Kosstories

Herman blog: ‘Ek droom van kondensmelk’

Diegene wat my ken, weet dat ek ’n baie groot sagte plekkie in my hart het vir soetgoed. Ek gee my siel prys vir die laaste stukkie sjokolade in die yskas of die ekstra skeppie roomys. Maar daar is iets anders aan kondensmelk: Dis nie net iets soets nie, dis ’n nostalgiese onthou.

As kind het my ma geweet sy kan my maklik troos met ’n koppie tee, maar die “troos-tee” was anders as ’n gewone koppie tee. Sy het altyd so twee lepels kondensmelk ingeroer. Tot vandag toe drink ek soet tee as ek troos soek of na my ma verlang.

Net so is geen sjokoladekoek dieselfde sonder karamel-kondensmelk nie. Maar nie sommer enige kondensmelk nie. Daai soort wat jy self kook in ’n pot vol water vir drie uur. Dit proe amper net soos die Argentyne se dulce de leche.

Op die platteland het ons nog kerk-basaar gehou. Dis dan daar waar jy die beste sjokoladekoek opspoor. Versier met lepels vol van die tuisgemaakte kondensmelk – en net vir nog klein bietjie liefde was daar altyd Flake-sjokolade bo-op gekrummel!

Wie sal dan nou vergeet van Dirkie-kondensmelk? (Ek is seker nog te jonk, maar ek word vertel dat Dirkie eers Pikkie was!) Dit was vir my en my broer die grootste bederf om saam na die hoekkafee te stap en – natuurlik met die hulp van my ma se beursie – ons self te bederf met ons eie Dirkie. Ons het altyd elkeen ’n ander geur gekoop en dan deel ons halfpad. Ek het natuurlik altyd geglo hy kroek en doen my in op hierdie soet bederf!

Kondensmelk is een van daai soetgoed wat jy eet as jy jouself bederf, iemand wil omkoop of ’n maklike manier soek om jammer te se!

Ek het onlangs die voorreg gehad om Amsterdam te besoek. Die Hollanders is mos bekend vir stroopwafels. Tuis kry ons dit nie so vars soos daar nie. Deesdae vind ek myself voor die TV sit met lepels vol karamel-kondensmelk vasgevang tussen wafelkoekies. Suikersoet, en, eenvoudig hemels!

So vertel my pa ook graag hoe hulle in die weermag op die grens elkeen in die “rat pack” (blykbaar meestal eintlik oneetbaar!) elkeen ’n klein blikkie kondensmelk gekry het. Dit was dan eenkant gehou en alleen geëet as jy huis toe verlang of troos soek! Net so het my ma gereeld ook vir my ’n “rantsoenpakkie” gestuur terwyl ek geswot het, en sy het elke keer gesorg vir my blikkie troos!

Vertel my wat jy graag met kondensmelk doen en hoe jy dit onthou! Wat eet jy graag as jy troos soek in kos? My blik kondensmelk staan reg…!

HEERLIKE RESEPTE MET KONDENSMELK

1. Kondensmelkroomys

2. Vinnige kondensmelkkaaskoek

3. Gebakte jogurt-en-kondensmelkpoeding

  • Petro

    Seblief, post jou resep van die onderstebo peertert. Ek wil my man bederf en daardie tert het sy oog gevang. Ekt al die bestandele gekoop maar kan nie die hoeveelhede onthou nie.
    BAIE BAIE Dankie vir ‘n puik paar minute.

  • Francisca

    Ek soek ‘n resep vir kondensmelkysies. Net kondensmelk en water wat gevries word en dan word ysies daarvan gemaak. Ek het net nie die regte verhouding nie. Asseblief.

  • Gytha

    I feel so much hapiepr now I understand all this. Thanks!