FOTO: Ian du Toit se hoendersop

FOTO: Ian du Toit se hoendersop

Kosstories

Errieda du Toit blog: Hoendersop en die huweliksformulier

Hoendersop het gewoonlik meer te make met verlange na ma’s en oumas as sieketroosters, eerder as ’n bevestiging van romantiese liefde. Hierdie is ’n hoendersop-storie wat homself begin skryf het – 33 jaar gelede tydens ’n mooi seremonie waar trou beloof is om mekaar by te staan in tye van voor- en teenspoed, siekte en gesondheid.

Die laaste twee weke word een na die ander vriend en kollega om my platgetrek deur ’n nare griep. Uiteindelik trek die kiemkring so nou dat ek die eerste pasiënt in ons huishouding word wat in die bed beland.

“Ek maak vir jou sop, rus jy en word gesond.” My man, Ian, se woorde.

My oë rek, nie net omdat hy nog nooit self sop gemaak het nie, maar ook toe hy sonder my hulp ’n inkopielys opstel met alles op wat hy gaan nodig kry vir ’n “penisillien-hoendersop” wat ’n Jewish mama sal troef.

Ek hoor later sy motorsleutels klingel en inkopiesakke ritsel. My bewondering styg, want ek weet hy haat dit om kruideniersware te gaan koop.

Die hele Saterdagmiddag terwyl ek onder dik komberse lê en koud, dan warm kry, tuit ek my geblokte ore vir kookklanke uit die kombuis. Ek hoor hoe hy in die potte-en-panne-kas skrop agter die grootste sopkastrol aan.

Dis eers toe hy die skinkbord voor my neersit, dat ek sien hy het brood gebak ook. Die snytjies varsgebakte saadbrood lê gebotter langs die lepel en die sopkommetjie.

Ons eet saam, die kontras tussen ons twee groot – nog nooit was hy vir my mooier in sy grys trui nie, of meer die toonbeeld van sterkte en gesondheid nie. Ek, in teenstelling, moet iets allervreesliks lyk met my rooi neus, natgeswete voorkop en onvleiende flennie-pajamas. Geen teken van die fyn bruid van destyds nie.

“Dis ’n toneel so reg uit ons huweliksgebooie van 33 jaar gelede,” sê ek. “Daai deel van in sickness and in health.”

“Staan dit daar?” vra hy.

Ek lag tussen die kug deur. Al onthou hy nie die woorde van die huweliksformulier nie, leef hy elke komma en punt van sy “I do” met hierdie sop en brood uit.

IAN SE HUWELIKSFORMULIER-HOENDERSOP

IMG_8579

Hierdie resep is geskryf na Ian se vertelling en sy rowwe notas tydens die kosmaak-proses. Sy geheim om die sieketrooster-sop op te hef, is om op die laaste nog ’n paar druppels asyn en witpeper by te voeg, net nadat dit in die sopkommetjie ingeskep is. Die vuurwarm stoom is dan selfs meer helend, meer aromaties en meer van ’n liefdesgebaar.

Bestanddele

1 mediumgroot na kleinerige heel hoender
bietjie olie (so ’n glug-glug, sê hy)
2 groot of 3 middelslag-uie, opgekap
2 preie, goed gewas en in ringe gesny
125 g sampioene, afgevee en in skyfies gesny
3 vet knoffelhuisies, gerasper
stuk gemmer so groot soos jou duim, in vuurhoutjies gesny
1 – 2 rooi brandrissies, ontpit en opgekap (as jy dit baie warm soek, hou meer van die saadhuis in)
groot bos sopseldery, gekap (hou ¼ hiervan apart)
1 bossie sprietuie (sowat 5 stingels), in ringetjies gesny
sout en witpeper
bossie pietersielie, gekap (hou ¼ apart)
2 groot geelwortels, geskil en in vuurhoutjies of ringetjies gesny
2 hoenderblokkies, opgelos in 250 ml kookwater
2,5 l kookwater
15 ml heuning
30 ml sojasous
10 ml borriepoeier of duimgrootte vars borrie, geskil én gerasper
4 eetlepels rysasyn (kan met sap van 1 suurlemoen vervang word)

Metode

Verhit olie in groot kastrol. Verbruin hoender albei kante. Voeg uie, preie, sprietuie en sampioene by en braai sowat 5 minute. Voeg rissie en knoffel by en braai 1 minuut. Voeg wortels, ¾ van die pietersielie en ¾ van die sopseldery by. Bedek met die kookwater, gooi aangemaakte hoenderaftreksel by, plaas deksel op en laat prut minstens 60 minute tot hoender afval van die been (draai 2 keer om tydens die kookproses).

Haal hoender uit, pluis van die been af en voeg die vel ook by. Verwyder alle bene en oppas vir fyn beentjies. Sny groter stukke vleis kleiner tot happiegrootte en plaas die vleis terug in die kastrol. Voeg heuning, sojasous, borrie en rysasyn by en laat prut nog 20 minute. Proe en geur na smaak. Roer die orige pietersielie en sopseldery by.

Lees ook