sk07_1langtafels_gaskokke01d
Kosstories

Gister se kos, vars vandag!

Kospryse kwel ons, daarom hou ons maar die yskas en sy inhoud fyn dop. Om kos te vermors is eenvoudig uit.

Ons kook en koop meer bewustelik. Maar daar’s ’n paar van gister se “weggooi”-bestanddele en kos wat jy met min moeite nuwe lewe kan gee. Viva oorskietkos!

Hier is 5 smaaklike idees:

1. Gister se brood word vanaand poeding!

Foto deur Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Met die winter hier, is daar gereeld broodpoeding op my tafel. Ek maak dit van enige vorm van ou brood: croissants, witbrood en bruinbrood. Selfs broodrolletjies maak lekker broodpoeding. Die geheim is om genoeg room en eiers by jou broodmengsel te gooi. Dis wat die poeding lekker klam maak. Hier is ons leser Jean le Roux se wen-broodpoeding. Klik hier.

 2. Oorskietrys vir romerige bederf

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS APR/MEI 2014

FOTO Donna Lewis
SARIE KOS APR/MEI 2014

Terwyl ons nou so op die poedingtema is: Wat van gister se rys vir ryspoeding vanaand? Dis baie maklik.

Neem sowat 250 ml room en 125 ml (100 g) bruinsuiker en bring tot kookpunt. Voeg 5 ml vanieljegeursel by en laat kook tot met die helfte verminder het. Voeg 250 ml gaar rys by en meng deur. Verhit verder oor lae hitte en roer 2 eiergele by – maar wees versigtig dat die mengsel nie kook nie, anders gaan hy skif. Verwyder van hitte en voeg 100 g gekapte pekanneute en 100 g gekapte witsjokolade by. Sit voor met lepels frambooskonfyt.

3. Suur melk vir plaatkoekies

Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Moenie dink jy moet altyd suur melk weggooi nie. Inteendeel, daar is sommige resepte wat jou vra om die melk suur te maak, soos dié vir Amerikaanse ontbyt-plaatkoekies. Gebruik die melk wat suur is, maar nog nie geskif het nie. As dit geskif het, is dit nie meer bruikbaar nie en sal jy dit moet weggooi. Hier is my resep vir plaatkoekies, vervang die melk in die resep met jou suur melk of maak hom net so met karringmelk! Klik hier.

4. Snoek oor die kole vir Sondagaand

Foto deur Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Daar is min dinge so lekker soos snoek wat stadig oor die kole gebraai het, met lepels vol botter, knoffel en konfyt. Maar daar is altyd iets oor ná die groot kuier. Een van my gunstelinge vir Sondagaand se ete is snoekkoekies. Dis geurig en baie vullend. Klik hier vir my resep. (Jy kan die gerookte snoek vervang met oorskietsnoek.)

5. Bolognaise word herderspastei

FOTO: Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Hierdie gereg kom maak dikwels ’n draai op my tafel, want ek maak gereeld bolognaise in oormaat. Bak die bolognaise onder ’n wolksagte kombers van kapokaartapples – jy kan dit ook van blomkool maak as jy stysel vermy. Dis maklik en vullend. Ek reken jy gaan hoop daar is meer oorskiet-bolognaise as jy eers dié een geproe het. Klik hier vir my resep.

Lekker kook

Herman Lensing