Errieda du Toit
FOTO: Jan Ras

Errieda du Toit FOTO: Jan Ras

Kosstories

Errieda du Toit se kosblog: Ruk-en-rol-herderspastei

Hoe beskeie ’n lewe ook al, elkeen dra ’n gebeurtenis, voorspoed, geluk, hartseer, eksentrisiteit of spesiale talent in hul rond wat inspirasie kan wees vir vir ’n lied, boek of kortfilm. Só is dit ook met kos.

Herderspastei is een van die geregte wat onder die vaandel van trooskos, huiskos of nostalgiekos as outyds en alledaags afgemaak word, totdat jy ’n wonderwêreld van intrige onder die kapokkombers ontdek.

Dit was ’n ou swart-wit foto van ’n jongerige Keith Richards, Rolling Stones bad boy, wat met mopkop, klokbroek en kaalbolyf herderspastei staan en maak, wat my kos-antenna op die tradisionele huisgereg gerig het.

Keith Richards se obsessie met herderspastei is van so ’n aard dat voorskrifte daaroor deel vorm van die Rolling Stones se toer-etiket. Die hele crew weet jy raak nooit ooit aan die herderspastei as Keith nie eerste die bo-kors gebreek het nie. Hy het al sy hoof van sekuriteit en sy toerbestuurder summier afgedank omdat hulle gewaag het om die reëls te breek (hulle is darem weer aangestel!).

My nuuskierigheid was so geprikkel dat ek dit net eenvoudig moes maak. Dis nogal ’n bevrydende ervaring om hierdie ou resep (iets wat ek met my ouma en plaasherinneringe verbind) te maak op die ritme van Jumpin’ Jack Flash, Paint It Black en Ruby Tuesday! Die reuk van uie wat braai, vermeng met herinneringe van garage parties, Beechies, tienersoene en liefdesbriefies in die biologieklas.

Die musiek van jou tienerjare is ook die klankbaan waarteen mens die reëls van die establishment begin buig het. Iets wat Keith goed verstaan. Maar ek wonder tog of hy my as sy Honky Tonk Woman sal besing as hy proe wat ek met sy lieflingsgereg gemaak het.

Waar hy beesmaalvleis gebruik, het ek wildsvleis en volstruis om die helfte gemeng (minder vet in die vleis beteken ek kan meer botter by die kapokaartappels inmeng!). Hy voeg beesaftreksel by die maalvleis, terwyl ek ’n bottel craft-bier (plaaslik van pampoen gebrou) as aftreksel gebruik. Ek twyfel of hy sal kla – dis immers geskoei op die Ierse tradisie om herderspastei met Guinness Stout te maak.

Maar waaroor Keith Richards my beslis uit sy toerbus sal skop, is die truuks wat ek uithaal met die bo-kors, juis vir hom heilige grond. Ek verbreek die reëls met twee soorte kapok:

  1. Kapokaartappels gegeur met bruinbotter

Vir die bruinbotter smelt jy die botter oor lae hitte, voeg 2-3 fyngekapte knoffelhuisies by en roer tot die knoffel begin verbruin en die botter neuterig begin ruik (onthou lae hitte). Meng die bruinbotter, warm volroommelk en ’n teelepel droë of vars salie by die aartappels. En altyd sout en peper. Skep dit op die een helfte bo-op die gaar vleis en maak allerhande patroontjies met ’n vurk – dis die puntjies van die kapok wat lekker bruin en korserig gaan word in die oond.

  1. Spesery-soetpatatkapok

Vir die ander helfte van die bo-kors kook jy die patats in die skil, en geur die fyn patatvleis met gesoute botter, fyn komyn, rooipeper en gerookte paprika (melk is nie nodig nie). Sit die fyn patat in ’n spuitsak en versier die een helfte met patatrosies. Tiemie is die kruie-brug tussen die twee kapokke. Dit pak ek op die naat tussen die twee smaakwêrelde.

Gereed vir die oond

FOTO: Ian du Toit

FOTO: Ian du Toit

FOTO: Ian du Toit

FOTO: Ian du Toit

Keith Richards se herderspastei

Vir geharde Stoners wat hul herderspastei op die ouskool-manier verkies, hier is Keith se resep:

  • 1,4 kg aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • 15 ml botter
  • sout en peper na smaak
  • 45 ml olie, vir braai
  • 800 g beesmaalvleis
  • 2 groot uie, gekap
  • 2 groot wortels, gerasper
  • 350 ml beesaftreksel
  • 15 ml mielieblom
  • 45 ml water
  • 250 ml ertjies
  1. Plaas aartappels in ’n kastrol met goed gesoute water, bring tot kookpunt, draai die temperatuur laer en kook aartappels sowat 8 minute tot sag. Dreineer.
  2. Plaas aartappels, botter en geurmiddels in ’n mengbak. Maak dit fyn met ’n aartappeldrukker en klop dit dan met ’n houtlepel. Dit kan ook met ’n elektriese klitser tot donsig geklits word.
  3. Verhit ’n groot braaipan, giet olie in. Voeg die maalvleis by en braai oor matige hitte vir 5 minute, voeg die ui by en braai oor hoë hitte vir sowat 5 minute. Draai die hitte laer en kook nog 4 minute.
  4. Voeg die wortels en aftreksel by. Meng mielieblom met water en voeg by die vleis. Kook liggies vir 8 minute. Voeg ertjies by en kook net ’n minuut.
  5. Skep die vleis in ’n oondvaste bak, maak die bokant gelyk en bedek met kapokaartappels.
  6. Bak in voorverhitte oond teen 200 °C vir 15 minute. Plaas onder warm roosterelement tot mooi bruin. Maak net seker Keith Richards is nie in die rondte voor jy die kors breek nie!

Gereed om te eet

FOTO: Ian du Toit

FOTO: Ian du Toit

FOTO: Ian du Toit

FOTO: Ian du Toit

Errieda blog nou vir SARIE.com. Hou die webtuiste en ons sosiale media dop vir haar volgende blog!

Volg SARIE op FacebookTwitter en Instagram