Kosstories

Die basiese bestanddele wat in jou koskas moet wees

Om lekker kos te kan maak moet jy sekere dinge in jou kos- en yskas hê. Hier’s ’n paar van my gunstelinge – jy sal dit altyd in my huis kry. Hiermee kan jy enige tyd onthaal en mense oornooi sonder om bekommerd te wees dat jy iets sal kortkom.

Hier’s die lys:

Eiers

Van soufflé tot gebakte vla, ontbyt of koek – eiers moet jy hê. Die meeste supermarkte se eerstegraad-eiers is te kry in pakke van 6, 18, 30 of
 60. Die superjumbo-grootte is in pakke van 6 beskikbaar. As jy eiers soek met ’n langer rakleeftyd, wees op die uitkyk vir gepasteuriseerde eiers, wat gewoonlik beskikbaar is in houers van 6 of 12.

Melk

Vir vanoggend se koppie koffie en vanaand se witsous tot weer môreoggend se ontbyt. Kies by jou naaste supermark uit laevet-, volroom- of vetvrye melk. Ek het ook altyd ’n boks langlewe-melk in my kas om seker te maak ek is veilig vir daai oggend wat die melk suur is! ’n Dag kan mos nie begin sonder ’n koppie boeretroos nie.

Room

As jy my yskas oopmaak, sal jy altyd room daar sien. Die lewe is gans te kort om net so nou en dan jouself met ’n romerige sous of luukse kapokaartappels te bederf. As jy weer lus raak vir kapokaartappel, gooi ’n ruim skeut room by en rasper vars neutmuskaat (nutmeg) oor. Heerlik! As jy bang is vir botter, gebruik room, sê Julia Child en ek stem ruiterlik saam.

Olyfolie

Geen kombuis is rég daarsonder nie. Koop altyd olie waarvan die etiket sê “Extra Virgin”. Onthou, olyfolie is meer as net iets waarmee jy kos gaarmaak, dit gee ook geur.

Botter

Sorg altyd dat jy gesoute sowel as ongesoute botter in jou yskas het. Gebruik gesout vir kook en ongesout vir bak. As jy botter op afslag sien, koop ’n paar blokke, sny dit in porsies en vries dit.

Geblikte tamaties

Koop dit heel of gekap of dan die kersietamatie-soort, maar dié staatmaker moet altyd in jou koskas wees. Dis perfek vir vinnige souse, bredies, pastageregte of enige stowegereg wat jy stadig gaarmaak. Ek het altyd 3 tot 4 blikkies in my kas.

Altyd in jou kas, maak nie saak wat nie:

• uie

• knoffel

• sout

• swartpeper

Lees ook

7 dinge in die kombuis wat jy in jou 20’s moet baasraak!

Die beste knoffelbrood nóg!

Spinasie-en-parmesaan-soufflé