FOTO: Errieda du Toit

FOTO: Errieda du Toit

Kosstories

Errieda du Toit blog: Macaroni, kaas en ‘n koekpan

Macaroni en kaas is een van die sewe wonders van die wêreld. Wys my iemand wat neus optrek hiervoor en ek sal ’n verklaring vir die vreemde fiemies by koshuisjare soek.

Mac en kaas is pleister vir ’n nerf-af siel. Nou het die nostalgie-tendens die beskeie trooster ’n ekstra hupstoot gegee. Gourmet-weergawes pronk by huispartytjies, trendy opwip-restaurante en top-eetplekke.

Vir ’n nuwe kykie na dié retro-gunsteling trek ek drie kase én ’n koekpan nader. Macaroni-en-kaas-koek. My man was so nuuskierig dat hy ewe gewilig die kerf, rasper en opkapwerk oorgeneem het.

Ek maak selfs my eie ricotta, want hierdie wit, vars kaas speel die hoofrol in die mac-en-kaaskoek; parmesaan is die byspeler en fontinakaas maak ’n cameo-verskyning. Blokkies ham rinkink tussen tuinertjies, terwyl die hipnotiese geure van smeltende kaas en vars kruie die soutkoek verder opjazz.

MACARONI- EN KAASKOEK

Bedien 6  

  • ¼ k (60 ml) botter en ekstra om die koekpan te smeer
  • 1/3 k PLUS 1 ½ k gerasperde parmesaan
  • ¼ k koekmeel
  • 4 k volroommelk
  • 1 k gerasperde fontina kaas (kan ook cheddar of gouda gebruik)
  • 1 groot eier
  • Sout en peper
  • 600 g penne pasta (rigate, wat beteken dis gerib)
  • 1 k ertjies, vars of bevrore
  • 2 k rocket, grof gekap, of jong spinasieblare
  • 1 k pietersielie, grofgekap PLUS 2 E ekstra vir oorgooi
  • ½ k vars kruisement, grofgekap PLUS 2 E ekstra vir oorgooi
  • 1 k ricotta gegeur met skil van ½ suurlemoen, indien jy gekoopte ricotta gebruik
  • 200 g ham, klein blokkies gesny

(Sien resep onder vir maklike tuisgemaakte ricotta)

Metode

Berei die koekpan voor. Smeer ‘’n 20 cm losboomkoekpan se kante en bodem met botter en bestrooi met 1/3 k parmesaan.

Maak die kaassous: In ’n groot kastrol, smelt ¼ k botter in kastrol oor matige hitte, voeg die meel by en roer vir 2 minute. Klits die melk geleidelik by en kook tot dit begin prut (terwyl jy roer). Verlaag die hitte en laat sowat 20 minute stadig kook tot dit begin verdik (dis egter nie op hierdie punt ’n dik sous nie). Haal van die hitte af en roer die fontinakaas en 1 k parmesaan by. Geur met sout en peper, bedek en hou eenkant.

Plaas die oondrak in die derde boonste helfte van die oond en voorverhit oond na 190°C. Kook die pasta in ’n groot kastrol in goed-gesoute water, roer net nou en dan tot amper gaar (dit kook verder in die oond gaar).  Gooi die ertjies by en roer net een keer deur. Gooi die pasta en ertjies deur ’n vergiettes en gooi terug in die pan. Roer die witsous by, al die rocket, 1 k pietersielie en ½ k kruisement. Roer tot net goed gemeng. Pas geursel aan.

Skep die helfte van die pasta-mengsel in die voorbereide koekpan. Skep hopies ricotta oor en helfte van die hamblokkies. Skep die res van die pastamengsel bo-oor.  Rond af met hopies van die oorblywende ricotta en bedek met ¼ k parmesaan. Bak 30 minute, sprinkel die laaste  ham en ¼ k parmesaan oor en bak nog 10 minute tot goudbruin. Laat rus in die pan vir sowat 30 minute en maak dan die kante los. Strooi 2 E elk van die pietersielie en kruisement oor.

Vat die koek tafel toe, sny in wiggies en bedien met tamatiesous en ’n vars krakerige groenslaai.

Kyk net hoe lekker lyk dit: 

Tuisgemaakte ricotta met suurlemoen

Bestanddele

  • 4 k (1 l) vars volroommelk (nie langlewe-melk nie)
  • ¼ k (60 ml) wit wynasyn – kan ook vars suurlemoensap gebruik
  • 1 t fyn sout
  • Skil van 1 klein suurlemoen

Verhit die melk oor medium-lae hitte tot 80°C. Voeg die asyn en die sout by en kook terwyl jy roer tot 85°C. Haal van die plaat af en laat staan eenkant tot die wrongel vorm. Indien nodig kan jy nog ’n bietjie asyn of suurlemoensap bysit om die wrongel aan te help. Gooi dit deur ’n moeseliendoek en laat afdrup. Hoe langer dit hang, hoe droër sal die ricotta wees. Behou die wei vir gebak en slaaisouse.

Lees ook: 

 

  • Wouter Willemse

    Interessant. Ek weet nie of ‘n gereg macaroni en kaas genoem kan word as daar nie macaroni in is nie? Hierdie is ‘n penne en kaas gebak.