Unknown-3
Het jy gehoor?

Errieda du Toit blog: Muffins, ‘scruffins’ en ander mutasies

Klink Scruffin vir jou ook meer na n leegleër uit ’n Charles Dicksens-verhaal as warm gebak wat jy saam met tee kan geniet? Tog, is dit die naam van n gebak met n muffin vir n ma en n scone vir n pa. Of in wiskundige terme: muffin + skons = scruffin.

As n muffin met n skon kan paar, kan n muffin seker maar gaan kuier by n donut ook. Die gevolg is Duffins. Dit het die in-ding geword om matchmaker te speel tussen gebaksoorte, behoorlik soos om n peerboom met n granaattak te ent.

Baie van wat ons bak en eet is die resultaat van n evolusie, soos die stukkies oorskietdeeg wat destyds in olie gebak is, en mettertyd ontwikkel het tot koeksisters wat gevleg en stroopgedoop is. Dís die Darwin-manier waarop baie van die brode, koeke en ander gebak wat ons vandag ken, ontwikkel het deur die eeue.

Ons leef nou in die era van die hibriedhuwelik, waar ‘cake’ en ‘lollipop’ saam huis opsit en n Cake-pop uitpop, een van die modegiertjies met 15 minute van faam. Ander weer – soos die Cronut (croissant + donut = cronut) het vir die fynbakker Dominique Ansel n bak-empire op die been gebring, waarvoor mense steeds ure in n tou staan en wag.

Maar genade, daar’s darem perke. Wie wil nou n Scronut eet? Dié donut-skon proe dalk lekker, maar klink te skandelig om in my mond te sit. Crookies , n gedwonge mutasie van croissants en kleinkoekies, herinner meer aan karakters uit n skop–skiet- en -opvoeterfliek as iets om met n glas melk te geniet.

Ek is lus vir bak, maar nie om huweliksraadgewer te speel vir die Muffles, n muffin wat gaan opsit het met n wafelpan, nie. (Muffles is wel n mooi naam vir n wollerige Maltees-brakkie). Dié koue dag vra eerder iets gerusstellend en bekend met net genoeg kinkel om die romanse aan die gang te hou. Martjie Malan, van M Patisserie in Stellenbosch se resep is wat ek soek – n ontbytmuffin met n sagte hart. Los die revolusie vir later.

ROOMKAASMUFFINS MET N SAGTE HART

Unknown-1

Martjie Malan van Koekedoor-faam het dié muffin-resep ontwikkel. Vir variasie gebruik salmgeur-roomkaas, en meng dit met vars dille. Ek bedien dit met botter en brandrissiekonfyt.

Maak 6 groot muffins

1 E olyfolie

1 klein ui, fyngekap

2 knoffeltoontjies, fyngekap

2 houers Parmalat laevet roomkaas (sprietui-geur), kamertemperatuur

3 eiers

1 k koekmeel

1 t sout

Varsgemaalde peper

10 ml bakpoeier

2 vars sprietuie of ander vars kruie, fyngesny vir oorgooi.

 Metode

  • Voorverhit oond na 180°C. Smeer of spuit n 6-holte muffinpan.
  • Verhit olie in n pan oor matige hitte. Voeg die uie en knoffel by en braai liggies tot sag en ligbruin. Hou eenkant.
  • In n mengbak groot genoeg vir al die bestanddele, roer 1 houer roomkaas (230g) deur tot sag en glad, voeg die eiers by en klits met n ballonklitser glad. Voeg die meel, sout, peper en bakpoeier by tot net gemeng. Voeg die gebraaide uiemengsel sagkens by om net te meng, want jy wil nie dit oorroer nie.
  • Vul die holtes van die muffinpannetjie met papierkoppies en maak twee-derdes vol. Skep opgehoopte teelepel van die roomkaas op elke muffin en laat dit insink in die beslag (maak n holte met die lepel se agterkant en druk dan die roomkaas liggies daarin). Jy sal nie al die roomkaas in die houer gebruik nie.
  • Bak 25-30 minute, keer uit op draadrak en laat effe afkoel voor bediening. Strooi fyngekapte sprietuie of kruie oor.

Lees ook