skm1005.rugby5
Kosstories

Franse kos vir ‘n weskus-klong

Biscuits en biltong is volgens die sanger David Kramer net die dinge vir ‘n Weskus-klong. As daardie Weskusser egter 13 jaar lank in Frankryk gewoon het, moet daar ook foie gras, coq au vin, fruits de mer en camembert ingewerk word.

Die man ter sprake is Pieter de Villiers, ‘n boorling van Malmesbury – en volgens rugbykenners een van die beste internasionale vaskopstutte wat die rugbywêreld die afgelope vyftien jaar gesien het. Net, Pieter het nie vir die Springbokke gesak nie … Hy het wel sewentig toetse agter die blad vir Frankryk, waar hy as ‘n held beskou is.

Nou’s Pieter sak en pak terug in die Kaap, en hy glimlag oor die pad wat hy geloop het van Stellenbosse landbou-student en provinsiale onder 21-speler tot die sing van “La Marseillaise”, die Franse volkslied, voor 80 000 Franse rugbyondersteuners in die Stade de France in Parys.

“Toe ek in 1995 ná my studie by die Universiteit Stellenbosch en die Elsenburg-landboukollege Frankryk toe is om vir ‘n klein klub in Parys te speel, was die Franse rugbytrui omtrent die laaste ding waaraan ek gedink het. Ek wou nog altyd die wêreld sien. Maar toe kry ek ‘n aanbod van Stade Français, ‘n klub wat toe in die Franse derde liga was, om daar te gaan speel. Ek het gedink: Ja, dit sal interessant wees om ‘n bietjie te gaan leer van Franse skrumtegnieke en om nuwe, vreemde plekke te sien.”

Maar dinge het so half vanself gebeur. Pieter se vernuf as speler is raakgesien en hy het ‘n instelling van die Stade Français-skrum geword tydens die klub se vordering tot die Franse eerste liga, waar hulle nou nog in hul pienk truie duisende fanatiese ondersteuners laat brul.

“Die Franse kultuur was goed vir my omdat ek myself daarin gedompel het – boots and all,” sê Pieter. “Toe ek as 23-jarige daar aangeland het, kon ek skaars ‘n woord Frans praat. En onmiddellik is ek saam met ‘n spul vreemde Franse rugbymanne die platteland in vir ‘n oefenkamp. Dit was werklik ‘n geval van sink of swem, en ek het summier besluit om als wat Frans is aan te gryp ter wille van myself, en vir my medespelers, wat nou skielik met ‘n boerseun van Suid-Afrika in hul midde gesit het.” Vir Pieter, wat nie net ‘n Franse woordeskat en die soms wispelturige manier van rugby-speel in Haneland moes bemeester nie, was dit gou duidelik dat ‘n kennis van die plaaslike kookkuns en koskultuur in Frankryk net so belangrik vir oorlewing sou wees as ‘n goeie regterskouer in die skrum en ‘n voortsnellende rolmaalbeweging.

“Hier is ek skielik blootgestel aan goed soos boudin noir (bloedwors), foie gras (die lewer van ‘n vetgemaakte gans of eend), saucisson (droëvarkwors), cassoulet (boontjiebredie met eend, vark en skaap), calvados (appelbrandewyn) en meer soorte kase as wat daar dae in die jaar is. My Franse spanmaats het die verskillende geregte en bestanddele met omtrent net soveel erns benader as wat hulle rugby bejeën het, en dit was gou duidelik dat kos – en die kultuur rondom die verskeidenheid – een van die wydste poorte tot Franswees is.”

Of dit oor rugby of kos en wyn gaan, in Frankryk is dit passie en toewyding wat die deurslag gee. Pieter het die nodige passie getoon, en binne twee jaar kon hy die taal vlot praat. Sy vordering op die rugbyveld kan as niks anders nie as meteories beskryf word. In 1999, vier jaar nadat hy in Parys aangekom het, is Pieter gekies om die bekende trui van Les Bleus, die Franse nasionale span, oor sy kop te trek.

Sewentig toetse vir Frankryk het gevolg, onder meer ‘n hele paar teen die Springbokke. Tydens sy eerste toets teen Suid- Afrika, in 2001 op Ellispark, het Les Bleus die vloer gevee met die Bokke. Meer as een plaaslike rugbyskrywer het gewonder wat daardie De Villiers-vaskop in ‘n Franse blou trui maak pleks van ‘n groen-en-goue.

