Kosstories

In jou nuutste SARIE KOS (ook vir mans) Junie/Julie 2013

“Dink bietjie eg Suid-Afrikaans: biltong, melktert, koeksisters, sosaties. Braaivleis.

“Ons land sal onherkenbaar wees sonder ’n stukkie wors op die kole wat saam met ’n braaibroodjie geniet word. Of wat vuurwarm binne-in ’n gebotterde rolletjie beland onder ’n lagie tamatie-sheba vir ’n smaaklike boerie. Jy kan maar sê wors, en veral boerewors, is deel van ons DNS – van die dae dat ons voorsate binneland toe getrek het en gemaalde vleis en speserye gemeng het vir hou-kos en uitspankos.

“Die grootste entoesiaste het waarskynlik ’n eie worsresep. Heel moontlik een wat van geslag na geslag oorgedra is, en nie sommer met die wêreld gedeel word nie. Of ten minste het jy ’n slagter (oor waar presies dít is, is jy ook maar vaag) wat, so hou jy vol, presies weet hoe. Het jy nie een van die twee nie, is jy immer naarstiglik aan ’t soeke na die beste wors in die land.

“Ons voorliefde vir hierdie lekkerny was alte duidelik met die uitsaai van ’n onlangse Kokkedoor-episode (’n werklikheid-kookprogram waar onthoukokke en kinkelkokke teen mekaar te staan kom) op kykNET. Selfs die jongste kokke het kennis gehad van ’n “geheime boerewors-resep”, en al die moets en moenies as dit by dié stukkie erfenis kom. Die woorde “as my pa my darem nou kon sien . . . ” sê net dat wors maak in dié land ’n ernstige, selfs emosionele saak is.

“Phyllis Green, wat maandeliks SARIE se Kuberkuier-rubriek skryf, sê Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, se antwoord op die standaard-vraag oor wat hulle die meeste van ons land mis, is deurgaans: regte egte boerewors.

“Dis darem nie al wat ons kan maak as dit by wors kom nie. In dié uitgawe plaas ons tuisgemaakte varkworsies in die kollig – met interessante bestanddele soos kaas en kruie en songedroogde tamaties. Maar as boerewors jou ding is, kyk op bl. 117 waar ons ’n Amerikaanse lekkerny ’n SA kinkel gee – met ’n stukkie boerewors, natuurlik!”

Groete,
Michélle
Redakteur SARIE

“Ons vra onsself dikwels dié vraag: Van watter soort kos hou mans?

“Ek het onlangs agtergekom dit kan iets baie eenvoudigs wees soos ’n doodgewone hamburger. Toe ek my man, Emile, by die hospitaal gaan haal ná ’n knie-operasie, was sy versoek juis ’n tuisgemaakte burger. “Vanaand soek ek iets comforting, maar, asseblief, maak self die patty.”

“Terug by die huis meng ek broodkrummels, beesmaalvleis, gekapte uie, knoffel, eier, pietersielie en, soos Jamie Oliver dit doen, gerasperde parmesaankaas. Die patties word in ’n baie warm riffelpan gebraai en natuurlik kom daar cheddarkaas en gebraaide uie bo-op. Dat iets so sonder fieterjasies ’n man kan help om tot sy operasiepyne te vergeet, beantwoord my vraag: trooskos en vleis is mans se gunsteling. Van burgers gepraat, lees op bl. 34 hoe Norman McFarlane in Amerika ’n studie van dié gewilde soort kitskos gaan doen het. Jy sal nooit raai waar hy die lekkerste een gekry het nie . . .”

Groete,
Barbara Joubert
Kosredakteur SARIE KOS

Teken in op SARIE KOS


In jou nuutste SARIE KOS

2 Gratis resepte vir jou!