sarie_kos_junie_julie_2012_lr
Kosstories

In jou Junie/Julie 2012-uitgawe van SARIE KOS (ook vir mans)

Fliek op ‘n leë maag is nooit ‘n goeie idee nie. Eat Pray Love met aktrise Julia Roberts het my byna gebreek. Nie toe sy haarself weer vind in Indië nie, en weer liefde in Bali nie, maar oor alles wat sy geëet het in Italië! Met daardie eerste hap pizza met die dun, krakerige kors wou ek na die naaste pizzeria hardloop. Maar toe moes ek nog deur die bakke hemelse pasta, die kaneel-gemmerroomys én o tog, die soet, vars vye en prosciutto (Italiaanse ham) sit.

Wat sê ek oor Chocolat? Mooi speel Juliette Binoche die vrou wat ‘n sjokoladewinkel begin en ‘n klein dorpie op sy kop draai met haar soet plesiertjies. Sjokolade word die metafoor vir verdraagsaamheid en medemenslikheid. Maar daardie naby-skote van warm, lopende, fluweelagtige sjokolade – met ‘n tikkie chilli daarby – het my laat besef die lewensles is veel eenvoudiger: vergeet diamante, sjokolade is ‘n vrou se beste vriend.

In Babette’s Feast het ek in verwondering gekyk hoe ‘n feesmaal met liefde berei word en uiteindelik ‘n Oscar loskook! In Julie & Julia het ons saam met Meryl Streep die fantasie van Paryse kosmarkte ervaar, en glo dit of nie, die bros brood in die animasie-prent Ratatouille het summier my gedagtes gestuur in die rigting van ’n warm, vars baguette en ‘n goeie stuk kaas.

Maar niks klop cowboy-kos in ‘n cowboy-movie nie! Wanneer die grotes, John Wayne, Steve McQueen, Charles Bronson, Clint Eastwood, ná ‘n warm dag tussen niks en nêrens van hul perde afgeklim en die stof uit hul hoede geklop het, het ‘n vuurtjie begin knetter onder die sterre. Die pan het te voorskyn gekom – ook die geblikte tamatie, soms aartappel, ‘n bietjie vleis en áltyd my gunsteling, bone. Alles is saamgeroer en net so uit die pan geëet. Kleintyd al het ek gedink: Dalk huil cowboys nie, maar kóók, dié kan hulle!

Geniet die uitgawe, veral as jy een van ons spesiale manslesers is. En kyk op bl. 18 hoe eet van ons manne vandag – ewe cowboy-styl.

Die volgende uitgawe van SARIE KOS is 1 Augustus op die winkelrak

Groete, Michélle

Hoender in bier Vryheid, gelykheid en boendoekos
Jy en die manne breek weg vir die naweek, en al voel die beskawing ligjare ver, wil julle steeds weglê aan koningskos wat julle vinnig, maklik en meoiteloos kan saamslaan.
Oondgebraaide lamskenkels 15 eenpot-geregte
Dis die lekkerste manier van kook. Gooi alles saam – vleis, groente, kruie – en proe hoe goed pas al die geure in net een pot.
Tamatieblatjang Toor met tamaties
Hulle is rooi, hulle is mooi, en hulle is so veelsydig dat daar byna nie einde is aan die geregte wat jy met tamaties kan maak nie, soos die 3 maklike resepte hierby. Jy kan ook jou eie blatjang kook en dit voorsit met varsgebakte potbrood.
Beste broodpoeding Beste broodpoeding
Jean le Roux van Witbank se resep is ‘n warm wenner vir die winter.
Dine van Zyl Ons praat met die koningin van boerekos – Dine van Zyl
Dine van Zyl voel of die mat onder haar voete uitgeruk is as sy die aand nie kan kosmaak nie. Boerekos, huiskos. Dis in haar DNS. En nou bied sy die reeks Boerekos oor dié ‘hartsliefde’ op kykNET aan.
Spek-en-avokado-slaai 

Warm slaai vir die winter
Dis lank nie meer net vir somersdae bedoel nie. Oondbfraa uit, beet, spek of botterskorsie en proe net hoe heerlik smaak dit in die koue.

