy my die kuns van die bruinpoeding goed geleer: telefoonpoeding, asynpoeding, Jan Ellispoeding, gemmerpoeding – ’n repertoire wat my nou al deur meer as 50 winters het. Orals waar ek kom, bedel ek steeds poedingresepte en dra dit soos ’n kraai terug na my nes toe, soos ’n Aussie-resep uit ’n onlangse Gourmet Traveller.

Dié resep vir die gemmerige, toffierige appel-en-peerpoeding is nie my ma s’n nie. Dit reflekteer wel haar uitkyk om met uitbundigheid te lewe. Sy is nie ’n less is more mens nie en glo dat “meer” beter is: meer liefde uitdeel, meer vir ander doen, meer kleur, meer blomme, meer hekelgoed, meer musiek, nog ’n skeppie gemmerpoeding met gemmerstukkies bo-op en nog roomys en vla ook.

GEMMERIGE, TOFFIERIGE APPEL-EN-PEERPOEDING IN SY EIE SOUS

poeding

Dié poeding het die bekendheid van my ma se gemmerpoeding, maar is ook hip en hedendaags. Die aanmaakmetode is interessant en maklik – solank jy kop hou met die afweeg van al jou bestanddele en die resep deurlees voor jy begin.

Bestanddele

  • 3 appels en 2 pere, geskil en klokhuise uitgehaal, elk in 8 wiggies gesny
  • 50 g strooisuiker, vir karamellisering van vrugte
  • botter verdeel: 50 g botter vir karamellisering van vrugte + 100 g botter gesmelt, vir beslag
  • 1 ¼ k (190g) bruismeel
  • 2 ml sout
  • bruinsuiker* verdeel: 110 g bruinsuiker vir beslag + 55 g bruinsuiker vir bolaag
  • 125 ml melk
  • 50 g gemmerstukke in stroop, fyngekap
  • 1 groot eier
  • gouestroop verdeel: 60 ml gouestroop vir beslag + 30 ml gouestroop vir die oorgooisous
  • 375 ml kookwater
  • 15 ml mielieblom

Vir voorsit: Roomys of vla, besprinkel met kaneel of 2 blokkies opgesnyde fudge

Metode

  1. Voorverhit oond tot 180 °C. Smeer 6 vlak oondvaste bakkies (sowat 350 ml elk) of 1 oondvaste bak (1,5 l).
  2. Karamelliseer die vrugte só:  Plaas strooisuiker en die 50 g botter in ’n pan oor matige hitte en laat smelt. Sodra dit effe begin verbruin, pak wiggies vrugte in en laat verbruin – draai 2 – 3 keer om. Dit sal sowat 8 minute neem.  Plaas die vrugte in die oondbak of bakkies en hou eenkant om af te koel.
  3. Maak die beslag só: meng die bruismeel, die 110 g bruinsuiker en sout in ‘n bak. Voeg die melk, eier, gemmerstukkies, 30 ml gouestroop en 100 g gesmelte botter by en roer deur tot glad. Skep oor die appelwiggies.
  4. Meng die mielieblom en die ekstra 55 g bruinsuiker in ‘n bakkie en strooi dit oor die beslag.
  5. Meng die kookwater en 30 ml gouestroop in ’n beker, giet dit versigtig  oor die agterkant van ’n lepel bo-op die beslag. (Moenie bekommerd raak as die beslag verdrink in die sous nie. Die poeding se onderdele sorteer hulself perfek uit as dit bak).
  6. Bak tot mooi bruin en gaar.  (*As jy ligte bruinsuiker gebruik het, sal die bokant goudbruin wees). 20-25 min vir kleiner bakkies; 40-45 minute vir groot bak. Sit warm voor.

Lees ook: