AA poefkoekies met sout
Kosstories

Errieda du Toit se kosblog: Hooi-hopies (klapper-en-kakao-klontjies)

Forrest Gump het die lewe gesien as ’n boks tjoklits. Ek sien dit as pick n mix, waar jy jou vreugdes kan kies, al moet jy soms jou keuses aanpas by jou omstandighede … 

Dié lewensuitkyk het in die 1970’s begin by die swietstoonbank van OK Bazaars in Voortrekkerweg, Parow. Die OK was ’n bestemmingswinkel met als van materiaal en kos tot lang onderbroeke vir mans; négligées, hakskoen-pantoffels met vere en strikkies vir die voorstedelike ma’s en ’n groot lekkergoedtoonbank vir kinders van alle ouderdomme.

By die nuwerwetse lekkergoed-toonbank was die groot soet skouspel: rakke en emmers pick ‘n mix  – ’n karnaval van elke maak en smaak. Dit was die dae voor die malls met hul lekkergoed-superettes.

Vir sy tyd was die pick ‘n mix-konsep über-progressief, die begin van selfhelp in die goue era van die afdelingswinkel. Jy het self jou lekkers in ’n emmertjie geskep, baie anders as die kafee of dorpswinkels waar jy net na die fles kon wys en die toonbank-tannie dit dan uitgehaal het.

Die pick ‘n mix se emmertjie-en-skoppie het my soos ’n grootmens laat voel – ek kon kies én skep. Maar tot die kasregister-assistent my na die werklikheid teruggebring het. Die Quality Street-sjokolades en die peanut clusters móés teruggesit word, dit weeg te swaar en is te duur vir my sakgeld of Ma se goedgunstigheid.

Die witgepoeierde malvavissies, Liquorice All Sorts en jellie-babas kon bly. Ek sou álles terugsit om één coconut cluster te kon bekostig. Die klapperkraak tussen die valerige sjokolade was vir my jong smulpaap-sintuie ’n groot sensasie. Nie eens die substandaard-sjokolade se vetterige lagie op die verhemelte kon my soet-nirvana vertroebel nie.

In my twintigerjare het die pick ‘n mix en klapperhopies verdwyn voor meer gesofistikeerde yuppie-eetgoed. Tot ons vriende Sherral en Johan Herholdt ’n gesinsgunsteling met ons gedeel het: kakao-klapper-en-hawermoutkoekies, in een bak aangemaak en mikrogolf-vinnig gemaak. Dat hulle hul binnekring-naam vir die koekie  met ons gedeel het, het die vriendskap finaal sement. P**fkoekies. Of kom ons sê dit maar, poefkoekies. Hoekom self-sensorskap toepas as SARIE-lesers self ook sekerlik ’n gereg het wat ’n snaakse naam in hul huis opgedoen het. Die soberes praat van klapper-en-kakaoklontjies, die Amerikaners gebruik ’n meer eufemistiese haystacks.

aaa stapel heelwit agtergrond

(Moet ook nie vergeet dat rosyntjies of grondbone met ’n sjokoladelagie bokdrolletjies in die volksmond geword het nie!)

Dalk ís hooi-hopies meer respektabel, hoewel ek wonder of  ’n roos by enige ander naam steeds so soet sou ruik? In my huis sal poefkoekies nooit so lekker smaak met ’n respektabele, generiese naam wat niks vertel van vriendskap nie – dit is die rede waarom ek geswig het om tog maar ’n mikrogolfoond aan te skaf.

Ons het die Herholdts se resep mettertyd bietjie aangepas en vir ’n moderne kinkel strooi ons Maldon of Khoisan-soutvlokkies oor of voeg droë rissievlokkies by die mengsel. My man, Ian, maak dit gewoonlik en is so ongeduldig dat hy dit in die vrieskas laat afkoel. Daarom eet ons dit gewoonlik in half-bevrore toestand. Dit kan ook in blokkies gesny word – noem dit dan hooibale.

POEFKOEKIES (HOOI-HOPIES OF P**FKOEKIES vir die soberes)

My beste raad: verdubbel die resep, want as jy jou eerste p**fkoekie geëet het, verloor jy alle respektabelheid

Bestanddele

  • 250 ml suiker
  • 250 ml klapper (geroosterde klapper nog lekkerder)
  • 250 ml hawermout
  • 50 g (60 ml botter)
  • 20 g (50 ml) kakao
  • 50 ml volroommelk
  • 2 ml vanieljegeursel (of 5 ml brandewyn vir die grootmens-weergawe
  • Knippie sout (vir inmeng)
  • Soutvlokkies (vir bo-op strooi)

Metode

  • Mikrogolf al die bestanddele (buiten die soutvlokkies vir strooi) vir 4 minute onbedek by 100% krag in ’n diep, mikrogolfvaste bak met ‘n volume van 2 liter.
  •  Berei die pan voor: smeer ’n bak of pan met botter of kleefvrye sproei. Nou kan jy een van twee dinge doen:
  • *Hooihopies – die ware poefkoekie – skep lepels vol van die koekies op die plaat – jy kan dit effe netjies vorm of dit net so natuurlik laat set.
  • *Hooibale: Skep die mengsel in die bak en maak gelyk. Laat dit afkoel en sny dan in klein blokkies of stafies wanneer dit koud is.

AA poefkoekies met sout AA stapel koekies

Nog van Errieda se resepte