Foto: Vars pere. Pere kom in alle vorms, nes ma's

Foto: Vars pere. Pere kom in alle vorms, nes ma's

Kosstories

Errieda du Toit blog: Pere en koekbrood vir ontbyt

Soos Moedersdag naderkom, dink ek aan my pa wat elke jaar vir Ma ’n liefdesbriefie geskryf het, omdat hy (weer eens) ’n geskenk vergeet het, of om plan te maak sodat sy nie hoef te kook nie. Nie dat sy enigiets verwag het nie – want om hom en haar kinders by haar aan tafel te hê was klaar genoeg. Sy was tevrede om kos te maak, solank ons sonder om te kla afdra en kombuis aan die kant maak. 

Vanjaar bedien ek Ma met koffie-gestoofde pere op geroosterde piesangbrood vir brekfis, sodat die bederf vroegdag kan begin.

 

Net soos ma’s kom pere in baie vorms: elegante ma’s met Audrey Hepburn-nekke, soos die mooi geelgroen beurre bosc-pere. Of die beurre hardy met sy eiervorm wat so lekker ruik. Packham met die onreëlmatige lyf en groen skil – moenie dat sy talm in die vrugtebak nie, want die geel skil beteken sy raak melerig. Bon chretien met die liggeel sproeteskil, ovaal lyf en korter nek is sag en vol sap … ietwat van ’n dienende Marta. Die spikkelrige bruin forelle is op haar soetste met ’n blos op die wang. Die comice kan dalk windverwaaid lyk, maar is my en Ma se gunsteling om net so te eet.

Die winter-saffraan, ’n erfenis-variëteit, is soos ’n stammoeder vir ons plaaslike peerbedryf. Die oudste peerboom suid van die Sahara is juis ’n winter-saffraan, aangeplant in Van Riebeeck se dae – die boom staan vandag nog in die Kompanjiestuin in Kaapstad! In April het Tru-Cape, die bemarkers van Suid-Afrikaanse appels en pere, ’n winter-saffraan-peerbom in hul erfenisboord op Grabouw geplant. Hul variëiteitskenner Buks Nel het die boom geplant wat hy gekweek het uit steggies van die moederboom. En so sorg die moederboom vir die nageslagt, herlewing van gister en bewaring vir die toekoms.

 

KOFFIE-EN-KARDEMOMPERE EN ROOMKAAS OP GEROOSTERDE PIESANGBROOD

Die pere lê soos waaiers op die koekbrood met die lekkerste koffiestroop denkbaar bo-op. Die piesangbrood se mengmetode is die maklikste nog met ’n fyn tekstuur wat die koffiestroop opslurp. Rooster die brood vir ektra tekstuur. Elke element kan die vorige dag gemaak word.

 Pere in koffiesous

  • 1 ½ k (330 g) strooisuiker
  • 100 ml sterk espresso of 60 ml kitskoffie-korrels aangemaak met 10 ml kookwater
  • 4 kardemompeule, gekneus
  • 2,5 ml sout
  • 1 liter water
  • 6 ferm pere met stingels aan (nie te ryp nie)
  • 6 dik snye piesangbrood, gerooster

Plaas die suiker, koffie, kardemom, sout en water in ’n kastrol en verhit oor matige hitte tot dit net saggies begin kook. Skil die pere af, verwyder die klokhuis versigtig en BEHOU die stingel. Sny die pere in die lengte net tot by die nek. Prut 15 – 20 minute of tot vurksag in die koffiesous.

Lig die pere versigtig uit die kookvloeistof met ’n gaatjieslepel en hou eenkant om te dreineer. Gooi die kookstroop deur ’n siffie en gooi terug in die kastrol. Laat die vloeistof 10 – 15 minute afkook tot die stroop verdik. Laat afkoel.

Koffie-roomkaas

  • 230 g ongegeurde (plain) laevet-roomkaas van Parmalat*, kamertemperatuur
  • 30 ml van die pere se koffiestroop
  • Opsioneel: die roomkaas kan ook met heuning na smaak versoet word.
  • Klop die koffiestroop by die roomkaas in tot goed gemeng.

Piesangbrood (maak dit verkieslik die vorige dag)

100 g sagte botter

175g strooisuiker

2 groot eiers

2 – 3 ryp piesangs (fyngemaak)

225 g bruismeel

5 ml bakpoeier

30 ml melk

1. Verhit die oond tot 180°C. Smeer ’n broodpannetjie, voer met bakpapier en spuit weer.

2. Meet al die bestanddele direk in die mengbak af en klits 2 minute tot goed gemeng.

3. Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk en bak 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin.

4. Die beslag sal ’n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is.

5. Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak.

Voorsit: Sny piesangbrood in dik snye en rooster. Laat ‘n minuut of wat afkoel, plaas op koekbordjie en smeer ’n dik laag koffie-roomkaas op. Rangskik die peer in waaiervorm op die brood en giet koffiestroop oor. Sit voor met ’n koekvurkie.

*Belange: Ek is betrokke by die bekendstelling van Parmalat se nuwe reeks roomkase. Ek beveel dit in my persoonlike hoedanigheid ook aan, want ander geurmiddels word maklik daarby ingeklop, selfs al is die roomkaas koud.