errieda du toit groenboontjiebredie blog 2
Kosstories

Errieda du Toit se kosblog: Groenboonbredie bring sexy terug

Groenboontjiebredie wen nie skoonheidstitels nie. Ná ure in die pot kom dit eentonig en kakiekleurig anderkant uit, in teenstelling met die flambojantheid van tamatie- of pampoenbredie. Gelukkig, waar die nood die hoogste is, is die impak van ’n mooimaaksessie die grootste.

Mooimaakwenk 1

“I’m bringing sexy back,” blêr Justin Timberlake dit uit. “Bring the spices back,” neurie ek. My spesery-rak bied ’n herfspalet van borriegeel, brandrissierooi, roesrooi garam masala, groen kardemom en die koperglans van Kaapse kerriepoeier. My neus lei my na vet knoffelhuisies en vars gemmer en my oog val op Ma se flessie kerrieboontjies.

Die idee van kerrie-groenboontjiebredie is nie nuut nie. Ons hedendaagse bredies se Arabiese, Hollandse, Franse en vroeg-Kaapse voorsate het baie meer speserye bevat. Met verloop van tyd het dit onder die Britse invloed verskraal tot bykans net sout en peper.

errieda du toit groenboontjiebredie blog 2

Mooimaakwenk 2

Die weelde-bestanddeel in die mooimaak-kissie is tyd. Soos die brediemeester, Peter Veldsman, sê: “As jy nie tyd het nie, moet jy nooit ’n bredie kook nie.”

Ek kerf die snybone tydsaam ekstra fyn teen die skuinste met my man se knipmes. Finesse is net wat hierdie bredie nodig het.

errieda du toit groenboontjiebredie blog 2

Mooimaak-wenk 3:

Johan Odendaal, wat onder Peter se koshand grootgeword het, weet hoe om ’n groenboonbredie van ’n troebelbruin bestaan te red. Hy pas die 1/3de, 1/3de, 1/3de bredie-beginsel toe. ’n Derde aan die begin; halfpad; en weer na die einde toe. Kyk terselfdertyd of die bredie se keel natmaak nodig het. Min vloeistof, want dis ’n gereg wat in die sap van sy eie essens tot ’n eenheid kom.

Mooimaak-wenk 4:

Kleur buite die lyne in met bykomstighede in bakkies:

  • Span die geliefde soet-suur kombinasie in met warm sousboontjies en koue kerrieboontjies vir smaak, temperatuuur en tekstuur-kontraste.
  • Tamatie-en-uie-sambal.
  • ’n Rys-en-lensiemengsel gegeur met bonekruid.
  • Roer stukkies ingelegde suurlemoen deur die bredie.

errieda du toit groenboontjiebredie blog 2

Mooimaak-wenk 5:

Gestampte amandel of groenamandel (pistasieneute), wat in die vroegste jare reeds aan die Kaap aangeplant was, of gesoute kasjoeneute gee krakerigheid en kleurkontras aan die bredie.

KERRIE-GROENBOONTJIEBREDIE MET NEUTE

  • 1 kg lam-stowevleis
  • 30 ml ongesoute botter
  • 2 groot uie, fyngesny
  • 5 ml borrie
  • 6 kardemompeule
  • 15 – 20 ml matige kerriepoeier
  • 10 ml koljandersade
  • 3 knoffelhuisies, fyngedruk met 7,5 ml sout
  • 20 ml fyngerasperde vars gemmer
  • 1 – 2 rooi of groen brandrissies, fyngesny
  • ½ koppie water vir begin
  • 900 g groenbone, punte afgesny en die res gekerf
  • 2 vars lourierblare
  • 2 – 3 groot aartappels, geskil en opgesny
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • sout en peper

Metode:

Braai die vleis in sarsies bruin in botter. Gooi oortollige vet af. Gooi die uie, borrie, kardemom, kerrie en koljander by en braai 5 minute. Voeg knoffel, gemmer en brandrissie by en verbruin liggies. Voeg ½ koppie water by, krap bruin stukkies op die bodem los met houtlepel. Voeg 1/3de groenbone by en stowe 40 minute.

Voeg nog 1/3de groenbone, al die aartappels en lourierblare bly, stowe baie laag vir nog 40 minute, voeg die res van die groenbone by en stowe tot gaar. Voeg suurlemoensap en skil by, geur met sout en peper en roer deur. Strooi neute oor.

Errieda se kollegas Anita Franken en Gina Oosthuizen smul aan die bredie

Errieda se kollegas Anita Franken en Gina Oosthuizen smul aan die bredie

errieda du toit groenboontjiebredie blog 2

errieda du toit groenboontjiebredie blog 2

 

Errieda du Toit FOTO: Jan Ras

Errieda du Toit
FOTO: Jan Ras

 

 

Lees Errieda se vorige blog, “Ruk-en-rol-herderspastei“.