cupclassiq
Kosstories

Haute kolwyntjies & koppiekoek-kokette

Kolwyntjies, wat eens die ster van kinderpartytjies was, het ontpop in die soet ikoon van ons tyd. So haute het kolwyntjies geword dat ‘n nuwe naam nodig is om die verleiding te verwoord. Die term “koppiekoekie” is al gebruik – dalk net te prakties vir iets so fyns. Cupcake is sexy. Kolwyntjies is iets vir kinders. Wat van “kraagkoekie” ter ere van haar couture-status? Of “koketkoekie” om haar stout sy te bevestig? Maar om die taalvrede te bewaar hou ek vir eers by “kolwyntjie”.

Dit was nie altyd maanskyn en suikerrose vir die kolwyntjie nie. Vir geslagte was botterbroodjies die teetydtreffer. (Jy was eers waarlik vrou as jou pasgebakte botterbroodjies by die oopbreek veertjies gemaak het.) Petits fours was die klein kunswerkies wat hul fynbesnaardheid na high teas en deftige dinees gebring het. Toe volg die era van die muffin. Kolwyntjies vol kleurstrooisels moes maar diens doen by nog ‘n kleuterverjaardag.

Maar iewers in die laat negentigs smul Carrie Bradshaw en Miranda van Sex and the City op hul spykerhakkies aan kolwyntjies – néé, cupcakes – van Magnolia Bakery. Die versiersuiker is duimdik en ‘n vuurwarm pienk. Net daar trek die onskuldige Shirley Temple-kolwyntjie die stoute skoene aan en Illustrasie Frans Groenewald herontwaak as die Marilyn Monroe van kleingebak. Oornag word kinderjare se bontversierde koekies in hul papiernessies die simbool van grootmens-bederf en ontketen ‘n koekie-ontploffing wat van Manhattan tot Moorreesburg ‘n stewige sewe op suikertande se Richterskaal registreer.

Menige boekrak spog vandag met Martha Stewart’s Cupcakes. Opmyne pronk The Hummingbird Bakery Cookbook deur TarekMalouf, geskoei op die sukses van Hummingbird Bakeries in Londen, wat 80 000 kolwyntjies per maand verkoop. So ook Cupcake Heaven (saamgestel deur Jennie Milsom) met soveel sondige kolwyntjies dat die boek na my mening ‘n ouderdomsbeperking regverdig.

Ter volledigheid – en net ingeval ek dalk eendag ‘n kolwyntjiemarathon wil aandurf – pryk ‘n borssuiker-pienk kompendium met 500 kolwyntjie-resepte ook tussen my gebak-boeke. Ek’s dalk bietjie te ouskool om oortuig te word dat die hoofstukke gewy aan groente-kolwyntjies (selfs al het dit ‘n pikante kragie) regtig cupcake-status het. Eiervrug-enkaviaarkolwyntjies kan dalk deftig klink, maar dis maar wolf in skaapsklere. Ek ken ‘n muffin as ek een sien. Begrip het ek wel vir die lae-GI nommertjies, die sjokolade- en koffie-kolwyntjies vir veganiste, en die glutenvrye jogurt-skepping geïnspireer deur ‘n Marokkaanse lekkerny. Dit lyk minstens soos sonde.

Kosprofete voorspel jaar ná jaar dat ‘n nuwe gier dit gaan onttroon. ‘n Trend wat met mening in haar kartelkragie blaas, is die macaron – die modeprinses wat uithang in Parys se sjiek koekboetieks. Dié Franse amandelkoekie se bekoring lê dalk maar net in die pragtige pienk, turkoois, château-geel en pistasie-groen. Wat ek hou van kolwyntjies is dat daar geen einde aan die moontlikhede van selfuitdrukking is nie. Ek wat nie kan hekel, brei of borduur nie, kan ‘n kolwyntjie bak. Met ‘n ryke verbeelding en taamlik stewige hand skep ek gou ‘n klein meesterstuk. Ek huiwer ook nie om vir iemand ‘n boksie fraai versierde kolwyntjies te stuur eerder as ‘n ruiker nie.

Daar’s nog redes hoekom die koek-koket se toekoms so blink lyk soos die goue stof waarmee sy deesdae haar wange bling. Kolwyntjies se porsie-beheer is ingebou en die klein vergrype miniatuur genoeg om die dieet-stemmetjie te flous. Anders as jou vergryp aan ‘n hele koek, kan jy met ‘n kolwyntjie die sosiale taboe oorbrug en ‘n hele een verorber, selfs twee. Op ‘n dag dat ek op ‘n plaasmark ‘n verleidelike toring kraagkoekies vermy, vind ek ‘n ander manier om die soet te geniet sonder die kilojoules. Ek swig voor vilt-cuisine: ‘n kolwyntjie-speldekussing versier met gekartelde vilt, spelde met pêrelknoppies en kunstige borduurwerk.

Nee wat, nie die kinder-kolwyntjie, of die couture cupcake of die grootmens-kraagkoekie het iets te vrees nie. As ons nageslagte se suikertande hulle wel eendag in ‘n ander rigting dryf, sal die onmiskenbare silhoeët van dié klein ikoon hulle wel aan haar herinner, al is dit net deur die tafeldoeke, voorskote en koekstaanders wat steeds opgetert is met die kolwyntjie-motief.