 

Ham-en-ertjiesop

Klop die koue met smaaklike sop
Maak jou sop met ‘n lekker vleisbasis (los maar die room) en hande vol groente.

Barbara Joubert

“Ek sê altyd, álmal kan kook. Lees ‘n resep deeglik of vat ’n kans en eksperimenteer ’n bietjie, en gooi sommer alles in een pot. Vir my is dit een van die lekkerste maniere van kook, veral as jy vir baie mense moet kos gee.

“Ek het onlangs vir my oudste dogter se 20ste verjaardag osso bucco (kalfskenkels) in ’n groot pot gemaak. Dis ’n heerlike Italiaanse gereg en perfek vir voorsit wanneer dit koud raak buite. Uie, wortels, seldery en knoffel word eers gebraai. Die skenkels word in meel gerol en dan in ’n ander pot bruin gebraai. Nou pak jy die vleis op die groente en voeg baie witwyn, tamaties en aftreksel by. Daar kom nog geurmiddels by en dan word dit in die oond verder gaar teen ’n lae temperatuur – dit neem seker so 3 uur.

“Dis nou hoe jy in die winter kook. Een pot, min skottelgoed en enigiemand kan dit doen. Geen lang gestaan voor die stoof nie; die kookwerk vind in die oond plaas. Trek jou voorskoot aan en geniet jou gate uit.”

Barbara

Selfsous-sjokoladepoeding Val weg, dis veilig
‘n Soetigheidjie ná die maal bly maar menige man se swak, ook diegene wat ter will van hul gesondheid suiker moet vermy. Hierdie spesiale resepte is geskik vir almal wat na soet smag
Herman Lensing en Markus Färbinger

Ons proe-blog!
Herman: “As jong sjefstudent het ek deel van my opleiding in die Îl de Païn-bakkery op Knysna gedoen – daar waar brood smaak soos op geen ander plek nie. Ek was uit my vel toe hulle my onlangs nooi om weer ‘n slag saam met hulle te kom bak…”

Sjokolade-en-Guinness-koek ‘n Biertjie vir die pot
Bier is nie net lekker in jou glas nie. Met sy komplekse smaak is die drankie die perfekte bestanddeel vir mannekos.
Pete Goffe-Wood MasterChef SA se Pete Goffe-Wood gesels
Ná 27 jaar as sjef, kookskool kommandant, kos-alchemis, -konsultant en -kritikus is Pete Goffe-Wood skielik wyd en syd bekend as die ontsagwekkendste van MasterChef SA se drie beoordelaars – die een wat net so hard bemoedig as wat hy kan blaf en byt.
Herman Lensing

“Daar is iets omtrent mans en gadgets. Ek kan nooit verstaan wát dit is wat ons so aantrek na ’n affêretjie wat, só word ons gewoonlik vertel, alles kan doen nie. Ons glo mos elke nuwe kombuisfieterjasie gaan ons in meestersjef Gordon Ramsay verander.

“Van die perfekte groenteskiller (wat volgens die verpakking duisende soorte groente in ‘n oogknip kan skil) tot ’n uithalerskaal wat kan weeg tot op die kleinste milligram. Sodra ons snuf in die neus kry oor die een of ander nuwe katoeter wat jou die wêreld beloof, ry ons kilometers om dit in die hande te kry. Die kombuislaai is later so vol dat niks meer kan inpas nie.

“Tussen alles raak die waardevolste stuk kombuisgereedskap verlore: ’n goeie mes! Goeie messe is net so belangrik soos jou stoof en potte. Belê in ’n mes van gehalte, want jy hoef dit net een keer te doen. Knyp jou oë toe en bestee die klein bietjie ekstra. Jy sal nooit weer enige ander gadget wil koop nie! Lekker kook uit ons uitgawe propvol kos waarvan ons manne hou.”

