sarie011_1bw
Kosstories

Herman Lensing blog: “Die krag van kos”

Kos was nog altyd die middelpunt van my bestaan. Ek droom van die dag dat ek die kans kry om die hele wêreld om een lang tafel te kan laat sit! Ek wil hê almal moet daar wees: vyande, vriende, geliefdes, leiers en familie.

Dit moet ‘n tafel wees wat elke kontinent, land, stad en kultuur sal verbind. Ek sien al in detail hoe die tafel gedek moet wees – natuurlik met baie blomme orals. Klein bottels en groot kristalpotte wat oorloop van lelies, sonneblomme, rose, orgideë, en ook my gunsteling-blom, dieppers tulpe. Dit is immers die natuur se geskenk aan ons om te sê: Weet jy wat? Alles sal oukei wees!

Die tafel moet ‘n toonbeeld van styl en klas wees. Net die beste silwer messe en vurke. Kristal wat soos sterre in die hemel op ’n wolklose Karoo-nag blink. Alles moet perfek wees.

Die borde sal wees soos my ouma s’n – gemaak van fyn porselein met die mooiste detail op die rand. Elke gas moet voel of hy die heel belangrikste in die wêreld is.  

Die ete moet wees soos geen ander nie. Ek sal dae kook voor die tyd. Kwepers wat stadig in hande vol suiker, soetwyn en heuning gekook word tot hulle blink soos juwele in die son.

Verseker sal daar hoenderpastei op die tafel wees, my ma se hoenderpastei. Met honderde deegrosies sodat elke gas saam met sy skeppie pastei sy eie een kry. My ma het altyd gesorg dat daar een vir elke gas is. Dit was haar manier om jou ekstra spesiaal te laat voel.  

Potte sal oorloop van groenboontjiebredie. Ure gekook tot ’n sagte moeserigheid wat met elke proeseltjie daardie skerp pepersmaak agterlaat in jou mond.

En wat is ’n liefdesete sonder lamsboud? Maar nie enige lamsboud nie. Soos die Grieke dit doen, lank en stadig gebak in die oond tot dit murgsag van die been aftrek. Voorgesit saam met warm patats, net so gebak in die oond tot dit oopbars en die botter wat stadig wegsmelt tussen die hompe lekker.

Niks fênsie nie, net eenvoudige kos. Huiskos. Natuurlik sal ek geen gas kan laat aansit aan hierdie tafel sonder oondgebakte hoender nie. Sondaghoender.

Heel plaashoender wat gestop word onder die vel met hande vol salie, roosmaryn, suurlemoen, botter en so ‘n klein bietjie neutmuskaat. Dit word dan net so heel op knoffelkoppe en aartappels gebak tot die vel goudbruin en bros is.

Brood sal daar in oorvloed wees. Van uithaler-brood soos ciabatta, eenvoudige brood soos plaasbrood en vir dié wat wil, sal daar bakke vol roosterkoeke wees. Natuurlik sal ek nooit vergeet van die vyekonfyt, kaas en plaasbotter nie. Alles met liefde gemaak.

Daar moet genoeg kos wees. Niemand mag honger huis toe gaan nie. Ons gaan kuier tot die son opkom. Vyande sal eenvoudig moet vrede maak om die tafel. Nuwe vriende sal gemaak word, familie sal mekaar opnuut waardeer.

Ek droom van daardie dag. Want een ding weet ek, elke keer as ek agter die potte inskuif, vergeet ek van alles wat verkeerd is in die wêreld. El vergeet van politiek, geweld en kwaad. Ek worry ewe skielik nie oor geld of skatte nie. Al wat ek wil doen, is om te kook. Te kook met liefde.

Elke ete in my huis word ’n okkasie. Ek sorg dat alles perfek is. Ek het al telkemale gesien hoe gaste om my tafel skielik weer lag, vinnig begin vertel van drome en nie skaam kry om hulself te wees nie.

Ek weet elke keer as ek kook dat kos een van my wapens teen die lewe is. Dis asof die wêreld bang raak vir my sodra ek my hande aan die potte slaan. Dis asof die wêreld weet dat geen mens teen die krag van kos kan stry nie.

Ek droom nog elke dag van daardie tafel, dis juis hoekom ek so graag my liefde vir kos deel met julle. Om my soort kos mag jy nie baklei nie, om my soort kos kan jy nie anders as vergewe nie. Om dié soort kos leer ons mekaar liefhê!

Iemand het my eenkeer gevra wat is die boodskap wat saam met kos moet gaan? Wat wil jy hê moet elke leser kry as hulle jou kos kook buiten lekker geregte?

Die antwoord is sonder enige twyfel: Hulle moet my liefde proe in elke happie.
Hulle moet saam met my bord vir bord, pot vir pot mense wys dat kos, soms gewoon, ander kere uithalergeregte, mekaar nader aan mekaar bring. Mens leer om lief te hê. Mens leer dat vergewe maar eintlik eenvoudig is.

  • dee

    Waar kan ek bespreek vir die 5 Nov kosteater in Kaapstad asb?,!
    Groete
    D du Plessis

  • Sonny

    Me and this article, stiitng in a tree, L-E-A-R-N-I-N-G!