“Dit was uiteraard baie emosioneel om die eerste keer teen die Springbokke te speel,” sê hy. “Ek meen, watter Suid-Afrikaanse laaitie droom nou nie daarvan om die groen-en-goud aan te trek nie? Maar dit het nie gebeur nie, en ek was toe bevoorreg om Frankryk op internasionale vlak te verteenwoordig. Ek het ‘n kans gekry en seker die passie en toewyding van my Hugenoot-voorouers getoon om dit ten volle aan te gryp.”

Oor Pieter se vaardigheid as vaskopstut is daar min rugbykenners wat stry; dat hy een van die beste vaskoppe van sy era was, is gewis. Louis de Villiers, rugbyskrywer vir Media24, som dit goed op: “In Franse rugby word die skrum as die spel se spilpunt beskou, en goeie skrumwerkers dwing groot respek by die Franse rugbypubliek af. Pieter word in Frankryk gereken as een van die beste stutte wat hulle nóg gehad het. Dit sê alles oor wat hy op die rugbyveld bereik het en wat hy vir Franse rugby beteken het.”

En hy het nie net die rugbyveld daar anderkant warm gemaak nie. Sy liefde vir die Franse cuisine het gelei tot ‘n bykomende beroep – as mede-eienaar van die restaurant Le Stade by die beroemde Parc des Princes-rugbystadion saam met sy spanmaat Sylvain Marconnet. Wyn is nog ‘n passie en Pieter het ook Suid-Afrikaanse wyn van Darling ingevoer, wat in Le Stade asook verskeie ander restaurante in Parys geskink is.

Maar ná dertien jaar in Frankryk is Pieter (vir eers) terug in Kaapstad saam met sy Franse vrou, Hélène, en hul twee spruite, Jade (5½) en Joshua (4).

“Suid-Afrika bly ‘n wonderlike land. My vrou en kinders, asook haar ouers, wat onlangs hier kom kuier het, is gaande oor die plek,” sê Pieter, wat die Kaapstadse rugbyspan Villagers afrig en saam met sy broer, Manuel, hul ou familieplaas by Yzerfontein aan die Weskus ontwikkel.

“My hart was nog altyd aan die Weskus, en nou wil ek en my broer die plaas omskep in ‘n rustige plek wat die gasvryheid van dié wêreld weerspieël. Ons beplan ‘n restaurant en ‘n venue vir troues en onthale in daardie Weskus-seelug waarna ek baie verlang het terwyl ek weg was.”

Die geure en klanke van die De Villierse se huis in Tamboerskloof, Kaapstad, is egter pure Frans. Die huistaal is Frans, Hélène se skilderye – onder meer van Pieter (sien bl. 12) en die kinders – hang oral en sy en Pieter is albei ywerige kokke.

“Pieter is ‘n perfeksionis,” vertel Hélène. “As hy kook, moet die bestanddele perfek gerangskik wees en die potte moet in die regte volgorde langs die stoof staan. Hy raak omtrent ernstig en stil as dit sy beurt is om aandete te maak. Dis seker omdat hy by die restaurant in Parys betrokke was – Franse klante is soms vol fiemies omdat kos vir ons so belangrik is!” Die De Villiers-gesin eet graag vleis, vis, groente en kaas. Die kos wat hulle optower, wissel van ‘n klassieke Franse gereg soos boeuf bourguignon tot ‘n vars Kaapse geelstert wat sommer in rou skywe gesny is.

Pieter en Hélène erken hulle mis nou en dan die kulinêre verskeidenheid van die Franse markte – lekkernye soos têtes de veau (geposjeerde kalfskop) en foie gras is groot gunstelinge van hulle albei, maar hulle is ook gaande oor wat deesdae in Suid-Afrika beskikbaar is.

“As jy soek, sal jy kry,” sê Pieter. “Die verskeidenheid kase, groente en vleis is veel groter as toe ek destyds hier weg is. En die wyne is fantasties – ek stel dit met trots aan my Franse pêlle bekend wanneer hulle hier kuier, en hulle is gaande oor ons wyn. Al is dit soms moeilik vir ‘n Fransman om te erken daar kán ook goeie wyn in ‘n ander land gemaak word!”

Sy eie wynversameling lê nog in ‘n koel kelder onder die strate van Parys. Hy is ook ‘n vennoot in ‘n klein wynplaas genaamd Domaine Mas Angel in Faugères, deel van die Languedoc-wynstreek in die suide van Frankryk.

Dis beslis ‘n wye draai wat Pieter de Villiers geloop het. Al is jy ook ‘n Weskusklong, kan ‘n mens nie van biscuits en biltong alleen lewe nie.