FullSizeRender
Kosstories

Errieda du Toit blog: Speculaas, gebakte appel en vla vir ’n herfsdag

Ek het lankal geleer om nie ’n mens te takseer oor hoe sy van haar vla hou nie.

Klassieke crème anglaise is ’n wonderskone ding, liggeel van die eiers, dunnerig met spikkeltjies vanielje en nie te soet nie. Dís vir fyneet, of om roomys te maak of sneeu-eiers deftig in ’n vla-see voor te sit. “Ma-se-vla” was sommer met poeiervla gemaak, maar altyd met vars volroommelk. Altyd ’n groot beker vol.

Middel-van-die-week gebakte appels is heel gelukkig met custard wat blob-blob uit ’n langlewe boks geskink word, prakties, heel lekker en altyd gereed. Siende dat ek nie wil torring aan die vlasous nie – jy maak hom of koop hom soos jy wil – voel ek tog dat die liefdesverhouding tussen appel en vla kan doen met bietjie op-spice.

Die bekende Hollandse speculaaskoekies kan dalk net die opwinding bied vir ’n ménage à trois van herfsmake. Speculaas loop nie net in tradisionele klompe nie, maar trek deesdae modieuse skoene aan as ’n witwarm kostrend.

Ek loop self al lank met my tong uit van lus vir speculaaskoekiebotter. Die smeer (wat op die oog af lyk soos gladde grondboontjiebotter) word gemaak van fyn speculaaskoekiekrummels, en alhoewel dit nog baie skaars is in Suid-Afrika, het ek ’n flessie raakgeloop in Paradyskloof se Spar. Vir my is dit lekkerder as Nutella. (Ek moet dit wegsteek, anders eet my man dit op een slag op.) Dis ook net die ding om gebakte appels en vla op ’n tweede wittebrood te stuur.

As jy nie jou hande op ’n flessie kan lê nie, kan jy die tipiese speculaasspeserye in die vulsel gebruik. Of jy kan dit as ’n heerlike kosprojek aanpak en jou eie speculaaskoekiebotter maak, wat baie goedkoper is as die gekoopte weergawe.

FullSizeRender[1]

GEBAKTE SPECULAAS-APPELS MET VLA

Ek bak die heel appels in muffinpannetjies. So vorm die appelsappe, botter en speserye ’n heerlike eenheid in die panholtes, eerder as om op ’n bakplaat agter te bly. Ek gee nie ’n resep vir die vla nie – volg jou eie familietradisie. (’n Wenk tussen ons suikertande wat sukkel met die vetjies – Parmalat se nuwe Lite vla het nie suiker in nie, en die helfte minder kilojoules as die gewone).

FullSizeRender[2]

6 porsies

6 medium-appels, ongeskil en ontklok

Vulsel

4 dadels, ontpit en fyngekap

60 g gedroogde bosbessies, rosyne of sultanas, fyngekap

60 – 80 g bruinsuiker

60 – 80 g muesli (of gebruik krummels van 4 – 6 speculaaskoekies)

Speculaasspeserye: 3 ml kaneel, mespunt elk fyn gemmer, neutmuskaat, koljander, wonderpeper (all spice) kruienaeltjies, peper

knippie sout

klontjies botter vir bo-op elke appel en onder in die pan

vla en speculaaskoekiebotter (opsioneel) vir voorsit

 

Metode

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas ’n klontjie botter in elke holte van ’n muffinpan.

Sny reg rondom elke appel ’n fyn kepie in die skil – dit help dat die vel nie bars nie.

Meng die dadels, bosbessies, bruinsuiker, muesli of koekiekrummels, speserye en sout saam.

Druk die vulsel styf in die appelholtes, plaas in die muffinpan, sit klein klontjie botter op elke appel en strooi van die laaste vulselkrummels oor. Bak tot die appels sag is, maar nie heeltemal in mekaar gesak nie – kyk na 30 minute.

Hou die appels in die muffinpannetjies, dot dit met koekiebotter en skep vla by. Plaas die muffinpan net so op die tafel. Sorg vir ’n groot beker ekstra vla.

FullSizeRender[3]

MAAK JOU EIE KOEKIEBOTTER

Jy het ’n voedselverwerker nodig vir hierdie resep van Food52. Eksperimenteer met ander koekies ook.

  • 1 pak speculaaskoekies
  • 60 ml gesifte versiersuiker
  • 15 ml witsuiker
  • 25 ml vetvrye melkpoeier
  • 5 ml kaneel
  • knippie elk gemmer, naeltjies en wonderpeper
  • 60 ml of meer kanola-olie

Plaas die koekies in ’n voedselverwerker en verwerk tot baie fyn krummels. Meet 1¼ k van die koekiekrummels lossies af. Behou die orige krummels vir ander gebruike (lekker oor roomys, gestoofde patats of pampoenkoekies).

Voeg versiersuiker, witsuiker, melkpoeier en speserye by. Verwerk tot net gemeng, voeg olie by en verwerk verder. Skakel die verwerker na 3 – 4 minute af. (As jou voedselverwerker sterk is, sal dit nou al ’n pastasmeer vorm). Skraap die rand van die mengbak, plaas deksel terug en verwerk verder tot die smeer teen die kante van die bak begin opklomp. Vir ’n minder stywe botter, meng nog sowat 7,5 ml olie in.

Gaan aan met die proses – as jy nog olie bygevoeg het, sal die mengsel meer loperig word. Afhangend van hoe loperig jy dit wil hê, voeg nog olie 7,5 ml op ’n slag by – verwerk elke keer goed. Na sowat 8 minute se verwerking sal dit reg wees as al die koekiebotter teen die kant vassit.