Herman

  • Rita

    dis is ‘n pragtige tydskrif ek kan dit glad nie neersit nie. ek moet se die beste broodpoeding lyk voorwaar na ‘n wenner!

  • Alta

    Ag nee, die beste broodpoeding bevat nie eers brood nie maar croissants en soveel botter, room, melk, eiers, suiker, neute, sjokolade en stroop om van siek te word, praat nie eers van vet word nie

  • Jean le Roux

    Graag wil ek vir Barbara Joubert en haar span dankie se vir die geleentheid om te kon deelneem aan die kompetisie. Dit was ‘n voorreg om met haar self te praat. Om as wenner aangewys te word, was ‘n groot verrassing. Aan almal wat die broodpoeding gaan maak: hoop dit sal ‘n heerlike, smaaklike ervaring vir julle almal wees.

  • Marianne Crowe

    Ek het elke Sarie Kos uitgawe. Hierdie is een van die bestes nog. My man het hom ook beetgekry en ons is besig om hom van voor tot agter deur te werk! Heerlike resepte vir die winter. Baie dankie vir nog ‘n wenner!

  • rikky

    Alles lyk heerlik, ook die wenner broodpoeding, maar my frustrasie is, ek kan nie die 2de en 3de prys broodpoeding sien nie, waar gaan ek in, ek het nou ooral op hierdie site probeer ingaan, nerens gee dit jou die opsie om die ander reseppies te sien nie, hoe nou? Sal baie graag wil weet hoe die 2 runner ups se reseppies lyk

  • Helé

    Stem saam met Alta, met alle respek vir die leser wat die wen broodpoeding ingestuur het, maar 2,5 koppies suiker, 1k sjokolade en nog ‘n 0,5 k stroop,agge nee Sarie is dit nie dubbele standaarde nie? Aan die een kant wil julle goeie eet gewoontes aanmoedig in SA Beweeg en aan die ander kant gee julle die resep as ‘n wenner? Met die nuutste diabetiese syfers wat gepubliseer is vind ek die eintlik skokkend! Ek hou ook van ‘n bederf so nou en dan, maar selfs die poeding oortref dit. Dit was ook die geval met die wen Appeltert, al was die sous opsioneel was die tert self baie soet,en dit selfs nadat ek die suiker veminder het. Wil julle nie liewer gesonder weergawes meer aanmoedig nie? Al het julle die seksie van Annerien Vermeulen behoort meer klem op gesonder weergawes geplaas te word. Gesonder kan ook baie lekker wees!

  • Lena

    Vriendin, die broodpoeding is ‘n wenner. Ek het net die stroop so bietjie oor gedrizzel. Dit smelt in jou mond. Dankie dat jy jou resep met ons gedeel het.

  • Jeanetta

    My suster, het die tamatie bladjang gemaak met die resep wat geplaas was in die Junie/Julie 2012 uitgawe. Sy is baie lief vir inmaak/inlê en altyd opsoek na ‘n nuwe resep. Ek het natuurlik ook my botteltjie gekry….. en nie lank gehou nie. Die blatjang is heerlik. Dankie vir ‘n kostydskrif soos SarieKos. Kan nie wag vir die volgende uitgawe. My vriendin hou vir haar seun ‘n 16de verjaarsdag en haar tema, geinspireer deur hierdie uitgawe, ‘n "cowboy" partytjie. Elke kind gaan ook sy eie blikbeker kry waarin sy poeding gebak is. Die inhoud van hierdie uitgawe kon nie op ‘n beter tyd verskyn het nie. Dankie Herman.

  • Jean

    Rikky, die tweede en derde pryswenners se resepte is verkrygbaar. Bo-aan die bladsy is verskillende afdelings, onder andere "Kos". Onder "Kos" is daar weer onder afdelings. "Click" op die linkerkantste "resep" blokkie. Die eerste 2 resepte wat oopmaak is die 2de plek resep – Ninor Courtnage, Edna se broodpoeding en Wilmie Roos se 3de plek resep. Moontlik is dit daar geplaas na jou versoek.